VEGKOP-HERDENKINGSFEES 10-12 OKTOBER

Oproep tot deelname

Met groot genoeë nooi die Vegkop-herdenkingskomitee u uit na vanjaar se Vegkop-fees op die Vegkop Feesterrein. Dit is 20km suid van Heilbron geleë op die presiese plek waar dié geskiedkundige slag plaasgevind het in Oktober 1836, twee jaar voordat die Slag van Bloedrivier sou plaasvind.

Vanjaar se herdenkingsfees vind plaas op die naweek van 10-12 Oktober 2025 en beloof om elke feesganger te verryk, toe te rus en te besiel vir die stryd waarin ons volk tans gewikkel is. Kom put inspirasie uit die moed, durf en deursettingsvermoë van ons voorgeslagte. Kom ervaar eerstehands op hierdie heilige grond waar die Almagtige God ‘n wonderwerk verrig het om ons volk uit doodsgevaar te verlos teen ‘n aanslag van honderd en meer teen een...

Hier het Hy die onmoontlike moontlik gemaak, die kinderlike geloof in sy almag geëer. Deur ons Vader se alvermoë, deur die verhoor van opregte gebede, het Hy die logiese verloop van die slag verander in ‘n wonderbaarlike oorwinning vir die Trekkers.

Aan die Almagtige, Drie-enige God, Beskikker van die lotgevalle van volkere en nasies bring ons die eer van hierdie wonderbaarlike oorwinning tydens hierdie fees-geleentheid. Ons herdenk die noue betrokkenheid van ‘n gelowige volk en die God wat hulle aanbid. Ons put besieling uit die geskiedenis om ons weer moed te gee vir die stryd waarin ons staan!

Die feesganger gaan die gebeure van die slag intiem leer ken terwyl heerlike aktiwiteite vir oud en jonk tesame met gesellige kampkuier met mede-volksgenote ‘n onvergeetlike feesnaweek waarborg.

Sien u by Vegkop!