VADERLAND EN VOLKSTATE

Dié land is ons land

Om nou grense van 'n deeltjie van die land te trek as “ ‘n volkstaat”, is om onmiddellik alle aanspraak op die hele vaderland prys te gee. Daardeur word die Afrikanervolk se patriotiese sin as 'n essensiële bestanddeel van nasionalisme regstreeks ondermyn.

Ons het reeds die beskamende ervaring gehad van die grense van talle "volkstate"wat getrek is tydens die vredesonderhandelings met die ANC-SAKP, en wat niks meer was nie as politieke fopspene waaraan Afrikaners in goedertrou gesuig het, terwyl die politieke uitverkoping voortgegaan het.

Die historiese grondbesetting in Suid-Afrika het grense van swart volke se grondgebiede getrek. Maar daar is 'n grondgebied wat oor geslagte internasionaal erken is as blank Suid-Afrika. Daardie gebied is die land wat ons land is. Dit is deur ons voorgeslagte aan die wildernis ontworstel. Daarvoor is met groot opoffering en smartvolle verliese oorloë geveg. Dit is wat volgens alle volkeregtelike reëls ons land is.

'n Volk se vryheid word herwin deur stryd — soms oor geslagte, soos deur die politieke stryd vanaf 1902 tot 1961. Om nou grense van 'n toekomstige volkstaat te trek, is om in onbesonne oorhaas die kar voor die perde te span. Niks, maar totaal niks nie, kan polities bevorderlik bereik word deur die afgrensing van 'n deel van Suid-Afrika terwyl vir dié aanspraak geen bedingingsmag is nie.

Die toekomstige grense sal waarskynlik met bloed getrek word wanneer die huidige grondwetlike bestel ineenstort. Dit moet ineenstort een of ander tyd, omdat geen grondwetlike bestel soveel uiteenlopende rasse, volke en godsdienste in een parlementêre demokrasie kan akkommodeer nie. Die geskiedenis getuig luid van die tallose mislukkings in dié verband. Mag u gereed en paraat wees wanneer daardie dag aanbreek!

J A Marais