“Media, julle maak julle name stink! As julle dan nie so onnosel is nie om te weet dat “plunder” beteken: “steel, roof...”, dan is julle een honderd persent skuldig aan doelbewuste waninligting!”
Skaars is daar die afgelope Saterdag 29 Augustus op verskeie plekke in die land vreedsame protesoptogte teen plaasmoorde gehou of die volgende plaasmoord op ‘n boer en sy vrou vind Sondag in Natal plaas – asof daar vir die protesteerders gewys word die moordenaars sal hulle nie laat keer nie. Glen Rafferty (63) en sy vrou, Vida (60), en hulle hond, van Normandien naby Newcastle het pas tuisgekom toe hulle by hul voordeur ingewag word en doodgeskiet is. Die moordenaars was wel binne die huis maar is niks geroof nie, selfs kosbaarhede soos duur juwele en skootrekenaars is vanoggend in die huis gevind; die moordenaars het met die Raffertygesin se motor wat later die aand verlate in Ladysmith gevind is, gevlug.
Maar die onreg brei uit. Die grootse motorfietsoptog Saterdag in Kaapstad waar die ryers waarlik net so vreedsaam opgtree het as dié by die Uniegebou in Pretoria, is deur die polisie aangerand en met rubberkoeëls en rookgranate bestook. Die optoggangers wat ‘n petisie by die Parlement wou inhandig is duidelik ingewag met groot polisieblokkades en-afskortings en borde met “NO AFRIKANERS ALLOWED!”
Die mense het nog stilgesit op hulle fietse toe die polisie die voorste motorfietsryer van sy fiets afpluk en hom met sy fiets op die grond neergooi. ‘n Swart polisielid het sy vuurwapen uitgepluk en dit op baie kort afstand op die man afgevuur. Dit was waarskynlik rubberkoeëls want die motorfietsryer agter hom het sy maat kon ophelp voordat ‘n paar polisielede weer op hulle toegesak het. Die eerste skote het nog ‘n swart polisielid die moed gegee om volgende skote na ander motorfietsryers te vuur. Daar is verskeie videos geneem waarvan een te sien is by https://www.youtube.com/watch?v=3dyejvnwCPM .
Wat die onreg nog groter maak is dat 18 van hierdie manne wat op ‘n vreedsame wyse teen plaasmoorde geprotesteer het, in hegtenis geneem is op aanklagte so erg soos poging tot moord, openbare geweld, kwaadwillige saakbeskadiging en oortreding wat verband hou met die Wet op Rampbestuur. Dit is duidelik dat hierdie sameswering teen die protesgangers vooraf beplan is. Hulle verskyn vandag in die plaaslike landdroshof.
Maar die onreg word groter! Soos verwag het die hoofstroommedia vandag geen berig oor die Kaapse optog nie maar het die Uniegebou-optog gedek waar geen swart polisielid homself soos ‘n misdadiger gedra het nie; dit is selfs deur Media24 en TV-nuusbulletins gedek. Dit nadat hulle nuusmanne soos springbokke tussen die motorfietse en die koeëls in Kaapstad rondgehop het! Daar is darem ‘n effense beriggie op Praag hieroor geplaas.
Oor die plaasmoord in Natal het KykNet se nuusleser met die doel om dit na ‘n rooftog te laat klink, gesê die huis is geplunder (wat beteken steel en roof) maar KykNet het die fout gemaak om ook ‘n insetsel van die plaasbestuurder uit te saai wat uitdruklik en twee maal beklemtoon het dat NIKS gesteel is nie, net die motor waarmee gevlug is, wat direk dui ‘n op beplande plaasmoord.
Maar die grootste skande van almal is sekerlik Maroelamedia wat hom voordoen as ‘n Afrikanergoedgesinde nuusplatform. Soos al die voormalige Afrikaanse instansies deur die liberalisme geïnfriltreer is, en daar is ‘n lang ry as mens hulle wil begin noem, is ook Maroelamedia skuldig aan ‘n wanberig oor die Kaapse optog. Volgens hulle was daar glo net 500 betogers in plaas van die duisende wat daaraan deelgeneem het. Hulle lê ook slegs klem op die “skade” wat die betogers aangerig het en die inhegtenisname; niks word genoem van die doel van die optog of die onreg wat hulle aangedoen is nie.
Maroelamedia doen ook soos KykNet deur te laat klink of die plaasmoord in Natal ‘n gewone roofmisdaad was deur klem te lê op die huis wat glo geplunder is.
Media, julle maak julle name stink! As julle dan nie so onnosel is nie om te weet dat “plunder” beteken: “steel, roof...”, dan is julle een honderd persent skuldig aan doelbewuste waninligting!
En so duur die onreg voort!