ONS IS IN ‘N TUIMELDROM

Prof HG vd Westhuizen
Halfedelgesteentes word glad, blink en bruikbaar geskuur deur growwe materiaal in 'n drom wat gedraai word.

Die drom draai. Ons Afrikanervolk ís in 'n massiewe tuimeldrom. Soos die halfedelgesteentes by verre díe mínderheid in 'n tuimeldrom is, ís ons volk maar 'n klein persentasie tussen die growwe materiaal. Die tientalle miljoene wat saam met ons in die tuimeldrom van die geskíedenis is, kap na ons, vryf ons op, skuur ons blink en kaal. Die revolusie met die gevolglike sogenaamde demokrasie – vol sosialisme en kommunisme – bied omtuimelinge vir miljarde rande se korrupsie. Die Afrikaner wat temidde hiervan nie gebreek en fyngemaal word nie, word blinker, gladder en bruikbaarder vir 'n beskaafde volk van edel inbors.

Die draai van die tuimeldrom word genoem transformasie. Transformasie in die werkplek, in die sosiale lewe, in skole, hospitale, universiteite, sport, kerk, kulture en kultuurvereni-gings. In hierdie transformasie wat onteiening sonder vergoeding insluit, word die growwe materiaal uiteindelik totaal onbruikbare gedegeneneerde massa fynstof, maar die edelgesteentes glinster luisterryk.

Die kerk as 'n menslike gestalte van die liggaam van Christus op aarde, ís noodwendig ook in die tuimeldrom. Gaan die kerk aanpas by die revolusie, by die tuimeling, by die meer-derheid van growwe materiaal om relevant te wees?

Of gaan die kerk vashou in die tuimeldrom aan wat onverganklik is, méér as edelstene? Gaan die kerk deelgenoot bly van die ewige Seun van God, Jesus Christus, as enigste Verlosser uit ons sonde en dood?

Dit hang nie af hoe vinnig of hoe kwaai die tuimeldrom draai nie of wat van die growwe materiaal daarin word nie. Van belang ís alleen of ons skat in die hemel ís. Die twee huise van Matteus 7:24-29 lyk presies dieselfde. So ís ons almal in die tuimeldrom mense wat eenders lyk, volke wat eenders lyk. Maar die wind en stormreën bring aan die lig dat een huis 'n fondament het. Díe tuimeldrom bring aan die lig dat edelgesteentes onverganklik is. 'n Persoon of 'n volk wat 'n edelkern het, 'n fondament het, 'n anker ín Christus het, is ewig. Die storms kan maar woed, die huis bly staan. En die duiwel kan maar ruk en pluk aan die sif (Luk 22).

Wat dr HF Verwoerd op die Nasionale Partykongres van 1964 van 'n volk gesê het, geld grootliks ook vir elke individuele volkgenoot. En dit kry vir die Afrikanervolk en Afrikanervolksgenoot in ons tyd van die tuimeldromkrisis spesiale betekenis. Dr Verwoerd het na die drie vrae verwys in verband met 'n volk se toekoms.

Dit ís die vraag hoe groot 'n volk is – nie wat getalle betref nie maar geestelik gesproke. Hoe groot is 'n volk en 'n volksgenoot se geeskrag. Sien die Afrikaner en die Afrikanervolk homself nog as 'n volk en 'n volksgenoot? Die verwatering van ons volkskap, die ver-platting na blote Afrikaanssprekendes, die verswyging van die noem selfs van Afrikaner in die media maak dat jy 'n vergrootglas nodig het om die grootte van die Afrikaner en -volk waar te neem. Daarmee sal ons nie in die tuimeldrom as 'n edelsteen oorleef nie.

Die tweede vraag is hoe hoog 'n volk en 'n volksgenoot se ideale is. Die hoogte van 'n volk se toekomsideale word medebepaal deur die diepte van sy verlede. Die verlede van die Afrikanervolk met sy heroïese Groot Trek vír vryheid in die samespanning van die bloed van die weerstandige Hollandse Watergeus en die onsterflike Franse Hugenoot, sy oor-lewíngsoorloë teen swart bedreiging op die Oosgrens, Natal, Bloedrivier, Vrystaat en Transvaal, sy bittereinde oorloë vír bestaan en vryheid teen Engelse imperialisme soos ver-gestalt onder andere in die Vryheidsoorloë, sy heropbou op eie stoom onder Godsgenade voor en na Uníewording, op ekonomiese gebied na die Runder Pes, op die vlak van volks-aanwas, na die Spaanse Griep, tydens depressie- en droogtejare, voor en veral na die twee wêreldoorloë, die getemperde strewe en ontstrengeling van eie volksontwikkeling langs die van swart volke – dit alles uit die verlede sing saam op die melodie van toekomsídeaal.

Die derde vraag ís, hoe diep ís 'n volk en volksgenoot se geloof. Die diepte van geloof spreek van die Afrikaner se onontwortelbare diepte van geloofswortels. Die Afrikanervolk is gewortel in die Protestantse of Bybels-Reformatoriese geloof. Toe Jan van Riebeeck sy voet op die Kaapse grond geplaas het, die eerste tree van die geboorte van die Afrikanervolk, het hy op 1654 belowe dat ons die landing en daarmee die vestiging van die volksplanting altyd op 6 April sal gedenk. Die Afrikanervolk ís met die Bybel in die hand gebore. Dit word bevestig deur die plek van die Statebybel ín die wakis tydens die Groot Trek. Dit word ook bevestig deur die gees ín die Gelofte van Bloedrivier.

Die diepte van geloof word gediagnoseer aan die simptome van vertroue in ons Heer, denke oor ons geloof, beoefening van ons oortuiging in kerk, werk, kultuur en sport. 'n Geloof ook in mekaar wat sterker ís as die lewe self, waarvan die adel anderkant hierdie lewe lê, vorm die kwaliteit van die edelsteen in die tuimeldrom.