Jeanette Koekemoer
Reeks by NP-Verraad - Ons volk vandag
STEMWERWING, TWIS EN KOPPETELLERY
"Daarna het 'n lang tyd verloop voordat die 1982-skeuring, wat verskil het van die voriges, plaasgevind het met natuurlik as aanloop die 1969-uitstap van bittereinders soos Albert Hertzog, Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stofberg."
Selfs sommige behoudende Afrikaners wonder vandag nog waar presies ons eietydse volkstryd tot oorlewing begin het. Die Nasionale Party het dan onder dr HF Verwoerd gegroei tot 'n eendragtige regering wat die volk laat herrys het uit die vorige asse wat ons volksvyande gelaat het. Ons hele land was van veral die vyftigerjare in 'n duidelik opwaartse ekonomies en politieke groeifase waarin die latere verraad, twis en vernietiging in en vanuit regeringsweë nie soseer te wagte was nie. Die vernietigingsplanne van ons vyande was ook nie aanvanklik vir almal duidelik nie en baie van die aanslae se besonderhede het maar eers heelwat later tot volksgenote deurgedring.
Die feit dat dr Verwoerd vermoor moes word om die tafel in gereedheid te bring vir magsoorgawe het nie op daardie tydstip tot almal deurgedring nie. Vandag weet heelwat meer Afrikaners en ook ander landsgenote dat die heersende misdaad en huidige poging tot blanke uitwissing in Suid-Afrika nie toeval is nie maar jare se beplanning van ons internasionale vyande geverg het deur verraad en twis binne ons volksorganisasies te bewerk, en grootliks deur middel van die beginsel van 'Verdeel en Heers.' Daarom is die volk vandag in hierdie ellendige toestand in Suid-Afrika.
Ons gaan in 'n paar aflewerings na meer besonderhede kyk na die pad van verdeeldheid tot verknegting wat ons volk moes stap vanaf 1966.
As daar ooit 'n tyd in die bestaan van die Nasionale Party was waar die verraad, twis en noodwendige skeuring op sy duidelikste vir die publiek was, kan ons 1982 gemaklik uitsonder in die tyd toe PW Botha as opvolger van Vorster as premier gekies sou word.
Natuurlik was daar talle ander kere in ons geskiedenis toe twis ook skeuring gebring het byvoorbeeld die skeuring in 1912 ná die beroemde De Wildt-toespraak van genl JBM Hertzog met die standpunt "Suid-Afrika eerste".
So was daar ook groot skade en skeuring ná die Samesmelting toe dr DF Malan se Gesuiwerde Nasionale Party in 1934 in opposisie met 19 LV's gegaan het.
Net so bittere stryd het teen regse Afrikaner-ekstremisme wat in die Ossewa-Brandwag, die Nuwe Orde en die Grys Hemde (veral omdat hulle groot bewondering vir die Nasionaal-Sosialisme van Hitler gekoester het) gewoed.
Daarna het 'n lang tyd verloop voordat die 1982-skeuring, wat verskil het van die voriges, plaasgevind het met natuurlik as aanloop die 1969-uitstap van bittereinders soos Albert Hertzog, Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stofberg.
Natuurlik is hierdie skeuring reeds met basuingeskal ingelui deur die moord op dr HF Verwoerd op 6 September 1966 en die vinnige inhuldiging van John Vorster net daarna (Vorster, die man wat ook onthou word vir die leuen wat hy tydens sy inhuldigingstoespraak verkondig het dat sy 'pad as leier van die NP die pad sou wees van dr Verwoerd').
Daar bestaan nie twyfel dat Vorster se vooraf beplande aanstelling as Eerste Minister deel van 'n geheime beplanning was nie. Daarvoor was daar genoeg 'toevallighede' voor en tydens sy verkiesing. En kwalik drie jaar later was sy taak afgehandel en het die verbrokkeling van die NP in Oktober 1969 meer sigbaar begin geword toe dr Albert Hertzog, mnre Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stofberg as onverbiddelike nasionaliste nie langer in die NP kon aanbly nie en die HNP nog in dieselfde maand gestig het.
Daarná in 1982, het die grootste skeuring in 50 jaar in die Nasionale Party plaasgevind, dié van die Treurnicht-groep. Ondergrawing, geheime vergaderings en kapingsaksies was aan die orde van die dag. Verborge diepliggende redes was hiervoor verantwoordelik. 'Hervorming' ter wille van die internasionale geldmag en sy seekatarm-organisasies was in volle gang. Die realiste en die fundamentaliste word in prof Willie Esterhuyse se boek, 'Die Pad van Hervorming', as die twee hoofbotsende partye in hierdie stryd aangewys. Die omskrywing van 'realiste' en 'fundamentaliste' was slegs 'n ander benaming vir 'verligtes' en 'verkramptes', juis omdat verraaiers soos FW de Klerk lank voor hierdie ontstuimige tyd met breinspoeling begin het deur van 'verligtes' as 'n pool tussen "reaksionêres" en "integrasioniste" begin praat het, en die 'verkramptes' voortdurend in 'n negatiewe lig gestel het. Met verloop van tyd het hierdie kondisionerende woorde by die publiek ingesink wat die waters vir die vyand minder onstuimig gemaak het sódat die skip van swart kommunistiese oorgawe te water gelaat kon word.
Die 'fundamentaliste' was natuurlik die behoudende groep Afrikaners wat vasgehou het aan die nasionalistiese siening van blanke selfbeskikkingsreg en afsonderlike ontwikkeling vir alle volke in die land. Esterhuyse was nie die behoudende nasionaliste goedgesind nie as mens moet oordeel na sy afkerige verwysings van hierdie groep se "onvermoë" vir meer as een saak. Daarteenoor het hy die sogenaamde "nuwe denkwyse" onder die realiste baie hoog aangeskryf. Ek wonder wat sy antwoord vandag sou wees as ons hom in 2011 met 'n in-die-oë-vraag kon konfronteer oor die wonderlike "realisme" wat hy voorgestaan het en juis dít ons nou aan die ergste vorm van misdaad, volksmoord en satan se gesante uitgelewer het – veral aan die hand van sy stelling: "...as die fundamentaliste die oorhand in die wit politiek sou kry, daar net een pad sou wees waarlangs dinge in Suid-Afrika sou verloop: toenemende konfrontasie". Nou ja, sou konfrontasie van daardie aard nie beter wees as die verkragtings en vermoording wat ons vandag beleef nie?
Die skeuring in 1982 het uitdrukking gevind in veral twee leiers wat in die brandpunt gestaan het: die Eerste Minister, PW Botha, en die Transvaalse NP-leier, dr AP Treurnicht. Botha het redelike ervaring gehad toe hy by Vorster oorgeneem het maar uit die veeleisendheid van die Suid-Afrikaanse politiek kon sy soort leierskap nie die saak red nie. Daar is genoeg rede om te glo dat hy nie goeie begrip gehad het van wie en wat presies agter die verdeeldheidspogings gestaan het nie, tog was hy 'n gedugte teenstander en het vir niemand gestuit nie. Vir meer as drie jaar het struwelinge, intriges en ondergrawingsaksies voortgeduur voordat die verskille openlik op die spitsgedryf is.
Natuurlik het die 'kroonprins' van die Nasionale Party, dr Connie Mulder, wat deur die Inligtingskandaal onttroon is, en steeds gehoop het hy sou Eerste Minister word in plaas van PW Botha, nie 'n onbeduidende rol in hierdie hele ondergrawery gespeel nie.
Mulder se ondersteuners het nie stilgesit nie. Onder aanvoering van Tonie van Tonder, toe LV vir Germiston-distrik, is begin om stemme vir Mulder te werf. Twee van die mees uitgesproke Mulder-manne was SP Barnard van Langlaagte en Koos van der Merwe van Jeppe. Verskeie Transvaalse ministers, onder ander Fanie Botha, Piet Koornhof en Hendrik Schoeman, het hierdie verwikkeling fyn dopgehou veral omdat die koppetellery so aan die orde van die dag was selfs nog voordat Vorster sy uittrede amptelik aangekondig het.
Alwyn Schlebusch en Louwrens Muller en 'n paar ander was sterk ten gunste daarvan dat Mulder in belang van partyeenheid vir PW Botha moet terugstaan. Vier dae voor die leiersverkiesing het Schlebusch vir Mulder gekonfronteer en saam met minister Chris Heunis aan hom gesê dat hy liewer moet terugstaan.
Terwyl dié drama hom agter die skerms afgespeel het, het 'n interessante tussenspel op die NP se Transvaalse Kongres van 14 September plaasgevind. In sy hoedanigheid as Minister van Inligting het dr Mulder op verskeie mosies oor Inligting moes antwoord. Hy het onder meer gesê hy het geen skuldige gewete oor die Departement van Inligting nie, hy het slegs Suid-Afrika gedien en volgens hom sou hy so voortgaan. Toe kom hy met die woorde wat later in sy gesig sou ontplof: "Die lawaai oor die Departement van Inligting was net 'n storm in 'n glas water" !
Te midde van stemwerwing en woelinge het die kongres verdaag en die volgende dag op 15 September, het Noordelike koerante berig dat 'n koppetellery op die Transvaalse Kongres aan die gang was. Natuurlik het ander koerante gevolg en algou het die hele land begin gis oor 'n moontlike premiersverkiesing.
In hierdie stadium het die Kaaplanders besef dat hulle nie langer kon wag om die partymasjien in rat te kry vir die veldtog om PW Botha verkies te kry nie. Aan die spits was Pen Kotzé, LV vir Parow, sen Koot van Staden, Alex van Breda, LV vir Tygervallei, sen Hein Basson, Kreppies Niemann, LV vir Kimberley-suid, sen Willem Dempsey en Wouter Kritzinger. Jood Henning en Nak van der Merwe het in ander provinsies die stryd hiermee help stry met die sterk steun van Kaaplandse ministers soos Louwrens Muller en Chris Heunis.
Op 18 September het Vorster van Kaapstad na Pretoria gevlieg. Kritieke besluite oor Suidwes en sy eie toekomsplanne sou hoog op die sakelys van 'n belangrike vergadering wees. Honderde joernaliste van oor die wêreld het die volgende oggend by die Uniegebou opgedaag. In die middagsitting waar Vorster sy kollegas meegedeel het dat hy die premierskap gaan neerlê is hy gevra om dit te oorweeg om die vakante pos as Staatspresident ná Nic Diedericks se afsterwe te aanvaar.
Op 20 September het Vorster 'n groot internasionale perskonferensie in die Uniegebou toegespreek. Daar het hy die aankondiging van sy bedanking as premier gedoen asook dat hy hom as Staatspresident beskikbaar stel. Hierop het Fanie Botha 'n kort mediaverklaring uitgereik in dié woorde: "Ek het gehoop mnr Vorster sou voortgaan as Eerste Minister. Ek is spyt dat hy die leierskap neerlê. Ek is van verskeie kante genader om my beskikbaar te stel vir die premierskap. Omdat ek dit in die hoogste belang van Suid-Afrika ag dat daar in hierdie tyd die grootste moontlike eenheid sal wees, het ek besluit om nie kandidaat te wees nie."
Onderliggend aan Fanie Botha se besluit was dit wyd bekend dat hy nie sou kon wen nie. Hierna het Fanie en sy paar ondersteuners hulle heelhartig agter PW ingewerp, behalwe enkeles soos Barend du Plessis en dr Paul Bodenstein wat hulle na Pik Botha gewend het.
Met Vorster se amptelike aankondiging oor sy uittrede as Eerste Minister en beskikbaarheid as Staatspresident, is die hele voorafgaande magstryd openbaar gemaak. En die volgende agt dae het die stryd alle ander nuusgebeurtenisse in Suid-Afrika oorheers.
Vervolg... (2)