Ons is al weer aan die begin van ʼn nuwe jaar en die lewe vorentoe soos ʼn hoofstuk van ʼn boek wat wag om geskryf te word. Al die blaaie is skoon. Ons skryf self die woorde.
As ʼn nuwe jaar aanbreek besef jy dat die tyd vlieg. Moses skryf: “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte” (Ps.90:9). Dat tyd vlieg, is sleg. Die goeie is dat jy die loods is en soos Moses moet bid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!”
God is ons vlieginstrukteur en wil ons leer om hierdie jaar reg te vlieg want elke mens gaan een of ander tyd ʼn Nuwejaar beleef waarvan hy nooit die Oujaar sal sien nie. En dit kan jy wees! Paulus sê: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efes.5:15,16).
Hoe gaan ons die tyd reg benut? Deur reg te leef. En hoe doen ʼn mens dit? Deur die Bybel jou lewenskompas te maak. As die Bybel jou die groen lig gee, dan gaan jy. As dit rooi ligte laat aankom, moet jy stop. En jy kan. God waarsku Kain vooraf: “ ... die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen.4:7).
Gelowiges se lewenspaaie is nie maanskyn en rose nie en verskil gevolglik nie veel van ongelowiges s’n nie. Al verskil is dat gelowiges ʼn toekoms met Jesus tegemoet gaan en nie vrees nie.
Dawid skryf: “Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees? ... Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Ps.27:1,14)
“Die Engel van die Here trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Ps.34:8). Hierdie “Engel van die Here” is ʼn Ou Testamentiese benaming vir ons Here Jesus. Hy is van die begin van die tyd af met sy kinders.
Ons weet nie wat hierdie jaar vir ons gaan inhou nie. Al wat ons weet, is in Wie se hand dit is en dis genoeg. Die toekoms is soos ʼn leer waarteen ons opklim. Ons kan nie al die sporte van onder tot bo sien nie. Ons kan wel met Jesus by ons met die eerste een begin en met blydskap aanhou klim.
Hou hierdie altyd in u gedagtes: Fil.4:4-7:
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus”.