WITMAN, WAAR IS JOU VRYHEID? (4)

Dr Willie Lubbe

Lees reeks by Witman, waar is jou vryheid?

VRYHEID - en staatsbeskouing

"Die staatsowerheid se roeping is tweërlei van aard: Altwee tafels van die Wet moet bewaar word deur eerstens te verseker dat die erediens onbelemmerd kan voortgaan en ongeloof bestry word; en tweedens, deur die reg, rus en vrede in stand te hou...  elkeen sal van sy dade verantwoording moet doen, hoe hoog sy pos ook mag wees."

"Volgens die volkstaatgedagte, veral soos dit deur Paul Kruger vertolk is, is burgerskap die voorreg van volksgenote en kan vreemdelinge nie daarop aanspraak maak nie. Die getal vreemdelinge is dus nie van belang nie, want die staat behoort aan die volk en die volk besluit oor watter van sy lewensverbande vir vreemdelinge oop is en watter nie."

“Dit, na my mening, en in besonder onder die Hollands-sprekende mense van die vroeëre Republieke, is steeds hulle hoop gewees, en is vandag nog hulle hoop, en ten slotte is dit die mees verhewe hoop wat ’n volk kan koester, naamlik onafhanklikheid. ” (Genl. J.B.M. Hertzog)

BELANGRIKHEID VAN RAS EN VOLK

Die belangrike plek wat ras en volk in die Afrikaner se staatsopvattinge beklee, mag nie uit die oog verloor word nie.

Afrikaners dink graag aan hulleself as 'n hegte volk wat vir sy lede erkenning, veiligheid en die geleentheid om ’n godgegewe roeping te vervul, veel beter kan waarborg as wat ’n los versameling van onverwante mense dit sou kon doen. Die groter krag van hulle eie volk is veral daarin geleë dat dit hulle met baie bande onderling saambind, soos die bande van bloed, geloof, geskiedenis, waarde, tradisie, roeping en lot. As ’n volk is hulle vermoë om eendragtig op te tree dus groter as wat in ’n samelewing van mense en groepe wat in baie opsigte verskil en teenstrydige belange met mekaar moet versoen, die geval sou wees.

STAAT EN OWERHEID

Die voorgaande ideale voorstelling van die volk gaan ook met ’n ewe kenmerkende beskouing oor die aard, vorm en taak van die staat gepaard.

Hoewel God die staat nie soos die huwelik by die skepping ingestel het nie, word dit nogtans as ’n deel van sy Raadsplan vir die goeie en behoorlike bestuur van die wêreld beskou. Die staat se owerheid word dan ook geag ’n instelling van God te wees, wat aan Hom verantwoording moet doen vir die bedryf van die staat se sake op so ’n wyse dat Hy gedien en geëer kan word, dat die onderdane vreedsaam en eerbaar kan lewe en alles in die samelewing ordelik verloop.

Die staatsowerheid se roeping is dus tweërlei van aard: Altwee tafels van die Wet moet bewaar word deur eerstens te verseker dat die erediens onbelemmerd kan voortgaan en ongeloof bestry word; en tweedens, deur die reg, rus en vrede in stand te hou.

Die Christelike karakter van die staat en sy owerheid staan dus vas. Oordie erns van die meeste Afrikaners dat hulle staat op hierdie grondslag bewaar en uitgebou moet word, bestaan daar ook nie twyfel nie.

Wat die verhouding van onderdane jeens hulle owerheid betref, is dit die beskouing dat die owerheid as dienaar van God erken en eerbiedig moet word. Dit vra van onderdane onderwerping, gehoorsaamheid, navolging van die wette, die betaling van belasting, krygsdiens en voorbidding.

Hierdie verhouding verontskuldig nie ’n slegte owerheid nie, want elkeen sal van sy dade verantwoording moet doen, hoe hoog sy pos ook mag wees. Onderdane wat hulle onderwerping en gehoorsaamheid weier omdat die owerheid bedorwe is, word ook nie verontskuldig nie. Die owerheid moet as instelling van God aanvaar word, of dit goed of sleg is en die beywering om dit te vervang, moet regmatiglik geskied.

STAATSVORM

Oor die vorm van die staat het die Afrikaner se agtergrond van nasionalisme, van stryd teen oorheersing, in Nederland en aan die Kaap, en van noue verbintenis met die Calvinisme, bepaalde gesigspunte na vore gestoot.

•          ’n Staat bestaan uit volk, land en owerheid, die drie is met mekaar verweef en aldrie is nodig om ’n vry staat te kan hê. Die staat is derhalwe volks- en grondgebonde en ’n owerheid is ook so gebonde. ’n Staatsowerheid is die hoogste politieke instelling van ’n volk in ’n land.

•          Die Bybelse kultuuropdrag om die aarde te vul en te bewaar, te beheers en te bewerk, word nie in ’n kosmopolitiese verband uitgevoer nie, maar in volksverband deur ’n wisselende aantal volke wat in die loop van die geskiedenis ontstaan het. Die volkstaatgedagte geniet dus voorrang, in teenstelling met humanistiese beskouinge dat ’n staatsbevolking nie ’n volk hoef te wees nie, maar bloot ’n bevolking of burgery (’n versameling enkelinge) wat deur ’n sameloop van omstandighede in dieselfde gebied beland het.

•          Onder die leiding van die groot moondhede het die agting vir geografiese grense in ’n sekere opsig so groot geword dat die wysiging daarvan nie in die hedendaagse wêreld maklik erken word nie: die bevolking kan maar kom en gaan, maar die staat bestaan voort, solank sy grense net nie verander nie. Die Afrikaner huldig nie heeltemal so ’n beskouing nie: ’n volk in ’n land is wat tel; ’n volk se staat word ruimtelik begrens, sy owerheid se gesagvoering is ruimtelik begrens, maar om geografiese grense te bepaal asof volke nie bestaan nie en eenheidstate daarvolgens te stig, is vir die Afrikaner ’n onaanneemlike werkwyse.

•          Die deursnee Afrikaner is demokraties en republikeins ingestel. Sy voorgeslagte het na aan die stryd teen onderdrukkende vorstehuise gelewe en was ook deurdrenk met die Calvinisme wat erflike en eenmanregering afgewys en ’n klein verkose owerheid as minder geneigd tot verdorwenheid aangedui het. Die voorbeeld van die VSA se stryd teen Brittanje en selfs die leer van twyfelagtige leermeesters soos Jean Jacques Rousseau en Immanuel Kant oor vryheid en die reg van volke om hulleself te regeer, het ’n demokratiese en republikeinse gees aangewakker.

•          Soewereiniteit word as ’n saak van lewensbelang beskou. Vir sover dit die staatsowerheid aanbetref, beteken dit vry van onderworpenheid aan enige vreemde gesag en van moontlike onderdrukking. Binnelands beteken soewereiniteit dat die owerheid oor die oppergesag om wette te maak, beskik. Dit beteken nie dat sy gesag juridies onbeperk is, of dat hy die enigste bron van die reg is nie. Die terrein waarbinne die staatsgesag as uitsluitlik uiteindelik geld, waarbinne dit dus soewerein is, is afgebaken. Die afbakening kan egter verander as omstandighede soos ’n bedreiging van buite of geestelike en ander verval binnelands, dit nodig maak.

•          Die Afrikaner se vryheidsopvatting hang saam met die oor soewereiniteit. Vryheid is die reg van selfbepaling volgens eie aard. Sy staat is naamlik vry ten opsigte van ander state. Binnelands is die gesin, kerk, vereniging, onderneming en enkeling vry ten opsigte van onderlinge verkeer en verhoudinge wat in hulle onderskeie kringe geld. Elkeen handhaaf in sy kring regsreëls en regsreëlings sonder om van die staatsgesag afhanklik te wees. Die staat tree uiteindelik in as geskille ontstaan wat nie in eie kring besleg kan word nie. Uiteindelik is net die staatsgesag bevoeg om die reg te handhaaf. Soewereiniteit in eie kring is die bron van vryheid in die staat en staan teenoor die gedagte van absolute of onbeperkte staatsgesag.

STRUIKELBLOKKE IN DIE WEG VAN DIE STAATSBESKOUING

Die bevolking van die RSA is so saamgestel dat die Afrikanervolk sy staatsidee eenvoudig sal moet verwesenlik om sy vryheid te kan behou. Die humanistiese idee dat almal binne die staatsgrense op burgerregte (ook stemreg) aanspraak het, is vir hom lewensgevaarlik, want hy maak ’n baie klein deel van sy land se bevolking uit.

’n Mens kan dus met reg vra waarom daarin die RSA wat vir so ’n geruime tyd al deur Afrikaners oorheers word, so min van hulle beskouinge oor die staat en staatkundige vryheid tereggekom het. Op die oog af lyk dit trouens eerder of die volk sy vryheidsdenke plotseling laat vaar het en die humanistiese leer waarteen sy voorgeslagte verbete geveg het, toepas.

Die antwoord op hierdie vraag is waarskynlik daarin te vind dat Afrikanervryheid in die verlede eng benader is, as vryheid ten opsigte van buitelandse moondhede, meer bepaald ten opsigte van Britse oorheersing en onderdrukking. Die moontlikheid dat staatkundige vryheid na buite ook binnelands deur die aanwesigheid van ’n groot vreemde bevolking in sy land verydel kan word, het of nie by die deursneë-Afrikaner opgekom nie of hy het die belangrikheid daarvan erg onderskat.

Vryheid na buite, as onafhanklikheid ten opsigte van vreemde owerhede, en na binne as oppermagtigheid om wette te maak en as soewereiniteit in eie kring, is ten nouste verweef. As 75 persent van ’n staat se arbeidsmag byvoorbeeld uit vreemdelinge bestaan, is die inheemse volk op arbeids- en ekonomiese gebied nie vry nie, nie soewerein in eie kring nie en sal die staatsgesag moet ingryp om die regsreëlings wat op daardie gebied volgens die volksbeskouinge behoort te geld, te onderskraag. Namate hierdie soort oorname op ander lewensgebiede ook voltrek word, verval volksoewereiniteit en word die staat van binne oorgeneem. Hiermee is die volk se vryheid na buite dan ook gedaan.

’n Mens kan egter goed begryp waarom daar by hierdie waarheid verbygekyk is. Volgens die volkstaatgedagte, veral soos dit deur Paul Kruger vertolk is, is burgerskap die voorreg van volksgenote en kan vreemdelinge nie daarop aanspraak maak nie. Die getal vreemdelinge is dus nie van belang nie, want die staat behoort aan die volk en die volk besluit oor watter van sy lewensverbande vir vreemdelinge oop is en watter nie.

Dat die vreemdelinge in Paul Kruger se republiek nie hierin berus het nie en uiteindelik tog die staat verower en die Afrikanerdom onderwerp het, is ’n les wat egter net tot Britse vreemdelinge beperk gebly het en nie op Nie-blanke vreemdelinge toegepas is nie. Miskien was die gedagte dat Nie-blankes oor die staat beheer kan verkry en dat Afrikaners kan oorheers darem te vergesog.

Selfs al sou die insig bestaan het dat die verlies van soewereiniteit op arbeidsgebied na ander gebiede uitbrei en die staatsgesag uiteindelik lam lê, sou dit nog geen rede verskaf het om die bedreiging van Afrikanervryheid nie as ’n Britse bedreiging aan te dui nie. Slegs die Britse staatsidee met sy gelykstellingsbeleid kon maak dat Nie-blanke werkers politieke regte verkry en die staatsgesag bedreig.

Afgesien van die insig dat Britse aanwesigheid die eintlike bedreiging vir vryheid uitgemaak het eerder as die groot Nie-blanke aanwesigheid, was daar ook ander struikelblokke wat die daadwerklike uitbouing van die volkstaatgedagte regstreeks versper het.

Hoewel Afrikaners die Unie beheers het, kon hulle hulle om verskeie redes nie laat geld nie. Die Unie was naamlik ’n Britse maaksel en Brittanje het enige wysiging in die rigting van ’n volkstaat teengestaan; die Unie was ekonomies aan Brittanje gebind en dus hoogs onvry op daardie gebied; Engelssprekende kiesers was omtrent net so talryk soos Afrikanerkiesers en hulle was die Britse staatsbeskouinge toegedaan; en om alles te kroon, het genls. Botha en Smuts na die Britse standpunte oorgeloop en die volk sodoende verdeeld in ’n oorlewingstryd gedompel.

NAGEVOLGE VAN REPUBLIEKWORDING

Die ideaal van ’n republiek wat in 1961 verwesenlik is, het die Afrikaner se vryheidstryd op twee maniere nadelig geraak.

Die gedagte wat by Afrikanerleiers - van Hertzog tot Verwoerd - gelewe het, was dat ’n republiek ware vryheid ten opsigte van Brittanje sou verseker en dus ook die gevaar van Nie-blanke oorheersing afweer. Daarby is geglo dat ’n republiek los van Brittanje die Engelssprekende deel van die bevolking sodanig sal verinheems dat ’n mens van blanke eenheid kan praat. . . wie weet, ook ten opsigte van beleid jeens die Nie-blanke volke.

Die verwagtinge is ten dele bewaarheid. Britse bande is staatkundig heeltemal opgehef, selfs lidmaatskap van die Statebond is beëindig; Engelssprekendes het die nuwe staatsvorm aanvaar (dit was immers steeds monargale parlementarisme, net onder ’n ander naam) en hulle trou aan Brittanje het skerp afgeneem.

Die bevolking van Britse afkoms het egter nie sy staatsbeskouinge laat vaar nie, maar eerder sy ekonomiese hefbome en internasionale verbintenisse en insprake aangewend om die skaal in sy guns te swaai en die Afrikaner se staatsidee te dwarsboom.

Die tweede nadelige verwikkeling ná republiekwording staan in verband met die Afrikaner se stryd in eie geledere oor die staatkundige toekoms van die Nie-blanke volke. Die vryheidsvraagstuk is slegs ten dele deur republiekwording opgelos, ten opsigte van die buiteland, maar binnelands het dit die volk voor ’n oomblik van waarheid te staan gebring: hy moes die groot Nie-blanketal in die oë kyk en sy vryheid met hulle blywende aanwesigheid in sy land op ’n manier versoen.

Dr. H.F. Verwoerd het ná 1961 tereg kragtig ’n koers ingeslaan om eers politieke skeiding en daarna geografiese partisie van volke as oplossing vir die vryheidsvraagstuk aan te dui. Politieke skeiding is geredelik aanvaar, maar partisie in die vorm van verskerpte toestromingsbeheer, konsolidasie, opofferings vir ekonomiese ontwikkeling in swart gebiede en selfwerksaamheid, wat natuurlik die enigste wyse was om elke volk in die land te beskerm, was vir sommige ’n onverteerbare saak.

DIE KERN VAN DIE VRYHEIDSVRAAGSTUK

Die kern van die Afrikaner se vryheidsvraagstuk is hierin geleë dat hy na binne, in homself, dit wil sê in sy land en samelewing en staatsgesag, vry moet wees om sy vryheid ook ten opsigte van die buiteland en vreemde oorheersing te kan handhaaf. Vryheid na buite is ’n gevolg of verlenging van vryheid binnelands en nie andersom nie.

Uit die voorgaande oorsig van die aard en verloop van die Afrikaner se staatkundige vryheidstrewe kan ’n mens naamlik aflei hoe hierdie strewe telkens deur gebreke in die volk se gestel, dit is in sy samelewingsordening en sy beskouinge oor vryheid, lam gelê is. Hoewel hy uiteindelik daarin geslaag het om homself ten opsigte van die buiteland op die oog af vry te maak, kon hy die welslae nie opvolg deur homself binnelands ook uit die knyptang van vreemde lewens- en staatsbeskouinge enersyds en vervlegting met die groeiende vreemde bevolking andersyds, los te wring nie.

Sodra ’n mens egter die grondliggende stuikelblok bepaal en ontleed het, kan die beplanning begin om dit uit die weg te ruim. Daarom was die grondwet van 1983 nie die einde van die pad nie. ’n Ideaal leef voort afgesien van teënslae wat in die stryd daarvoor ondervind word. Vir meer blywende welslae as in die verlede sal die stryd op die wese van die saak toegespits moet word, naamlik op ’n volk in sy land onder sy owerheid.

Vervolg...