Jeanette Koekemoer
Reeks by NP-Verraad - Ons volk vandag
VORSTER SE OPVOLGER AS EERSTE MINISTER
Op Donderdag, 28 September sou 172 koukuslede van die Nasionale Party 'n nuwe hoofleier aanwys wat op grond van die meerderheid wat die Nasionale Party in die Parlement gehad het, Suid-Afrika se agtste Eerste Minister sou word.
Drie kandidate was nog in die veld. In Die Burger is PW Botha aangehaal dat sy verhouding met albei sy kollegas deurentyd van die beste was en dat hy hoop die poging vir 'n verenigde Suid-Afrika ook ná die verkiesing sou voorgaan.
Dr Connie Mulder het ondermeer gesê hy glo die demokratiese weg moet gevolg word en dat 'n stemming moet plaasvind. "Party-eenheid sal op geen wyse geskaad word nie omdat ons al drie onderneem het om ons by die besluit van die koukus neer te lê."
Pik Botha, die derde kandidaat, se kommentaar was: "Wat ookal gebeur, die vriendskap en lojaliteit van die kollegas wat my kandidatuur steun, het my lewe verryk. Ek sal dit nooit vergeet nie."
Kort voor die aanvang van die koukusvergadering het Alf Ries en sy kollega Freek Swart van Beeld na PW Botha se kantoor in die Hendrik Verwoerdgebou regoor die Parlement gestap. PW was rustig en het met ooruiging vertel hy glo hy sal wen.
Dit was 'n lang en spanningsvolle wag voor die Parlementsgebou waar duisende mense saamgedrom het. Volgens Beeld: "Drie uur en vyf minute nadat die Nasionale Party se koukus in die Parlementsgebou byeengekom en tergend lank gestem het, het mev Elize Botha deur die groot deure van die Senaatsaal gestap gekom en voor die Senaatstrap tussen haar twee dogters gaan staan. Toe weet die skare die volgende Eerste Minister van Suid-Afrika is mnr PW Botha."
'n Deel van die skare, veral die jonges, het begin dreun-sing: "We want Pik!" maar weldra het luide toejuiging vir die verkose man opgeklink. Dit het later bekend geraak dat daar twee keer gestem is. In die eerste rondte het PW 78 stemme gekry – 'n aanduiding dat hy uit al vier die provinsies steun gekry het; dr Mulder 72 en Pik 22. PW Botha het nege stemme vir 'n volstrekte meerderheid kortgekom. Toe is daar tussen hom Mulder gestem. PW het 98 stemme en Mulder 74 gekry. Op twee na het al Pik Botha se ondersteuners hulle in die beslissende rondte by PW geskaar. PW is deur Louwrens Muller voorgestel en deur Schlebusch gesekondeer.
Connie Mulder en sy ondersteuners was verslae. Ondanks die skaduwee wat die ontvouende Inligtingskandaal op Mulder gewerp het was hulle optimisties dat hy sou wen. Van sy vurigste aanhangers het selfs gemeen dat hy 'n volstrekte meerderheid sou behaal.
Die meeste van die Jong Turke, soos hulle bekend gestaan het, wat Pik Botha gesteun het, het die middag en aand in sy hotel saamgetrek. Hoewel teleurgesteld het daar tog 'n atmosfeer van opgewondeheid onder hulle geheers. Later het enkele van die Pik-manne saam met hom, sy vrou en sy private sekretaris na die restaurant Black Angus in Seepunt gegaan.
Vir PW was hierdie 'n dag van die grootste triomf in sy lang politieke loopbaan, vir Mulder die begin van die einde, en vir Pik die aanvang van 'n era waarin sy groep as sodanig verdwyn en heeltemal in die PW-front opgeneem is.
3. Andries Treurnicht word leier... vervolg