Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Ons smag almal na innerlike rus en vrede. Die vrug van die Gees bevat nege gawes waarvan sagmoedigheid een is. Ons sondige natuur laat ons gewoonlik ons eie belange en voordeel soek wat ons heel dikwels bitsig en wraakgierig maak teenoor ons geliefdes en naastes. Die Here sê dat die sagmoediges die nuwe aarde ontvang, en Hy stel ons wel in staat om die natuurlike drang na selfgelding te oorwin. Bid vir daardie werking van die Heilige Gees in jou hart sodat jy die gawe om sagmoedig te wees, kan ontvang want dit bring vir jou rus en vrede.

DIE WIT HORISON (9)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

Die leser sal met verdrag ook lees van ander Suid-Afrikaners wat slegs as waarnemers die volle reis meegemaak het asook van 'n hele aantal Noorweërs teenwoordig.

EERSTE SLEE-RIT; BASIS; POLARBJORN

Die agt Nore het aan boord gekom. Hul leier, Sigurd Helle, het voor geloop. Hy was ’n kort, stewige man met ’n blink pankop.

Hy en twee van sy geselskap was toe al drie jaar ononderbroke in Antarktika. Henry, die werktuigkundige en die Goliat van die klomp, was twee jaar daar, en hulle het verneem of hulle nie saam met ons vir nog ’n jaar kon agterbly nie. Dit kon ons op daardie oomblik nie verstaan nie.

By eerste kennismaking is die Nore stil en teruggetrokke. Ons omgang met hulle op die boot het getoon dat hulle weke neem om uit hul dop te kruip, totdat ons gevind het dat een dop uit ’n bottel rede of verskoning was om inhibisies te laat vaar en hulle werklike self te wees. Dan was daar harde gepraat, luidrugtige gelag, ’n klap op die skouer en speelse gestoei as tekens van gulhartigheid. Hulle het saam met die kaptein in sy kajuit verdwyn om daar Noors en proppe te laat spat.

Teen die aand het die meeste van die Nore en ’n klompie van ons met die muskeg, die kaboes en ’n slee, gelaai met sakke vol klere van Vic, Marten en Dick, na die basis vertrek. Die kaboes is ’n karavaan op ’n slee, toegerus met vier slaapbanke, kosvoorrade, kookgerei en ’n pompstofie. Dit sou nog vir baie toggies en geselsies ons tuiste wees. Die muskeg is ’n Kanadese petrolaangedrewe voertuig met breë gomlastiekrusperbande.

Aan die begin het ’n paar van ons agter op die slee gesit of gelê om soveel moontlik van die omgewing te sien. Ons het gevoel soos ’n klompie trekkers wat die grasvlaktes van die Vrystaat vir die sneeuvlaktes van Antarktika verruil het. Vir sommige was die ondervinding op die slee gou ’n koue ontbering, onbeloon deur die bleek, nuwe omgewing.

Hulle het in die ry afgespring en vorentoe gehardloop om die warmte van die kaboes te haal. Na ’n uur se ry en drie myl se sneeu, het ons stilgehou om koffie te maak. Dit was bra vreemd toe Jan-Pur Madsen met sy mes langs die pad ’n stuk sneeu uit die "grond” sny en in ’n bak op die pompstofie sit. Sneeuwater is heeltemal vars en maak heerlike koffie. Die koffie het stomend warm gelyk toe hy dit aangee, en jy was verbaas dat dit so stomend in die keelgat kon afgaan. Die stoom dui egter net die verskil tussen die temperatuur van die koffie en die van die lug aan en nie dat die koffie ondrinkbaar warm is nie. Sou jy gewag het tot die stoom opgehou het, sou dit teen daardie tyd yskoud gewees het.

Ek en Sigurd Helle het alleen op die slee bly sit, hy in sy dik pooljas en ek in my somer-anorak om die wind van die vel te weer. Dit was verfrissend koud. Die hele wêreld was sneeu en niks anders as sneeu nie. Die omgewing lyk saai en eentonig. Gou leer jy nuwe waardes soek, en vind dit nie onder op die veld nie, maar in die lug en op die horisonne om jou.

Op die oostelike horison het die lug ’n liggroen kleur gehad. Helle kon dit nie verklaar nie. Later het ons geweet dit is die weerkaatsing van ryk plankton-draende waters ver weg na die ooste en ook die teken van oop see. In die noorde en die regterhelfte van die weste was die horison donkerblou oor die blou waters van die oop strook water waardeur ons daardie oggend gevaar het. Reg voor ons was die suidelike horison spierwit oor die Antarktiese vasteland.

Die eerste Wilsonstormvoël het by die kant van die slee gefladder. Dis ’n kleinerige, pikswart voeltjie, bietjie groter as die gewone swaeltjie, met ’n gesplete stert en ’n dwars wit streep oor die rug waar die stert begin. Om die beurt fladder sy vlerke om hoogte te wen en sweef hy op die wind. Naby die basis was daar nog een, en intussen het ’n groot swerm sneeupetrussies verbygevlieg see toe.

Sover soos jy kon sien, het die sneeu in riwwe gelê soos spoelinge op ’n sanderige rivierbedding. Hulle het gewissel van ’n paar duim tot sowat een voet hoog en die rit baie stamperig gemaak. Die hele wêreld was jou wapad, en daarom en omdat hy so besonders eenders was, was dit maklik om te verdwaal. Die rigting na die basis is met konkas en vlaggies afgepen. Die merkkonkas, party swart en ander rooi, het sowat een kilometer uitmekaar in ’n loodregte lyn direk suid na die basis gestrek. Die speling van die lig daarop het party soos stippels op die witheid laat lyk, en ander weer in hoë torings uitgerek.

Na ’n oneindigheid van sneeu wat net deur die stippeling van die konkas afgewissel is, het ons die hoë metereologiese toring by die basis gesien. Ons het geweet ons was ver oor halfpad van die twee- en-twintig myl afstand, en dit het ons nog vyf-en-veertig minute geneem om die basis te bereik.

Die eerste Suid-Afrikaanse basis het op 70.5 grade suid en 2.7 grade wes op ’n ysbank van sowat 900 voet dik, 120 voet bo seevlak, gelê. Tussen die kus en die basis was dit waterpas gelyk. Vyf myl wes het die eerste rante verskyn, wat getuig het dat daardie ys op vaste grond geanker was. Suidwaarts het ander rante uitgestrek totdat tagtig myl ver die eerste platorand en rotspieke deur die sneeu gebreek het. Jy kon hulle net op besonder helder dae van die vyf-en-sewentig voet hoë metereologiese toring af deur ’n verkyker sien. Die naaste was die platorand - Depotberg - waarvan die ligbeeld smiddags onderstebo op die suidelike horison verskyn het.

En toe het ons die werf ingestoom. Al wat jy kon sien, was pale en drade: vier radiomaste, twee langes en twee kortes, met drade tussen die hele klomp gespan. Regs het ’n houthut met glasdak gestaan, waaruit die weerkundige ballon op winderige, koue dae met die optiese teodoliet gevolg word. ’n Bietjie nader was die groen langwerpige werkswinkel vir trekkerreparasies. Reg voor ons, anderkant die pale en drade, was ’n groot kas met ’n wegskuifdak waaruit die weerkundige ballon met die radiosonde onderaan losgelaat word om voggehalte, temperatuur en lugdruk op verskillende hoogtes bo die sneeuvlak mee te bepaal. Die verandering van frekwensie van die radiosonde se seine wat deur die verandering van temperatuur, voggehalte en lugdruk met stygende hoogte veroorsaak word, word deur die radiomaste herlei na die ontvangstelle in die weerkantoor onder die sneeu. Effens links was ’n ding wat soos ’n watertenk langs ’n treinspoor gelyk het. Dit was net kleiner. Dit was die geheellug-kamera wat outomaties uit die radiokamer beheer word om elke minuut vyftien sekondes se beligting te gee om die auroras in die winterdonkerte te registreer.

Maar daar was geen huis te sien nie!

Hoe meer ek vir Sigurd Helle gevra het waar die huis is, en hoe meer hy probeer verduidelik het, hoe minder het ek verstaan en meer daarvoor rondgesoek. Hy het my na ’n kis gelei wat ek gedink het nog ’n apparaat bevat. Dit het gelyk soos ’n negosiekis wat op die sneeu weggegooi is. Ek kon nie die doel daarvan begryp nie, totdat skielik Jan-Pur se kop soos ’n rusper uit ’n okkerneutdop daaruit verskyn. Ek het gewonder wat daar ondersneeus aan die gang was. Ek het afgeloer, en nadat my oë, ná die sterk glimmering van die sneeu, aan die donker daaronder gewoond geraak het, het ek ’n regaf ysterleer na onder sien lei. Toe was dit vir my duidelik: dis die voordeur van die huis.

Die voorafvervaardigde huis is drie jaar vantevore deur Helle en sy mense bo-op die sneeu aanmekaargesit. Die eerste jaar kon hulle deur die vensters die ystonele buite sien, die strale van die ondergaande son op die sneeu en teen die wolke sien speel, en van binne af sneeustorms sien nader en die wind sien waai. Maar die huis het weens die hitte wat hy van die son absorbeer en wat binne ontstaan, gesak, en die sneeu, wat ’n neerslag van gemiddeld vier- en-’n-half voet per jaar gee, het die huis bedek. In die drie jaar van sy bestaan is die leer van tyd tot tyd verleng sodat dit nou sewen- tien-en-’n-half voet diep na die vloer van die versonke woonkwartiere gelei het.

Ons het afgeklim, Helle eerste en ek agterna. As nuweling moes ek styf met handskoene aan die ystersporte vasklou om nie te val nie. Die ystersporte het taai gevoel. Kaal hande sou daaraan vasys. Ons het in ’n ysgang beland wat tagtig tree ver penreguit in die sneeu getonnel het. Water het van die dak gedrup en die ysvloer glad en glibberig gemaak. Ek het wydsbeen soos ’n makou op eiers geloop.

Twee rye kaste het die mure gevorm, party met vermufte kos en brood, en ander nog nie oopgemaak nie. Die deure in die mure van die gang was swaar en stram. Hulle moes so swaar wees om die koue van die gang uit die kamers en kantore te hou, en die taai ys op die ysterskarniere het hulle stram laat oopmaak.

By die eerste deur in was die ruim meteorologiese kantore met die mooiste apparate denkbaar, met presies dieselfde radiosonde-ontvangtoestelle waarin ons, as ekstra hulp vir die meteoroloë, drie weke lank voor ons vertrek by die Weerburo in Pretoria onderrig ontvang het. Langsaan was ’n groot vertrek vir Niek en Marten om hulle radio-uitsendings en ontvangs in te doen, en net duskant, in ’n hoekie weggesteek, die kamertjie van agt-en-veertig vierkante voet wat as spreekkamer en laboratorium vir my sou dien. Geen mediese apparate en middels daarin nie, net ’n elektriese naaimasjien! Die Nore se span het nie ’n mediese beampte ingesluit nie. Die plankvloere was wit en skoon. Rolf, die Noorse kok, het later meegedeel dat dit hulle drie weke se harde werk gekos het om hulle skoon geskrop te kry.

By die volgende deur in was die eet-sitkamer. ’n Sprokiesagtige plek. Kleurryk in rooi, blou en roomkleur in teenstelling met die saaie witheid buite. ’n Lang tafel met regop stoele het teen die een muur gestaan. In die een hoek was ’n groot radiostel en langsaan ’n klein venster in die buitemuur. Dit het geen lug ingelaat nie. Jy het daardeur ’n onaardse purper van die sonlig deur die dak van die ysgrot, waarheen dit gelei het, sien skyn. Dit was die ysgrot waar sneeu vir die konkas in die kombuis gespit is. By die plus-temperatuur van die kombuis het die sneeu ontdooi om drink- en opwaswater vir die skottelgoed te voorsien.

In ’n gedeelte, reghoekig met die eet-sitkamer, was die kombuis wat met vasgeboute kaste aan die mure eg Amerikaans gelyk het. Blinkgeskuurde potte en panne het op die rakke gestaan en aan hakies teen die mure gehang. In die middel van die vloer het twee paraffienstowe rug aan rug gestaan, elkeen met ’n oond en twee branders wat jy pomp om die vlam te gee.

Rolf het koffie aangebied toe ons binnekom. Ons het die koffie, na ons ondervinding in die kaboes, dadelik stomend gedrink. Hy het vir elkeen ’n bord aartappels en vis en tamaties gereed gehad en op die tafel neergesit. Die stoom het op die borde gestaan. Jy het geblaas en gewag, en Rolf het gelag.

"Joe tienk iets hot!” het hy gesê en ook van die ander Nore het gelag. Jy het nie dadelik geweet waaroor nie. Dan neern jy versigtig ’n happie, en tot jou verbasing is die kos net effens lou. Na die koue rit op die slee het ons dit met stoom en al verslind.

Links uit die kombuisgedeelte het ’n donkerkamer vir ontwikkeling van geomagnetogramme en foto’s gelei, en regs twee kantore.

Verder af in die gang het jy verby klamgeweekte biltong in oop kaste gestap, wat soos vrot velle gelyk het. Dan weer kiste en kiste onoopgemaakte visbolle, gemerk "fiskeballe”. Jy het gedink aan die eerste paar dae op die boot, en gemerk dat die afkeer van visbolle internasionaal is. Links het jy na die slaapvertrekke gedraai. Daar was veertien slaaphokke met dun laaghout van mekaar geskei. Die beddens het net daarin gepas. In een het die bed sowat vier voet van die grond af op dwarsbalkies gerus. Op jou vraag hoekom so hoog, het Helle verduidelik dat hoe hoër die bed hoe warmer. Wanneer die temperatuur op normale bedhoogte 2 grade Celsius is, is dit op ’n hoogte van vier voet 5 tot 7 grade.

Nog verder af in die gang was ’n ysgrot met vleis wat aan die balke hang. Rolf het ons verseker dat vleis hier vir altyd goed bewaar bly. ’n Aangename, dog kille, vooruitsig as jou lewe hier ten einde moes kom. Verder regs was die ingang na die ballonskag, waar ’n groot sneeubedekte waterstofontwikkelaar gestaan het. Hier moet alles daaraan gewoond raak om onder ’n dik laag sneeu te werk. Langs die vleisgrot was ’n wasgrot met ’n paraffien-warmwatertoestel en ’n elektriese wasmasjien. Hier sou Chris later ons veel besonge badkamer maak en inrig.

Met die terugstap het die gedreun van masjiene nadergekom. Voor by die onderpunt van die ysterleer het ’n deur na die masjienkamer gelei, waar twee dieselmotore om die beurt die elektriese krag vir die ligte en die apparate verskaf. Jy het gevoel of jy ná die koue van die ysgang in ’n bakoond beland het. Waar die temperatuur van die ysgang minus 4 grade was en die ander vertrekke s’n plus 10, was dit hier plus 25 grade. Die vloer was met ’n swart olielaag bedek en was meer glibberig as die vloer van die gang.

Die deur kon jy nie vir koelte laat oopstaan nie, want dan sou die hitte in die gang opwalm, die ys teen die dak laat smelt en daar ’n voortdurende donderstorm van reën veroorsaak. Met die sneeuklere aan het dit kokend warm en bedompig gevoel en jy het jou gehaas om in die koelte van die gang terug te wees.

Ons het nog ’n slag van Rolf se koffie gedrink. Toe het ons die terugreis na die boot begin. Dit was twee-uur in die oggend.

Alles het voorspoedig verloop tot vier myl van die boot, toe masjienmoeilikheid die muskeg laat staan het. Reg voor in die pad het ons ’n rooi trekker sien nader kom. Ian het uit blydskap deur die sagte sneeu soontoe begin hardloop. Toe dit na ’n ruk lyk of hy nooit ophou met hardloop nie en hy hoe verder hy hardloop, al hoe groter word, het ek en Klei ook in dieselfde rigting begin stap om te sien wat gaande is en om die tyd om te kry. Stilsit het jou styf van die koue gemaak. Jy het gevoel of jy stadig van onder af in ’n blok ys verander. Beweging het jou warm gemaak en jou selfs op die ys baie gou laat sweet.

Hoe nader ons gestap het, hoe verder weg het die rooi trekker gelyk, hoewel ons nog seker was dat dit in ons rigting beweeg het. Na meer as ’n uur se gestrompel deur die sneeu, wat dan hard en dan sag was, sodat jy nooit geweet het hoe diep jou volgende voet sou wegsak nie, en Ian al twaalf voet of langer geword het, het ons besef dat die wit glinstering van die lig een van sy poetse op ons gebak het. Dit was nie ’n trekker nie, maar ’n rooi merkkonka wat skaars ses duim bo die sneeu uitgesteek het. Afstand was hier so moeilik om te skat soos op die see, grootte so moeilik soos ’n vis se lengte onder die water, en die tyd het jou ontglip omdat alles onder jou en om jou dieselfde was. In jou eie land het die bloeisels en die gefladder van herfsblare die jaargety aangetoon. Hier het net die goue son, die rooi wolke en die blou kaatsing in die lug jou laat besef dat daar dinge in die wêreld is wat nie wit is nie.

Toe het die wind sneeu in ons gesigte gepiets, en die riffelrigheid van die oppervlakte gelyk laat lyk. Jy het op ’n wolk gestap en die kleinste onsigbare riffie het jou laat struikel. Ook kon jy nie vooraf weet wanneer jy in sagte poeiersneeu gaan trap en tot jou enkels wegsak of op ’n veryste ysrif sou gly nie. Hierdie fisies-psigiese kombinasie van onegaligheid van die oppervlakte en onsekerheid oor die diepte of vastigheid van die volgende trap, gepaard met die agttien pond gewig in klere en mukluks, die onberekenbaarheid van die afstand, wat al hoe langer word, was besonder uitputtend. Op die sneeu is vier myl soos veertig op ’n gruispad. Klei se gesig was rooi, nie van warmte nie, maar van die geslaan van die skerp sneeu. Die elemente het op alle gebiede die oorhand oor jou gehad.

Ons het reguit in die rigting wat ons seker was na die boot lei, aangestap, tot Ian heeltemal skuins, links terug deur ’n vallei tussen twee hoë sneeurante, die kraaines van die boot sien. Ons het in die vallei tussen regaf sneeuwalle afgedraai. Die vloer waarop ons gestap het, was die gletser, en die plato bo-op die walle het uitgeloop in die arms van die inham. Hierdie lae gedeelte het vinniger beweeg as die hoër gedeeltes en breë, horisontale skeure tussen horn en die plato’s veroorsaak. Hierdie ysskeure is die nagmerrie van ’n poolreisiger. Hulle word bedek met sneeu, en dis alleen aan die skielike verandering van die sneeuformasie dat jy kan weet dat jy amper bo-op een is.

Dis die land vir oop oë, nie net om die natuur om jou en bo jou dop te hou of om seker van jou rigting te wees nie, maar om jouself te behou.

Om agtuur die Saterdagoggend het ons moeg by die boot aangekom, en dadelik begin om die voorrade wat deur die matrose met die hyskrane tot op die sneeukaai geswaai was, op die slee te laai en met die trekkers na ’n tydelike opslagplek sowat twee myl van die boot te sleep.

Ons is in twee spanne verdeel, en elke span het ’n skof van twaalf uur op ’n keer aan die gang gebly. Ná die laai van sowat twintig sleevragte gedurende so ’n skof, die wegsleep en weer aflaai, het jou spiere na rus en ontspanning gesmag. Jy het dan selfs nie lus vir kos gehad nie. Jy het dan net die slaapbank begeer wat soos ’n donsmatras gevoel het na hy met die rol van die boot so klipperig en klonterig was. Reeds na die eerste dag was die uitspan aangenamer as die begin.

Maar die wil het die liggaam gevoed, en verhoed dat die inspanning jou voor die tyd laat wegsluip het.

Die waarnemers het gewerk asof die ekspedisie hulle s’n was. Sommige van ons ander het skertsend aangevoer dat hulle dit doen om so gou moontlik uit die koue weg te kom. Hulle hulp en blymoedigheid was ’n aanmoediging. Kosie het altyd glimlaggend en gewillig op sy kort beentjies rondgedraf, so ook Chappie. Dan was daar die goeie Gawie, wat altyd harder gewerk het as wat dit gelyk het hy kon. Lorrie het onder in die ruim saam met Jannie die kiste en die konkas aan die katrolkloue gehaak, en teen die einde van ’n skof het hulle so swart soos steenkoolwerkers gelyk. Dit was snaaks om vuil gesigte te sien waar buite alles wit en skoon was. Hulle het snags glimlaggend, vriendelik en vuil uit die ruim te voorskyn gekom. Kort-kort het jy gevra hoeveel voorrade nog onder in die ruim was, en elke slag het hulle geskree: "Amper klaar!” Jy het gou besef dat dit maar net ’n troos en ’n aanmoediging was.

Jannie was baie gelykmoedig en het net terneergedruk gelyk wanneer hy nie kans kon kry om sy foto’s te neem nie. Hy was so besig en ingekluis dat hy nie snags die veelkleurige sonnige beligting op die sneeuplato en teen die ysbankfront kon sien nie. Kort voor middernag het die son halfpad oor die sneeurant, suid van die boot, gelê en die kruine van die ysbankfront pêrelpienk geskilder. Die regaf wande het kanariegeel geblink, en tot diep onder in die helder water gestrek en in die rimpeling daarvan getril.

Dit was die tyd van die vier-en-twintig uur wanneer die sneeuvelde op hul aanloklikste was. Die pêrelpienk op die plato’s het binne ’n paar minute in pers verander, die wande van die ysbankfront in blouvaal, en wanneer die son vir ’n oomblik agter die sneeu-arm van die inham induik, het die wêreld vir ’n kort siesta verdof. Dan het die voëls oor jou kop geskater en die skuas het skelm nader na die robvleis gesluip. Binne ’n paar minute het die goue skyf van die son weer verrys en gou was die sneeu-oppervlakte ’n helder glinstering wat in jou oë teruggekaats het.

Sneeubrille het neëntig persent van die skerpheid van die lig uitgeskakel. Met hulle op, was dit nie nodig om jou oë op skrefies te trek en deur jou ooghare te loer nie. Met oranje lense kon jy ver sien, maar hulle het nie genoeg beskerming vir die oë gebied nie. Die groen en die gerookte lense het die beste beskerming gebied en die oë koel laat voel, maar met hulle kon jy weer nie afstand en die aard van die sneeu-oppervlakte oordeel nie. Wanneer jy egter geleer het om enigiets onder jou voete te verwag en nie omgee of dit ’n gat of ’n hopie was waarin of waarop jy trap nie, het jy die lense verkies wat die oë die koelste laat voel het. Sonder brille het die oë rooi en pynlik geword. Sneeublindheid het ontwikkel weens die brand van ultraviolet strale van die son op die retina, wat blinde kolle in die gesigsveld veroorsaak het en die oogappel erg pynlik gemaak het. Dit was die ondervinding van mense voor ons wat gereken het dat wanneer die son skuins lê of deur die wolke bedek is, jy voorsorgmaatreëls kon ignoreer. Maar hul ondervinding het ons tot versigtigheid gemaan.

Die Sondagoggend vroeg het ’n jong, bruin-donserige keiserpikkewyntjie teen die onderste helling van die ysbankfront probeer uitklim. Hy was skaars twee voet hoog, en seker maar onlangs gespeen. Een tree vorentoe het hom twee agtertoe laat gly. Toe het hy besluit om liewers op sy pens die steilte af na die sagtheid van die water te seil. Hy het effens geswem en ewe astrant op die naaste ysvlot gespring. Hy het sy vlerke uitgerek en na die inspanning teen die ysmuur ’n groot gaap van pure verligting gegee.

Twee dae al het ’n groot see-olifantbul op ’n lae uitsteekpunt van die ysmuur gelê en slaap. Ná die rumoer en opgewondenheid op en om die boot het ek sy rustigheid beny.

Die omgewing was stil, stil en rustig soos ’n plaaswerf op ’n Sondag.

Die Maandagoggend het die rimpeling van die water verstyf. Die termometer se kwik het tot minus 4 grade gedaal, en die dun lagie ys het dikker op die water geword. Teen die middag, twee-en- ’n-half dae na ons aankoms, was al die voorrade afgelaai en by die tydelike opslagplek gestapel. In teenstelling met die harde werk was die paar dae wat daarna gevolg het, ’n aangename ontspanning, gewy aan die beantwoording van briewe wat voor ons vertrek by die boot aangekom het. Dit was ook vir minstens ’n jaar die laaste kans om briewe aan familie en vriende in jou eie handskrif te skrywe. Hierna sou hulle net die vreemde, onpersoonlike handskrif van die Morse-ontsyferaar by die D. F. Malan-lughawe kry. En nuus wat deur soveel hande gaan, kan nie persoonlik wees nie.

Dinsdag het dit warmer geword en die jong ys op die water het ontdooi. Teen die middag het Ian my visstok kom leen. Ek was verbaas oor sy skielike vissersentoesiasme, aangesien ek telkemale, wanneer die boot in die ys vasgesit het, deur die klein openinge in die ys probeer visvang het sonder dat daar ooit eers ’n tikkie aan die aas was. Maar nou het hy klein vissies tussen die neus van die boot en die ysbankfront gewaar waar hulle aan krill eet wat aan die yswal vasgeys het. Hy het stukkies vleis, vis en ham by Johannes in die kombuis gekry en aan die hoek gesit, maar die vissies het hulle nie daaraan gesteur nie. Toe kom iemand met die blink gedagte om ’n blink lepeltjie aan die punt van die lyn te sit. Ian het die lepeltjie oor hulle gegooi, maar nog wou die vis nie byt nie. Inteendeel, die beweging van die lepel het hulle verwilder. Toe het hy die lepel stil tussen hulle laat hang net om hulle effens te kielie, en sowaar, daar byt hulle. Hy het een na die ander uitgetrek. Toe hy moeg word, het ek oorgeneem. In ’n kits het ons dertig vissies op die dek gehad. Hulle was almal ewe groot, sowat tien duim lank, smal met klein bekkies, en wanneer jy hulle uit die water lig, was hulle so deurskynend dat jy die hele beenstelsel kon sien. Na ’n paar sekondes het hulle vaal en ondeursigtig geword. Die grootste moeite was om hulle sender handskoene van die hoek te kry, want hulle is yskoud uit die yswater opgepik. Visse is koudbloedig en neem die temperatuur van die wateromgewing aan - en Antarktiese water is koud. Omtrent ’n halfuur het hulle op die dooie krill geaas en toe net so skielik soos hulle gekom het, verdwyn.

Hulle was almal van dieselfde soort, Trematomus borchgrevinkii Boulenger, en behoort aan die groot familie Nototheniidae wat algemeen en die meeste van alle vissoorte om die kus van Antarktika tot by Suid-Georgia, Macquarie-eiland en Suid-Orkney voorkom. Soos alle visse het hulle ’n lae rooiseltelling in die bloed. In teenstelling met hulle het die warmbloedige duikdiere, soos robbe, walvisse en pikkewyne, besonder hoë rooiseltellings en proporsioneel ook ’n baie groot volume bloed, wat hulle in staat stel om baie suurstof vir lang onderwaterse swem te stoor wanneer hulle bo die water kom asem skep.

Wat getal bloedselle betref, is die teenoorgestelde uiterste die een genus in die visgroep Chaenichthyidae wat geen rooibloedselle, om suurstof in te dra, het nie. In plaas van rooi bloed het hulle ’n melkerige of liggeel vloeistof, met ’n klompie witselle, in die are. In koue Antarktiese water is die konsentrasie van suurstof amper twee keer soveel as in warmer seewater, met die gevolg dat die suurstof uit die seewater gewoonweg deur die kuwe van die visse in die sirkulerende vog in diffundeer en ’n hoë genoeg spanning vir die gewone metaboliese prosesse in die liggaam gee.

Die res van die dag was ek besig om robkakebene, visse en krill in vier persent formalien in ’n tiengelling-melkkan te pak vir terugsending aan die Kaapstadse museum, en om ’n verslag oor die inhoud van die kan op te stel.

Van vyfuur af die Donderdagoggend het die wind sterk by die bek van die inham ingewaai. Die boot het teen die yswal dobber gespeel en sy kant hard daarteen geslaan. Met elke deining het hy ’n paar voet gestyg en geval. Sy bakboordstewe het so hard geslaan dat een van die binnestutte gebuig het. ’n Paar minute later het ’n besonder hoë deining hom nog harder gegooi, sodat nog ses stutte gebuig het, en ’n bars in die bodekgedeelte van die kantplate geskeur het. Stoppelbaard het bekommerd met die ander manskappe beraadslaag en die kaptein gaan wakker maak.

Die motore het dadelik begin raas en die boot het vorentoe en agtertoe gebeur. Die kaptein, self aan die helm, wou die oop see haal sodat sy boot nie teen die ysmuur stukkend geslaan kon word nie. Met gesukkel het die boot gedraai. Hy het sy neus feitlik in die ysgrot gesteek, waarvan die dak besig was om los te bars. Gelukkig het hy nie daarteen gestamp nie.

Buite die inham was die golwe baie groter. Dadelik het ons gevoel ons was nie meer wat ons was nie. Ons moes briewe skrywe om met die boot terug te stuur, en daar was nie tyd om kuwe te laat saamtrek nie. Tussen die gesluk het die tikmasjien gedreun en ek het nie omgegee hoeveel tikfoute insluip nie. Ons het ’n digte mis ingevaar en die vasteland uit die gesig verloor. Dit het gevoel of ons op enige plek op die wye oseaan kon wees. Die golwe was skerp en hoog en die wind het snerpend en hard ’n ysreën oor die boot laat loei.

’n Paar keer het die kaptein die boot in die bek van die inham gestoot om te sien of die ander nog nie van die basis teruggekeer het nie, sodat hy hulle kon oplaai en my kon aflaai en dan so spoedig moontlik voet in die wind kon slaan, terug na die warmer wêreld. Maar telkemale het hy niks gewaar nie, en dan maar weer die mistigheid ingevaar.

Toe ons een keer by die yswal aankom, het daar wel ’n volgelaaide slee op die sneeukaai gestaan, maar niks wat dit kon gebring het nie. Later het ons uitgevind dat dit Chappie en Vinge was wat met Suikerbossie gekom het en toe die slee, waarop die Nore se bagasie gelaai was, afgehaak en na die substasie gaan kyk het.

Die substasie is sowat drie myl noord van Polarbjornbukta en naby Otterbukta. Dis met kos, elektriese krag van sy eie ontwikkelaar, ’n paraffienverwarmer, ’n klein sender om met die hoofbasis in verbinding te tree en vier slaapbanke toegerus. Volgens Rolf, die Noorse kok, was dit baie aangenamer om daar as in die hoofbasis te woon, omdat dit naby die see was, waarvan die blou van die water afwisseling kon verskaf wanneer die sneeu jou "witgallig” gemaak het. Daarvandaan kon jy ook ysberge sien verbydrywe en vir tydverdryf hulle tel.

In die donker van die wintermaande kom die keiserpikkewyne op die vasteland daar naby uit. Dan sit die mannetjies gedienstig en gedweë soos verpotte kraters op die sneeu, elkeen met die een eier wat sy wyfie op sy pote gelê het.

Die laaste keer toe ons by die inham gaan inloer het, het die groot see-olifantbul nog teen die yshelling gelê asof die klimaat tropies-warm was. Hy het horn aan niks gesteur nie, selfs nie aan die vallende sneeu, die skerp geloei van die wind en die rumoer van die motore nie.

Om middernag het Helle en Hannes op die sneeukaai aangekom. Hulle het die oggend al van die basis vertrek, maar moes waarnemings op die terugtog maak. Helle moes vir Hannes die konkas en pale wys, waarvan die posisies van tyd tot tyd bepaal word om die rigting en snelheid van beweging van die ys vas te stel.

Om halfeen die Vrydagoggend, 15 Januarie 1960, het die Polarbjorn vir oulaas sy snoet in die ysmuur geboor. Almal was daar, buiten Dick en Niek. Hulle twee het by die basis agtergebly om teen brand wag te staan en om radiokontak met Suid-Afrika te hou. Ons het tot siens gesê, en die wat aan boord moes gaan, het opgeklim en ons agt het langs mekaar op die sneeu gestaan.

Die skroef het begin maal. Die boot het tru gestoot en die klomp het almal op die voorstewe saamgedrom. Hulle kameras was op ons gerig en ons s’n op hulle. Hulle het gewaai en ons het nog harder teruggewaai en geskree, hoewel ons geweet het dat hulle ons bo die gedreun van die motore nie kon hoor nie. Die bootfluit het ’n paar keer geblaas. Die kaptein het vriendelik-rustig uit die klein venster van die brug geleun en ons met ’n handgebaar gegroet. Vir hom was hierdie afskeid niks nuuts nie. Vir hom was dit ’n allejaarse gebeurtenis. Hy was in sy skik dat sy taak, na soveel ontmoediging in die dik ys, voltooi was.

Die boot het tot teen die noordelike kant van die inham getru en toe swierig ’n boog vorentoe gemaak. Drie figure het na die agterstewe gehardloop en nog vir oulaas gewuif. Hoewel hy stadig gevaar het, het hy gou in ’n donker miswolk wat oor die bek van die inham gestrek het, verdwyn. Ons laaste direkte verbinding met die buitewêreld was verbreek, vir ’n hele jaar, as ’n boot na ’n jaar kon deurkom.

Hannes het opgemerk dat hy sulke oomblikke altyd sterk aanvoel, maar dat dit die maklikste was wat hy nog ooit afskeid geneem het. Hy het geweet waarvan hy praat, want hy was twee-en- ’n-half jaar op die Antarktiese vasteland in die voorbereidende en uiteindelike trekgeselskap van sir Vivian Fuchs.

Vir die eerste keer vandat ons as groep drie maande gelede saamgestel was, was ons alleen. Vir die eerste keer kon ons besef hoe min ons was. Nou kon ons nie meer na ’n ander persoon buite ons groepie stap om geselskap te soek of te ontvlug nie. Ons het hierdie oomblik van alleenwees verwelkom, nie omdat ons moeg was van die gedreun van die boot en die geselskap van mense nie, maar omdat ons met ons taak wou begin en die stilte en die alleenheid op die proef wou stel. Ons het nie op ’n doellose vermaaklikheidsuitstappie gekom nie.

Die dynserige buitelyn van die boot het in die mis verdwyn. Ons het opgehou met waai en na die slee en die trekkers gestap. By die opslagplek het ons die slee gaan laai.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2845 gaste aanlyn