Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Wanneer dit moeilik raak om iemand anders onvoorwaardelik lief te hê, bid opreg vir hulle. Voor jy jou kom kry sal jy met God se oë na hulle kan kyk en sy liefde sal jou hart in oorvloed vul.

DIE WIT HORISON (2)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan vier nog leef en al vier tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez
- O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige (Tans woonagtig in die Kaap)
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes,Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

Die leser sal met verdrag ook lees van ander Suid-Afrikaners wat slegs as waarnemers die volle reis meegemaak het asook van 'n hele aantal Noorweërs teenwoordig.

BOUVET-EILAND, BEGRAFNIS EN 1e YS

Kort ná middagete, presies ’n week na ons uit Kaapstad vertrek het, het ons die eerste gesig van Bouvet-eiland gekry.

Dis ’n swart rotsmassa op 54° 25' suid en 3° 24' oos. Sy sneeubedekte spitse het die swart wolke met weerkaatste sonlig belig. Vaste, konkrete werklikheid na ’n week van kantel en wipry. Jou oë kon jy rig op iets wat nie skommel soos die liglyn nie, wat regop bly staan, of jy het ten minste geweet dat dit regop is. Almal het na die dek of die brug gestroom om die kameras daarop te laat reën.

Een plek in die wêreld waar daar geen telefoon of deurklok was om te lui nie. Solied, onverskuifbaar sy kuste, vir ’n duisend myl rondom onbeskermd deur vastelande. Die sterk deining van die see wat daarteen lig en skerp, driftige branders daarteen laat breek, hou besoekers van sy kuste weg.

Almal was in ’n vrolike stemming.

"Ja-nee, dokkie, ons is op die regte pad,” het Blackie my verseker. "Hoorg hierg, dokkie, ek wou nie prgaat nie, maar ek dag die kaptein het nie altyd geweet waar ons was nie. Crgis het gesê dat die dood van sy vrgiend ’n onbalanserende effek op sy brgein kon hê en dat hy ’n vergdwaalkompleks kon ontwikkel het. Maarg ek sien dargem nou hy het kop gehou,” en hy het so ’n stoot-perdelag met die inasem gegee dat die spoeg eintlik spat. Hoe hy dit regkry om te lag terwyl hy inasem, is alleen ’n vriendelike, openhartige Bolander se kuns.

Daar bestaan ’n groot behoefte om ’n geselskap op die middelste lae rotslys of êrens op die hoogland neer te sit om die moontlikheid van ’n weerstasie te ondersoek, en, indien moontlik, op te rig. Die rotslys is vernoem na die Amerikaanse sloep West Wind wat dit in 1958 die eerste opgemerk het. Dit het as gevolg van ’n rotsverskuiwing ná 1955 ontstaan. Dis moontlik die enigste bouperseel wat die eiland aanbied, maar dit is nog nie seker of hy stabiliteit bereik het en of die sneeumassas, wat na die winter weer afstoot, dalk as ’n groot stootskraper sal dien en dit skoonvee of selfs uitwis nie. Die onsekerheid oor sy voortbestaan, die onbekendheid van die eiland, laat hom nog onverstoord in stille alleenheid lê- net Macaroni-en kenbandpikkewyne boer nou saam met see-olifante daarop.

Links weg, aan die oostelike punt van sy noordelike aansig, het ’n massiewe gletser in ’n groot vallei nes gemaak. Vic, die geoloog, het sy verkyker daarop gerig gehou.

"Baie interessant, baie interessant,” het hy knipogend gesê, maar ek kon niks interessants in die eentonigheid van die ysigheid sien nie. Vir my was die gletser maar net ’n doellose massa koue, maar Vic het my verseker dat die skrape wat dit op die rotse maak baie interessant is.

Skrape het vir my nog minder bekoring gehad, maar dit was interessant toe hy begin verduidelik dat die tong van ’n gletser elke paar jaar afbreek en ’n ysberg vorm. Nou het ek geweet hoe ysberge gebore word. Ek het altyd gedink dis sommer ’n stuk water wat uit die see opstaan en dan kliphard verys.

Ons het skuins wes van die eiland gemik. Tjel, die senior matroos, het die motorboot vir die voorgenome landing gedokter. Skril het die motor gefluit toe hy vat, en skriller het Tjel se oorwinningskreet bo die lawaai gestyg.

Ons het in die sitkamer gaan sit om kennis oor seestrome, ysberge en gletsers te wissel. Chris het ’n pak lekkers in deurskynende papiertjies te voorskyn gehaal en die rondte laat doen. Net toe Gert syne sorgvuldig oopgevou het, val dit op die vloer.

"Hier’s ’n ander een,” het Chris aangebied.

"Toe maar, ek sal dit was,” het Gert gesê terwyl hy ’n ander een vat. Maar Niklaas het dit opgetel, ’n vinnige lek gegee en vir Gert aangegee.

"Dis klaar gewas,” het Niklaas gesê, en Gert het dit met gulsige behae in sy mond gestop en smaaklik gesuig. Almal het hard gelag. Die fynbesnaarde Jannie het ’n vies uitdrukking op sy gesig gewys, en dit het almal nog harder laat lag. Die gelag het die enigste vlieg wat toe al dae lank op dieselfde plekkie teen die plafon gesit het, ’n paar millimeter laat verskuiwe, die eerste verskuiwing na soveel dae.

Eensklaps het ’n harde knal die dawerende gelag stopgesit. Almal het stil gesit en na mekaar gekyk. ’n Ontploffing in die masjienkamer? Daar was tog geen geruk van die boot nie!

"Het die gode kom 'attack’?” het Dick gesê. Hy lees graag Plato en Sokrates, en by tye glo hy dat selfs die Griekse legendariese figure werklikheid was. Hy het ook altyd sy liefde vir sy vorige buurstaat anderkant die kanaal in herinnering geroep deur ’n paar Engelse woorde by elke Afrikaans-Hollandse sin in te las.

Skielik het die angsbevange gesig van die kaptein in die deurkosyn verskyn.

"Come, doctor! Come quick!” en sonder om te sien of ek horn volg, het hy weer verdwyn, met my kort op sy hakke.

Buite die deur van ’n offisierskajuit, net langs dié van die kaptein, het ’n onthoofde liggaam gelê, ’n laaste ruk van die een arm, en toe was dit stil. In sy half oop hand was ’n oop sigaretaansteker.

"Dynamite,” het die kaptein gesê.

Ek het verstaan. Die oop sigaretaansteker het die verhaal vertel. Ek het wydsbeen oor die liggaam gestaan. Sy bloed het ’n oomblik lank warm teen my seilstewels gevoel en toe ’n bevrore kors in die koue gemaak.

My gedagtes het teruggeflits na die nag, presies ’n week gelede, toe die see onstuimig was en ’n man onverwags heengegaan het, en ’n sjarmante vrou en twee seuntjies agtergelaat het.

Daar is dinge buite die beheer van die mens, en wanneer jy jou hand aan jou eie lewe slaan, het dit moontlik ook in ’n oomblik van drang en onbeheerstheid geskied - sonder eie toedoen.

Die ander het agter my gebondel, en ek het onthou watter swaarmoedigheid na die eerste voorval op hulle gerus het.

"Gaan weg!” het ek geskree. Ek het reeds baie met die dood te doen gehad, hulle miskien nie. Ek was ontsteld, nie omdat ek werklik so gevoel het nie, maar omdat ek geweet het wat in die gemoed van die kaptein omgegaan het.

Ons het die lyk op ’n seil in sy kajuit neergelê, en ek het saam met die kaptein na sy kajuit gegaan. Die whisky was nie ontydig nie Dit was kalmerend. Hy het nie van die stilte in die kajuit langsaan gesels nie, maar vertel dat dit nou net twee jaar gelede is dat hy sy enigste seun op hierdie selfde boot verloor het. Dié was toe agttien jaar oud. Hy was ’n leerling in die masjienkamer. ’n Brand het daar ontstaan en hy kon nie betyds by horn kom nie. En sy sterk gelaat het twee vaderlike oë in trane geswem. Ek kon verstaan, want ek het ook ’n seun oor wie ek net so sou gevoel het.

Ek het van my seun vertel, hy van sy vrou en kindertjies in Noorweë. ’n Ruk lank het ons na die lee glasies gesit en kyk. Ongemerk het hy dit weer gevul.

"Dit was ’n ongeluk,” het ek gesê.

Die kaptein het oor my verdigsel geglimlag. Hy het my stip in die oë gekyk en sy glasie na my gelig.

"You are very kind,” het hy gesê.

Dit was nie dat ek goed wou wees nie. ’n Groter skok as die eerste kon ons nie die wêreld instuur nie. Koerante versprei nuus vinnig. Ons families tuis weet van die eerste, en het gegis oor wie dit was totdat hulle eers ’n dag later die naam verneem het. En nou dit!

"Hy moes seker ’n diepskootafvuur. Ons is naby ’n eiland waar die bodem vlak mag wees,” het ek verdig. Die kaptein het geknik.

Ons het saam na die brug gestap. Iemand wou weet wat gebeur het.

"’n Ongeluk,” het ek gesê, na die eiland gekyk en skielik baie wetenskaplik-verdiep in die gletser geraak. Die son was laag en het helder, goue ligbane onderdeur die swart wolke geskiet en oor die ys laat gly.

"Stratus cumulus,” het die weerkundige gesê, en almal het na die dalende son gedraai.

Dit was baie stil, ná die gefluit van die motorboot, die oorwinningskreet van Tjel, die gelag oor die afgelekte lekker en die knal van die skoot. Die vlieg het nog nie weer verskuiwe nie. Elkeen met sy eie gedagtes en sy eie gevolgtrekkings, maar elkeen te bedagsaam om dit ’n onderwerp van bespreking te maak.

Waar die temperatuur die oggend na ons vertrek uit Kaapstad plus 15.3 grade Celsius was, het die aanhoudende ligte sneeustorms van die afgelope twee dae die temperatuur nou na vriespunt en benede laat daal en daar gehou. Toe ons so skuins wes van die eiland gevaar het, het dit sommer tot minus 1.5 grade gesak.

Antarktiese drag het te voorskyn gekom. Dik wolbivakmusse en Yslandse truie. Buite in die skraal windjie het jy’n winddigte jurk, deur die Eskimo’s anorak genoem, aangetrek om die bolyf teen die slag van die wind te beskerm. ’n Windbroek van dieselfde katoen-plastiekmateriaal as die anorak gemaak, het ’n tent om jou bene gevorm. Jy het rondgestap in jou eie winddigte tent en die wind getrotseer. Om die koue uit jou voete te hou, was ’n paar mukluks uiters geskik en spesiaal daarvoor bedoel. Dit was seilstewels wat amper tot by die knieë gekom het en daar toegeryg was om die siffende sneeu uit te hou. Binne-in het jy ’n halfduim dik binnesool van klapperhaar en kurk gedra, wat ’n lugkussing onder jou voete gevorm het om die koue uit te hou.

Twee ysbergies het teen Lars-eiland, aan die suidwestekant van die eiland vasgeloop en daar gestrand. Die seestroom en die branders knaag aan hulle totdat ook hulle sal terugkeer na die vorm waaruit hulle geskape is; dan maar weer verdamp en as sneeu help om gletsers te maak om weer ysberge te skep. Vernietiging en skepping gaan hand aan hand.

In die verte blink die eerste see-ys in die môreson. Om ons dryf ysblokke rond, die laaste oorblyfsels van eens statige ysberge en onmeetbare velde van plaatys. Die een brok probeer komiekliker as die ander lyk, asof ’n gekostumeerde bal aan die gang is. ’n Ysbeer wat op sy rug drywe, dan weer twee perdjies wat bok-bok speel, ’n gans wat met vier kleintjies agter haar aan op die dam seil, en Lady Anne Barnard met behaarnaalde hooftooisel skuins agteroor in haar bad. Ewe beskeie draai sy haar rug na ons en ons hou duim vas dat sy nie omslaan toe die skroefgolwe haar laat kantel nie. Dan weer ’n drywende Griekse praalgraf met hoe suile waarvan die een van ouderdom skuins hang. Almal koddige ysfigure wat hul swanesang dans voor finale verdwyning.

Die boeg stoot ’n wit skuimwal aan elke kant voor horn uit. Hy suis stil deur die blou water, net hier en daar vergroen deur Iappe plankton. Alles is stil in die skerp seelug wat jou neusgate prikkel en jou longe verfris. Jy kry ’n nuwe gewaarwording, die oorweldiging van die stilte.

Of was dit die gedagte aan die twee manne, een op elk van die twee Donderdae? Daar IS nog baie Donderdae voor.

Die middag het Chris ons op sy trekklavier begelei, en ons het "Lei, vriend’lik lig” vir Saterdag geoefen. Krakerig en skeef het die manstemme geklink. Almal was ernstig en diep nadenkend. Daar was nie die gelag van die vorige middag nie.

Daarna het ek en Theo op die verste puntjie van die boeg gaan staan. Ons het ons oë op skrefies teen die bytende windjie geplooi. Ysplate het aan bakboord verbygeseil. Skielik het ’n klomp Adelie-pikkewyne die een na die ander met hulle blinknat lyfies uit die water op die ysrand gespring. Toe staan hulle soos soldate in gelid ons en betrag. Hulle lyk verbaas oor die indringing in die gebied van hul geboortereg. Hul witring-ogies volg ons soos dié van toeskouers by ’n tennisspel wat in vertraagde tempo gespeel word. Hul stompievlerke waai lustig verwelkomend, al twyfel party blykbaar of die indringer in hul heiligdom werklik welkom is.

Die vrye lug van die subantarktiese waters het deur ons hare gestu, en dit het gevoel of jy vryheid van gemoed inasem en vir jare al, vir ’n leeftyd al, die rumoer van die stad agtergelaat het. Dit het gevoel of jy jouself begin gewaar en die vriendskap van die stilte gewen het.

Groter ysbrokke het rakelings by die voorstewe verbygeskuur. Die plaatys het sy waterbane skuins voor ons begin uitstoot en blougekolde ys het aan alle kante verskyn: gebroke ys van duisende skotse oor duisende vierkante myl. Ons het vol afwagting genader, nuuskierig om die gesuis van wind en water vir iets anders te wissel.

Toe het die ysskotse vir die eerste keer teen die ysterplate geklap. Klap-klap-klap. Anders as die gesuis van die water, ’n nuwe ondervinding, ’n nuwe belewing.

Die dik ysterplaat van die boeg het die skotse bo-oor mekaar geskuiwe. Nou het ek verstaan hoekom die mossie so smal was: hy het nie ’n groot wapad nodig gehad om deur die ys te kom nie.

Lang, breë waterbane verskyn en dan weer groot damme stil blou water in die ys. Die lewe van die laaste golwe is deur die greep van die plaatys uit hulle gewurg, en die water is spieëlglad en glinster. Die boot vleg al singend haar pad deur die bane na die oop damme. Die skroef maal lustig vleismeul, stoot hoë walle agtertoe uit en die skotse wieg op die golwing. Sommige het skuins gekantel en al dobberend weggedryf om agter in die skroefstroom te beland. Die ouer skotse is al baie keer deur die wind teenmekaar geslaan sodat hul rande soos pierings omgekrul is. Daarom ook dat hierdie formasie "pieringys” genoem word.

Die hoë branders is vergeet. Dick voel nie meer "stupid” nie en ek sal nie meer met ’n donkiekar deur die Karoo ry nie. Net hierdie gesig was al genoeg beloning vir die kwale van die stormbreedtes.

Die son gaan in ’n wit gloed regs agter die wit liglyn ooder. Ons gesels tot laat in die eetkamer. Ons oefen nog ’n paar keer "Lei, vriend’Iik lig”, drink koffie, eet roosterbrood om middernag, en op jou bed hoor jy die geklap van die ys teen die voorstewe, afgewissel deur die gesuis van water in die oop bane.

Kort na ses die oggend van 12 Desember, by 58 grade suid, het ons oor die meridiaan gevaar en ons horlosies twee uur teruggestel.

Om twaalfuur die Saterdagmiddag hou die boot in ligte ys langs ’n klein poeletjie water stil. Die enjins word afgeskakel. ’n Adelie-pikkewyn speel seemeeu agter die vissies aan. Sy verpotte blink lyfie, met vlerkies styf daarteen gevou, boggel nou en dan bo die water uit. Dan verdwyn hy.

Ontblote hoofde, halfmaan om ’n plankstellasie, waarop in seil toegewerk die oorskot van ’n vriend en ’n vader lê. Die Noorse vlag daaroor skitter rooi in die regaf strale van die son. ’n Kort rede in Noors deur die kaptein. Sy oë is nie droog nie. ’n Handjievol sand van sy vaderland word op sy bors gestrooi. Sag en passend klink "Lei, vriend’Iik lig” uit twee-en-twintig beknelde kele. Dan word die stellasie skuins gelig. Voete eerste gly die seilkis onder die vlag die water in. ’n Ligte rimpeling, en stowwerige sand op die watervlak. ’n Spierwit voël wat soos ’n duif lyk, sweef oor die stilwordende water, en dan boggel die pikkewyn weer agter die vissies aan.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2469 gaste aanlyn