NIEMAND KAN GOD KEER NIE

Op hierdie 2e dag van die nuwe jaar begin die werklikheid van nog 'n jaar in ons vassteek en ons wonder wat die jaar vir ons gaan inhou. Nie net word ons vertrap onder die hiel van 'n heidense regering nie maar is talle van ons volkome bewus van die sataniese aanslag wat die Geldmag op die wêreld se bevolking loods. Baie van ons weet wat daar beplan word om ons met die sogenaamde inenting volkome onder satan se beheer te stel sodat ons selfs ons ewige lewe kwyt moet wees. Maar:

God laat sy kinders nooit in die steek nie.  Ten spyte van hul afvalligheid staan Hy by hulle.  Wanneer die nag op sy donkerste is, gryp Hy in en maak dit lig. “Maar julle is ʼn uitverkore geslag, ʼn koninklike priesterdom, ʼn heilige volk, ʼn volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9).

Ons volk se toekoms lyk donker.   Heidenpolitiek oorstroom al hoe meer ons eens rustige samelewingsterrein.  Afgodsdienaars wedywer met mekaar in die afwaartse spiraal van ellende.   Daar is onweer in die lug.   Doemprofete voorspel lelike dinge vir die toekoms.   Soms voel ons soos skape wat deur wolwe op ʼn hoop gejaag word, diere wie se bekke vir die groot slagting kwyl.

Nog een van die groot bekommernisse onder volksgenote is dat ons nie leiers het nie.   Mense wat hul as leiers voorgedoen het, het ons of verraai of hakskene gewys toe die poppe begin dans.   Ons het ʼn bitter slegte ding oorgekom!  Maar laat ons eerlik wees - ons het ʼn belangrike les geleer:  Moet op prinse nie vertrou nie!   Ons het geglo dat mense - politici en kerkleiers - ons uit die penarie sou red.   Toe gebeur die teenoorgestelde.  En dit het ons vryheid gekos.

Is dit klaar met Kees?  Gaan satan die laaste lag?  Nee, om die eer van God nooit!   God sal op sy tyd die werk van sy hande herbevestig en uit hierdie verloopte volk weer volksleiers na vore laat kom wat, soos die rigters van ouds, hierdie volk na God sal teruglei!

Wat kan ons die Here intussen aanbied?  Hét ons iets om Hom aan te bied?  Niks nie; slegs die dor hout van ons krom en afvallige lewens.  Maar in sy hand word sulke uitskotprodukte meesterstukke en met die dor kierie van ons volkslewe kan Hy vir ons ʼn pad in die see van wanhoop oopkloof en ons na vryheid lei.

As die nood op sy hoogste is, gaan God vir ons die nodige leiers stuur - manne en vrou wie se harte in die bloed van Jesus gewas is.  God sal hulle met ʼn heilige roeping begeester om hierdie volk aan die suidpunt van Afrika na Hom toe te laat terugkeer en hulle van die heidendom en satan se aanvalle te verlos.   En geen mag ter wêreld gaan Hom keer nie!