VERDEEL EN HEERS

Johan Hack

Die ANC met hul kommunistiese metodes het een strategie naamlik “Divide and conquer” of Verdeel en heers deur baie jare suksesvol gebruik, veral onder Afrikaners in hulle kerke. 

Hierdie strategie word ook voluit op die ANC-staatskole toegepas waar kinders nie onder die toesig van ouers is nie en skaamteloos blootgestel word aan breinspoeling. Dis breinspoeling van die bevrydingsteologie en die verdraaing en selfs algehele vervanging van ons Afrikanergeskiedenis, soms nie eers subtiel ingewerk in die liberale leerplanne nie. Selfs sommige Afrikaanse onderwysers doen lustig hieraan mee solank die salarisse in hulle bankrekening verskyn.

So word ons kinders met ‘n skuldgevoel groot wat hulle soos ‘n skaduwee volg sou hulle iets dink of sê wat die moontlike menswaardigheid van ander volke kan afbreek. Dit terwyl blanke Afrikaners se menswaardigheid deur hierdie einste volke nie in ag geneem word nie. Laat ons dit duidelik stel aan almal wat aan die misleiding van ons kinders deel het deur hulle taal, geskiedenis en veral Christelike waardes en normes volgens die ware Woord van God te verdraai: “En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in my glo, laat struikel, dit is beter vir hom as n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.” (Markus 9:42)

Nou kom ons by die volwassenes. O tog, het God nie vir ons ‘n gesonde verstand gegee om ons nie so te laat mislei nie! “En Hy het vir hulle ‘n gelykenis uitgespreek: ’n Blinde kan tog nie ‘n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?” (Lukas 6:39)

Op facebook het ‘n man met die naam Neil de Beer sy boodskap gesirkuleer oor hoe hy die boere sal lei. Hierdie einste man wat opgelei is deur uMkhonto we Sizwe, met ander woorde, iemand wat die strategie van “divide and conquer” al te goed ken en vir meer as 30 jaar lid was van die ANC, dié wil nou Boere kom lei! Daar is selfs mense wat beweer hy kan dalk ‘n volgende de la Rey wees. Regtig ? Hierdie man verklaar dat hy en Mmusi Maimane saam ‘n organisasie gaan stig. Is hierdie nou weer ‘n organisasie wat integrasie voorstaan soos die DA? Dit sal net nog ‘n reënboogorganisie wees om verdere verdeling te bewerkstellig. Kyk ons na ‘n reënboog sien ons eintlik twee waarvan die een dowwer is as die ander, maar onthou, ‘n reënboog bly ‘n reënboog en die sprokie van die pot goud aan die einde daarvan is steeds net ‘n sprokie.

Laat ons weer gaan lees wat Ds van den Berg op 29 Augustus hier op Gelofteland geskryf het oor die eienskappe van ‘n goeie volksleier in sy artikel Vereistes vir Christelike Volksleierskap. Ons sal deur die Heilige Gees gelei word om te weet wanneer ons ware leier, deur God aangestel, sy verskyning sal maak.

Emosies is deel van ons menswees, maar laat ons eerder deur ons gesonde verstand na die wêreld om ons kyk en nie aan ons neuse rondgelei word deur wipplank-emosies nie. Sodoende sal ons ‘n hegte band skep met eendersdenkende volksgenote vorm sodat ons nie in die heers en deel-slagyster trap nie.