WÊRELDNUUS
Tekens van eskalerende ekonomiese insinking dwarsdeur Europa word al meer en ernstiger. So ook die publiek se protes daarteen. Hierdie faktore het weer eens hierdie naweek bygedra tot 'n verder verswakte euro. Die Europese Sentrale Bank vergader Donderdag wanneer hulle die aanhoudende verswakking in die ekonomiese toestand sal bespreek.
Spanje, tot sover die land met die vierde grootste euro-ekonomie, beskou homself nou na die afgelope naweek ook as in 'n ekonomiese resessie saam met lande soos Italië, Portugal, Ierland, Griekeland, België en Holland. Sondag het duisende woedende Spanjaarde aan protesoptogte deelgeneem nadat die regering se nuutste ekonomiese besnoeiings die werkloosheidssyfer tot 25 persent opgestoot het.
Inligting vandag vanuit die Europese Sentrale Bank bevestig dat persoonlike lenings asook aan firmas in die euro-gebied verder afgeskaal sal moet word.
Duitsland weer het bevestig dat kleinhandelverkope vir Maart soveel laer is as verwag dat dit daarop dui dat Europa se huishoudings oppad is na die grootste ekonomiese insinking ooit.
Europese leiers sal binnekort nie meer weet hoe om die toenemende massa-protesoptogte die nek in te slaan nie. Volgens Reuters is die ekonomiese ineenstorting in Europa 'n wesenlike bedreiging vir wêreldvrede.