Jeanette Koekemoer
Reeks by NP-Verraad - Ons volk vandag
TREURNICHT WORD TRANSVAALSE LEIER VAN DIE NP
PW Botha het in sy tyd as Eerste Minister heelwat opsienbarende besluite geneem, soos ook die grootste Kabinetskommelings in die land se geskiedenis. Die Kabinet is op 20 Augustus 1980 tot twintig lede vergroot. Van die ses nuwe ministers is drie manne van "buite die politiek" ingebring: genl Magnus Malan, Weersmagshoof as Minister van Verdediging; dr Gerrit Viljoen, oudrektor van die Randse Afrikaanse Universiteit as Minister van Nasionale Opvoeding; en dr Dawie de Villiers, ambassadeur in Londen as Minister van Nywerheidswese.
Ná PW se vierde hersamestelling van die Kabinet moes daar vergoed word vir die eerste twee (wat kort na Vorster se uittrede gevolg het) se tekort aan 'n plekkie vir adjunk-minister Andries Treurnicht. Tien dae ná hierdie Kabinetsverandering is dr Treurnicht verkies tot Transvaalse leier van die Nasionale Party. Eensklap was daar 'n splinternuwe faktor in die politiek van Transvaal ... en van Suid-Afrika...
Treurnicht se verkiesing was die regstreekse gevolg van die ondergang van Connie Mulder. Mulder se bedanking uit die Kabinet en ook enkele dae later as Transvaalse leier, het die pad vir Treurnicht gebaan om hoogtes binne die Nasionale Party se magstruktuur te bereik wat in gewone omstandighede nie moontlik sou wees nie.
Die stryd om die Transvaalse leierskap sou hierdie keer egter nie sonder intense drama plaasvind nie. Die littekens was so diep dat dit nie eers met dr Treurnicht se uittog uit die NP sowat drie jaar later uitgewis kon word nie.
Die voorspel tot Treurnicht se verkiesing was die nederlaag wat Mulder op 28 September 1978 in die premiersverkiesing teen PW Botha gely het. Na buite het Mulder die teleurstelling so goed as moontlik verberg en Transvaal se volle steun aan PW belowe. Een van sy vrome aanbevelings was dat PW die verhouding met Kleurlinge en Indiërs sal moet ontwikkel. Ironies dat toe PW later juis met hierdie taak besig was heelparty van Mulder se eertydse ondersteuners dié saak as strydpunt sou aangryp om van die NP weg te skeur.
Mulder se positiewe gesindheid teen PW sou nie lank duur nie. Binne maande het PW, Mulder se optrede as 'n "wraakveldtog" bestempel. Mulder het selfs eenmaal die uitlating gemaak dat "God soms ook 'n volk met sy leiers straf", waaroor hy skerp veroordeel is en baie teen hom gedraai het.
Daar was redes vir Mulder se ommeswaai. Die skandaal rondom sy Inligtingsdepartement het 'n nagmerrie geword en hy was in 'n politieke woestyn, eensaam en verbitterd. Die volle geweld van die skandaal het hom op 2 November 1978 getref toe regter Anton Mosterd die getuienis uitgereik het wat voor sy kommissie van ondersoek na valuta-oortredings afgelê is. Hierdie sensasiewekkende getuienis het gedui op grootskaalse ongerymdhede met die aanwending van geheime fondse deur die voormalige Department van Inligting. Die land was geskok deur die omvang van die skandaal, een van die grootstes in die geskiedenis van blanke bewind – deesdae natuurlik 'n druppel in vergelyking met wat binne die swart kommunistiese regime kook waar dr Connie Mulder se seun, dr Pieter Mulder deesdae as Adjunk-minister vir Landbou optree. Of is dit oortree...
Op 7 November het die Kabinet in Pretoria vergader. Uit verklarings het dit geblyk dat Connie Mulder volle geleentheid gegee was om sy saak te stel. Toe moes elke minister sê of Mulder in die Kabinet kon aanbly of nie. Maar niemand, nie eers sy grootste ondersteuners van tevore het gemeen dat hy as minister kon voortgaan nie. Dit was die einde. Die volgende oggend is Mulder se bedanking uit die Kabinet onder banieropskrifte in koerante aangekondig. Hy was die laaste van die sleutelfigure in die ou Departement van Inligting wat die prys moes betaal. Dr Eschel Rhoodie, Sekretaris van Inligting, en sy twee adjunkte, dr Deneys Rhoodie en mnr Les de Villiers, se verbintenisse met hul ou departement was reeds verbreek.
Mulder se bedanking soos in 'n verklaring het so gelui: "Ten einde die Eerste Minister, mnr PW Botha te help om die aanslag teen die Nasionale Party, die Regering en die land af te slaan, het ek besluit om as Minister van Plurale Betrekkinge en Ontwikkeling te bedank.
"Ek is oortuig van my onskuld en daarom is ek steeds bereid om voor die Erasmus-kommissie te getuig om my eerbaarheid en integriteit bo alle verdenking te bewys. Ek het geen sielewroeging oor die hele aangeleentheid nie omdat ek alles wat ek gedoen het, gedoen het in die oortuiging dat ek my land ten beste daardeur dien.
"Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om dit nadruklik te stel dat die Eerste Minister, mnr PW Botha, hierdie aangeleentheid met die grootste waardigheid, korrektheid, eerbaarheid en ordentlikheid teenoor my gehanteer het. Ek het steeds die hoogste agting vir hom. Ek sal hom bly steun in belang van Suid-Afrika en ons almal, en hoop om nog my eie bydrae op my eie wyse en in my eie tyd te doen."
Mulder het voorlopig as Transvaalse leier van die party aangebly maar dit was duidelik dat dit nie lank sou wees nie. Ook Vorster het hom aanbeveel om heeltemal uit te tree. Toe Mulder aankondig dat hy as Transvaalse leier uittree, het hy bevestig dat hy as Volksraadslid vir Randfontein gaan aanbly maar dit kon nie realiseer nie; sy posisie het onhoudbaar geword nadat die verslag van die Erasmus-kommissie gepubliseer is. Op 24 Januarie 1979 bedank hy ook as LV. Hierop het 'n stryd gevolg waarin Mulder al hoe verder van die party weggedryf het. Op 6 April 1979 word hy toe geskors uit die party – net ses maande nadat hy byna hoofleier van die party geword het.
Die stryd om die Transvaalse leierskap het reeds begin nadat Mulder uit die Kabinet bedank het. Moontlike opvolgers was Fanie Botha, Hendrik Schoeman, Jimmy Kruger, en Andries Treurnicht.
Skinderstories, ware stories, maar alles strydstories, was aan die orde van die dag. Daar was selfs 'n storie dat Mulder sy gewig agter Treurnicht ingegooi het met 'n "ooreenkoms" dat dit sou kon lei tot sy eie hertoetrede tot die politiek. Bitterheid, onderstrominge, en nogmaals geskindery het toenemende kommer laat ontstaan oor die omvang van die stryd. Daarom die talle beroepe op lede terwille van eenheid van die party op die vooraand van die verkiesing.
In hierdie atmosfeer het die meer as honderd hoofbestuurlede op Saterdag 25 November in die SATU-saal in Pretoria vergader. Die uittredende leier, dr Mulder, het die voorsitterstoel ingeneem. Heel gou het 'n grondwetlike dispuut ontstaan waaroor lank geredekawel is. Die beslissing wat dr Mulder uiteindelik sou gee, sou die uitslag van die verkiesing wesenlik beïnvloed. Die geskil was oor die samestelling van die hoofbestuur en wie stemgeregtig was. Transvaalse Parlementslede en Provinsiale Raadslede het nie in daardie tyd vanself stemreg in die hoofbestuur gehad nie. Volgens die grondwet van die party het elk van die 76 kiesafdelings in Transvaal een verteenwoordiger met stemreg in die hoofbestuur gehad, tesame met die provinsiale leier, alle Transvaalse ministers en adjunk-ministers, enkele lede van die Jeugbond en die bekleders van sekere partyposte. Daarby het die hoofbestuur self sestien stemgeregtigde lede aangewys.
Die twis het gegaan om die posisie van die sestien benoemdes, van wie die meeste LV's was. Die vraag was of die dienende sestien aan die leiersverkiesing mog deelneem en of die hoofbestuur opnuut sestien moes aanwys. Nog 'n twisvraag was of die dienende benoemdes aan die verkiesing van die nuwe benoemdes kon deelneem. Eers na 'n ordemosie van prof Roelf Botha het daar rigting gekom en is Treurnicht eindelik verkies. Hierna was Mulder nie meer die middelpunt van belangstelling nie. Hy het 'n verwese en eensame figuur geslaan en gou vertrek.
Oral is druk bespiegel oor die implikasies van Treurnicht se oorwinning. Hy het van die sterkste magsbasisse in die struktuur van die Nasionale Party verower maar het as adjunk-minister nie sitting in die Kabinet gehad nie, wat natuurlik "ongehoord" was. Daarom het die Eerste Minister geen ander keuse gehad as om vir Treurnicht in die Kabinet plek te maak nie. Die probleem was dat daar geen vakature bestaan het nie.
'n Interessante tussenspel op die hoofbestuursvergadering waar dr Treurnicht verkies is, was dat Pik Botha hom onttrek het aan die verkiesing van die dagbestuur van die party. As lid van die ou dagbestuur, het hy blykbaar besef dat die messe vir hom geslyp was.
'n Tweede vakature in die dagbestuur het onstaan deur die uittrede van mnr Koos Potgieter, oud-LV vir Brits en jarelange hoofsweep van die Nasionale Party in die Volksraad. FW de Klerk, Minister van Pos- en Telekommuniskasiewese, en dr Ferdie Hartzenberg, Adjunk-minister van Plurale Betrekkinge en Ontwikkeling, is in dié twee vakatures verkies. Hulle het mnr Louis le Grange, Minister van Openbare Werke en Toerisme, en mnr Tonie van Tonder verslaan.
Die gebeure in die hoofbestuur was vir Pik Botha 'n besondere traumatiese ervaring. Hy het kort daarna vir samesprekings oor Suidwes na New York vertrek en in 'n onderhoud sowat 'n maand later met Beeld self die verhaal vertel.
Hy het die lugreis beskryf as "een van die wroegendste van my hele lewe." Die waarnemings wat hy op die vergadering gemaak het, het hom laat besluit om hom nie herkiesbaar te stel vir die dagbestuur nie. "In die lang ure van daardie nag het ek met myself geworstel, tussen die duisternis en die sterre. Die aanvanklike stryd binne jou is dat jy reg het. Jý, jý, jý. Die groter stryd is om die hele kwessie te verwerk en te objektiveer. Jy moet jouself as't ware uit die middelpunt van alles haal en die gebeure met die oog van 'n toeskouer probeer beskou. Jy moet jouself feitlik teen die muur sit en jouself in al jou naakte tekortkoming bekyk...
"Ek moes daardie nag besluit wie Pik Botha nou eintlik is dat hy nie mag seerkry nie. En as jy seergekry het, dan beteken dit heel waarskynlik dat jy jou te kwaai op die voorgrond wou stoot. En as jy jouself nie so kwaai op die voorgrond stoot en jouself so belangrik ag nie dan behoort jy, filosofies gesproke, nie seer te voel nie.
"Dit het my gehelp om spoedig, sonder verbittering, berusting te vind oor die gebeure... ons het oor die eiland Sal en Frankfurt na New York gevlieg maar ek kan sê dat my gemoed skoon was voor ons op die eiland neergestryk het. Dit was 'n traumatiese ervaring maar ook 'n goeie."
Van Treurnicht is verwag om "gesamentlike verantwoordelikheid te kan aanvaar, aan sy beeld te werk en met die Nasionale Party in sy totale omvang as 'n volksbeweging te moet leer saamleef..." – Die Burger.
Drie en 'n half jaar later, op 1 Maart 1982, nadat Treurnicht geweier het om 'n mosie van vertroue in die Eerste Minister en sy vertolking van die NP-beleid te steun, het Die Burger sy hoofartikel van 27 November 1978 in herinnering geroep en geskryf: "Ons wens is nie bewaarheid nie. Wat dr Treurnicht gemaak het van die geleentheid wat sy Transvaalse leierskap hom gebied het is nou te sien in die ruïne wat hy rondom homself en sy handjievol volgelinge veroorsaak het."
Dit was nie net Die Burger nie; ook Die Transvaler het 'n paar harde dinge baie reguit geskryf. Selfs Beeld het 'n eiertjie gelê met die versugting dat Treurnicht tog van die stoffasie moes wees wat PW nodig het maar dat die "berge voor hom waaragtig hoog is."
Duidelik het Treurnicht nie aan die verwagtinge voldoen wat deur die Nasionale Party onder leiding van PW Botha aan hom gestel is nie. Hy het 'n paadjie regs van die Regering probeer stap.
4. Meer botsings ... vervolg