AFRIKANERVOLK, VAN WÁÁR; EN WAARHEEN?

Wat het geword van die Afrikaner se volksbewussyn? Is ons weer terug by die kwelvraag wat vader Kestell byna ‘n eeu gelede opgehaal het, toe hy opgemerk het hoe die Afirkanerkind al hoe verder van sy volk se kultuur en geskiedenis gedryf is? Wat staan die Afrikaner te doen om weer die nasionalistiese volksbewussyn by die volgende geslag wakker te maak of op te skerp?

Mnr. Christi Hough gee meer perspektief hieroor in hierdie artikel.

Psalm 127 - “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.”

Wie is die Boere-Afrikanervolk --algemeen verwys na as die Afrikanervolk? Dis 'n blanke bevolkingsgroep aan die suidpunt van Afrika wat saamgesnoer word deur hul:

* Protestantse Christelike geloof in een ware Drie-enige God

* Liefdevolle instandhouding van hul taal --Afrikaans

* Eendragtige nasionalistiese vryheidstrewe na 'n eie Vaderland

Sowat 'n eeu gelede het vader JD Kestell die volgende stelling en vraag in sy "kort geskiedverhaal"-publikasie Die Voortrekkers neergeskryf: "Vele Afrikaners weet weinig van hulle eie geskiedenis. Is dit omdat dit iets is wat hulle tot oneer strek?"

Die stelling en die vraag kan gepas ook vandag gestel en gevra word en die antwoord is presies dieselfde soos wat Kestell dit bewoord het in die einste uitgawe:

"Nee! Hulle het nie beter op hoogte kon gewees het nie. Hulle onkunde te wijt aan 'n stelsel van onderwijs, wat duidelik die doel gehad het om die Afrikaner los te maak van sij verlede, en also sij bewussijn en sij inidividualiteit uit te wis. Dié stelsel van onderwys was so ingerig, dat die Afrikaanse kind die geskiedenis van sij eie volk nie moes leer nie -- hy moes onderwijs ontvang in die van 'n ander nasie. Hij moes voor alle dinge goed onder die indruk kom van die mag van die luisterrijke geskiedenis van die Engelse volk. En die gevolg het ook nie uitgeblij nie. Die kinders van Suid-Afrika het die geskiedenis van Engeland tamelik goed geken. Hulle kon die name opsê van al die konings van Engeland, en die datums gee van al die voornaamste gebeurtenisse in verband met die geskiedenis van dié land. Maar hulle het nooit gehoor nie van Jan van Riebeek en Simon van der Stel; en hulle het maar die flouwste idee gehad van wie Piet Retief en Potgieter en Andries Pretorius was. Gelukkig het daar 'n ander dag aangebreek."

Inderdaad "het nou weer so 'n dag aangebreek". Soos die Afrikaner byna 'n eeu gelede voor 'n kruispad gestaan het ten opsigte vanwaar en wie hy is, so staan ons vandag weer by die einste kruispad. Weereens word ons en ons kinders in 'n stelsel gedwing waar ons van ons verlede, ons bewussyn en individualiteit moet vervreem.

Dié aanslag is egter nou feller as ooit, aangesien die Imperiale Engelse regering 'n eeu gelede hoofsaaklik moes staatmaak op die onderwysstelsel om hul doktrine af te dwing. Vandag se aanslag word gevoer op soveel terreine, synde die tegnologie sedertdien soveel ontwikkel het --een magtige en moderne onderwysstelsel, televisie, internet, ens.

Ons kultuur en geskiedenis word "dood geswyg" en vervang met onverwante en volksvreemde doktrine. Oral oor word uitgebasuin --sou daar enige verwysing vandag wees na die Afrikaner se geskiedenis -- hoe die geskiedenis ons volk tot oneer sou strek.

Die bou en instandhouding van die Afrikaner se huis word inderdaad nie meer opgedra aan God nie.

Daar is egter, soos 'n eeu gelede, weereens 'n ontwaking onder Afrikaner geledere in terme van Afrikanernasionalisme wat so onderskat is deur vele vroeëre onderdrukkers.

Die volgende aanhaling uit JD Kestell se Die Voortrekkers verwys: "Maar wat bepaald genoem moet word als oorsaak van die ontwaking van onse nasionale selfbewussijn is die beoefening van onse eie taal. In die begin het ons taal gestoei om te oorleef, soos 'n swakke kind in 'n ongesonde omgewing. Onse taal moes in die begin strij teen vriend, sowel als vijand. Toe hij begin te praat als ‘Patriot’ en ‘Ons Klijntjie’ het dit vir vele gelijk alsof sij spraak onbeskaaf was. Maar dit was nie onbeskaafde taal nie, dit was kindertaal. Jare het voorbijgegaan; en toe klink onse spraak anders in die monde van Jan Celliers, en Totius, en Malherbe en Leipoldt. Ons luister en ons word ontroer. Ons hoor dat hier die taal is van onse siel -- onse eie siel. 'n Nuwe geboorte is daar. Die volksbewussijn is ontwaak. So het dit gekom, dat onse taal die sterkste faktor in die ontwaking van onse individualiteit is geword. Hierdie dinge het dan algaar meegewerk om ons te doen vra wat ons eiëntlik is; maar nie alleen wat ons is nie, maar ook waar ons vandaan kom? Die belangstelling in onse geskiedenis was gewek!"

Inderdaad beleef ons vandag weereens "Die volksbewussijn is ontwaak". Sou ons die ontwakende volksbewussyn, die soeke na wat ons eintlik is en waar ons vandaan kom ondersoek, sal ons 'n deurlopende volkskaraktereienskap van die Afrikaner bemerk wat 'n eeu gelede ingebore was en vandag nog integraal die Afrikaner is.

Dit is die Afrikaner se nederige erkentlikheid en geloof in die genade van God Drie-enig ten opsigte van die beskikking van die lot van die Afrikanervolk -- laat God, deur sy volmaakte wil, die Afrikaner se huis bou.

Met dit as basis vorm die Boere-Afrikaner se geloof, taal, geskiedenis, eendragtige nasionale bewussyn en vryheidstrewe sy kultuur en unieke aard.

Die Afrikanerkultuur -- synde bestaande uit drie pilare naamlik Christelike geloof, taal en geskiedenis -- is op alle terreine uit die hedendaagse bestel verwyder, selfs herskryf en word verswyg ten einde die Afrikaner identiteitloos en karakterloos te laat.

'n Klein groepie Afrikaners weier egter om toe te gee aan hierdie misvorming van sy wese en het 'n paar tuistes geskep vir die behoudendes onder die volk.

Histories het die Afrikanerkerke 'n integrale rol gespeel in die herdenking van spesifieke gebeurtenisse in die geskiedenis van die Afrikaner, synde hierdie gebeurtenisse deurgaans God al die eer gegee het vir die uitkoms van 'n spesifieke gebeurtenis. Die kerk het erkentlik die Hand geëer wat die Afrikaner se huis bou.

Vanmelewe is herdenkingsdae soos Krugerdag en Stigtingsdag met trots aangedui op ons kerkkalenders. Heldedae is herdenk tot eer van God en nie tot verheerliking van enige betrokke persoon of held nie.

Die helde se openlike getuienis van God se genade en beskerming is erken en sodoende is 'n nasionale trots ontwikkel wat gebaseer is op die Afrikanervolk se erkenning van sy afhanklikheid van God en nie van mense nie.

Die aard van herdenkingsdae was dus aangebied in die vorm van groot volksaamtrekke waartydens die betrokke held(e) se getuienis(se) voorgehou is, Psalms en Gesange is gesing as lofprysing, uit die Bybel is gelees en daar is gebid om die voortsetting van God se genade en beskerming.

Die dag is dus gewy aan God en nie aan enige persoon of persone nie. Herdenkingsdae is nie gebruik om die Afrikanervolk of enige persoon te verhef teenoor enige ander volk of individue nie.

Hierdie herdenkingsaamtrekke is vroeër geadverteer in die nasionale media. Die betrokke dae was op nasionale-, korporatiewe- en kerkkalenders aangebring.

Met tyd het dinge egter verander. Oor die afgelope twintig jaar is daar vir die Afrikaner donkie-ore aangesit, wat hom laat twyfel het aan homself en skaam gemaak het vir sy verlede.

Tans word die Afrikanervolk se geskiedenis doodgeswyg en slegs 'n paar Afrikaners herdenk en oordink sy geskiedenis met trots in die privaatheid van hul huise. Die wyer Afrikanergemeenskap word glad nie meer blootgestel of herinner aan sy herkoms of verlede nie.

Die gevolg is dat die Afrikaner onder andere nie meer sy geloftes aan God nakom nie. Die Afrikaner gee nie meer erkenning aan die groot weldade wat God in sy geskiedenis gewil het nie.

Onder andere is selfs die Afrikaner se Bybel herskryf -- onder die dekmantel van die "nuwe vertaling" -- ten einde die Afrikaner anders te laat dink en voel oor homself, sy geskiedenis, sy verhouding met sy medemens en as uiterste ten opsigte van sy verhouding met God.

Die Afrikaner word gedwing en gekondisioneer om in 'n nuwe wêreldorde, wêreldse dinge te vereer en op te hef soos: deelname aan ander volkere en groeperings se oorwinnings en mense-vereringsfeeste met die herdenking van Vryheidsdag, Jeugdag, Vrouedag, Versoeningsdag, ens. waartydens die mens se vermoëns en prestasies verheerlik word en God geïgnoreer word.

Die hartseer is dat die meerderheid Afrikaners dit so aanvaar. Die Afrikaner word identiteit- en karakterloos en word deel van 'n mensemassa wat homself verheerlik en God verloon.

Slegs deur die aktiewe betrokkenheid van die APK, CVO-skole en ander "laaste vestings" by Afrikaners se volksherdenkingsgeleenthede kan ons verseker dat ons volksbewussyn nog sluimer, nog slaap, nog ontwaak, maar eerder wakker, lewend, groeiend en ontwikkelend voortstu.

Hierdie betrokkenheid behoort die Afrikaner in staat te stel om met trots, waardigheid en eer, maar tog in nederigheid, weereens erkenning te gee aan sy geskiedenis. Soos wat "Onse taal in die begin moes strij teen vriend, sowel als vijand" so sal ons ook vind dat vriend en vyand teen hierdie poging gaan stry -- elk met sy of haar persoonlike motivering.

Ons moet egter nie toelaat dat dit ons van stryk laat bring nie. Ons is dit aan onsself, ons nageslag, maar meer as alles is ons dit in nederige erkentlikheid aan God Drie-enig verskuldig, synde God in sy genade en almag beskik oor die lot van volkere en nasies -- aan Hom al die eer vir die geskiedenis van die Afrikaner; aan Hom al die eer vir die bou van die Afrikaner se huis!

Komdt. Jopie Fourie is op Sondag, 20 Desember 1914, voor 'n vuurpeleton om die lewe gebring. Die aand voor sy teregstelling het hy die volgende pleitbrief aan sy volk geskryf: "Wees getrouw aan uw Volk, aan uw tradities, aan uw Godsdiens en aan uw God. De Here zal u leiden en u de weg wijzen waarheen gij moet gaan," en "Wees getrouw tot de dood. Wees getrouw aan uw tradities, aan uw volk, aan uw taal. God zij met u allen tot wij wederzien."

Christi Hough.

Met dank aan die ANB