LEES WEER EXODUS 20

Wonder ons soms waarom ons as 'n volk van die Here, nie rustig en in vrede kan saamleef nie, waarom ons voortdurend rusie met mekaar soek, mekaar verraai, verneder en vernietig? Daar is net een grondslag waar dit verkeerd geloop het: Jesus het die wetgeleerde op sy vraag wat die "groot gebod in die wet is" só geantwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat gelyk hieraan staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Ons verskeurde ou volkie weet nie meer wat naasteliefde beteken nie. En as ons die tweede gebod nie eers kan onderhou nie moet ons onsself nie bluf en dink dat ons die eerste gebod nakom en God so liefhet as wat Hy ons beveel nie.

Die Here sê in Exodus 20 dat Hy ‘n jaloerse God is wat die misdaad van ons voorvaders tot in die vierde geslag sal wreek van diegene wat Hom haat. Maar Hy sê ook daar dat Hy barmhartigheid aan almal wat Hom liefhet sal bewys – as ons sy Gebooie onderhou Waaraan meet God ons liefde vir Hom? Hyself sê Hy sal weet dat ons Hom liefhet as ons sy Gebooie onderhou.

Ken ons nog die Gebooie, en leef ons dit uit? Dit wil voorkom asof die meeste volksgenote elke Gebod van God verontagsaam.

En dan wil ons nog aanspraak maak op die voorregte vir 'n volk van God! Nie voordat ons terugkeer, om vergifnis pleit vir ons dwalinge en AL sy gebooie gehoorsaam nie. En nie soos ons dit WIL verstaan nie, maar presies soos dit daar geskryf staan.