Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Probeer so lewe dat die begrafnisondernemer jammer sal wees die dag as jy sterf.

DIE WIT HORISON (11)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

DAGRIT OP DIE SNEEU - INTROSPEK

Kort voor twaalf het ons met die muskeg vertrek - ek, Hannes en Vic. Vir die soveelste keer was ons op pad na die opslagplek by die ysbankfront. Ons moes woel om alles by die basis te kry voor die lang winternag alle aktiwiteite buite verbied.

 

Met die soontoe gaan het ons die vlagpaaltjies wat buite die reguit lyn gestaan het, in lyn terug gesteek. Om die beurt het ek en Vic uitgespring terwyl Hannes stadig aanry. Ons het gehardloop om vinnig die paal uit te trek, tussen die merkkonkas en die ander vlaggies gemik, en dan die paal so diep soos hy maklik kon gaan, gewoonlik vier tot ses duim, op die regte plek ingesteek. Dan het ons weer agter die sneeutrekker aangehardloop om hom in te haal en in te spring.

Met rukke, waar die skewe pale dig opmekaar gestaan het, het Vic sommer op die agterste slee gaan lê om gouer by te wees. Daar was geen tyd om te verspil nie, want die tog was lank en die sneeu kon skielik sy blad verander en jou spoed aanmerklik laat afneem, maar somtyds weer versnel. Dit was maar een van die onberekenbaarhede van die sneeuveld. Dit was nie nodig om teen tyd te jaag nie, maar elke môre kon ’n sneeustorm bring en werk buite laat staak. Die mens wik, sneeustorms beskik.

Die wind het teen 35 knope gewaai en in die kajuit van die voertuig was dit bitter koud. Dit was lekker om kort-kort uit te spring en ’n paaltjie te verskuiwe. Die beweging het jou warm gemaak. Die wind het ’n digte wasigheid van sneeu oor die wêreld gedryf, sodat die sigbaarheid tot omttent driehonderd treë beperk was. Qp die glas buite het die sneeu klewerig verys, sodat selfs die aanhoudende gevee van die veërs geen indruk daarop gemaak het nie. Die lugverwarmer in die kajuit was buite aksie, sodat wasem aan die binnekant van die ruit gepak het en daarteen verys het. Vee met die handskoen het net ’n paar vlokkies op ’n keer laat afkrummel.

Hoewel ons net drie leë sleë getrek het, moes ons die hele ent in tweede versnelling ry, want die sneeu was sag soos meel. Dit het ons spoed tot 6 myl per uur beperk. Sagte sneeu is soos wit modder. Soos jy op die plaas met die suikersleepwaens in die modderpappery vassak, so sukkel en sak jy hier in die sagte sneeu. Hier is dit darem nie die regte vasval nie, maar net noodgedwonge spoedbeperking. Die wit modder word harder hoe meer jy daaroor ry, waar die plaasmodder al hoe papper word. Wanneer die sneeu hard gevries is, is die hele veld ’n nimmereindigende skaatsbaan, riffelrig van die wind wat altyd waai. Dan laat die ruspertrappers geen merk nie, en in hoogste versnelling neurie hulle plesierig hul deuntjie.

Maar nou was die hardloop, hoewel verwarmend ook vermoeiend. Met elke trap het jy ingesak, en jy het nooit vooraf geweet hoe diep dit gaan wees nie. Elke trap was ’n raaiery en ’n ontnugtering, en jy het nie meer omgegee nie, want dit was maar een van die listige streke van Antarktika. Dit was jou taak om uit te vind, nie syne om te sê nie. Hierdie onbestendigheid van Antarktika het hom aantreklik gemaak.

Dit was nie net die sneeu om jou wat jou laat raai het nie, maar ook die weerkaatsings teen die wolke en die kaatsings van die sneeuvlak in die lug. Jy het die perlemoenpienk glinstering van yskristalle in die wolke gesien en geweet dat daar koue lugstrome was. Anderkant die wolke was die lug helderblou, wat beteken het dat daar oop see anderkant die ysvelde was, en nog verder weg op die liglyn was dit geelwit, wat die aanwesigheid van pakys aangedui het.

Die sneeu was eentonig, maar dit was net eentonig omdat jy so onervare was. Jy kon die afwisseling en verskeidenheid van sy persoonlikheid in die weerspieëlings in die gewelf bo jou sien. Dit was ’n diep, geheimsinnige romanse wat gedurig gewissel en jou nuuskierigheid geprikkel het. Nie geheimsinnig omdat daar geheime was nie, maar geheimsinnig omdat jou kennis van sy wese en wording so jonk en gering was.

’n Vriend hoef nie te gesels om geselskap te wees nie. Jy ken sy geaardheid, en jy ken ook die nuanses daarvan. Dit stimuleer jou bevriendingsdrang. Antarktika is ’n vriend. Hy gesels wanneer hy stil is. Hy stimuleer jou om meer van hom te wil weet. Hy skep ’n gewaarwording.

Halfpad na die opslagplek het twee kruispale met vlaggies aan die punte gestaan. Jy was bly en vol moed wanneer jy daardie baken gesien het, ongeag die rigting waarvandaan jy gekom het. Dit was ’n mylpaal en ’n tydwyser. Die tyd tot daar het ’n aanduiding van spoed en hoe lank jy moontlik vir die ander helfte sou neem, gegee. Weens die onvoorspelbaarheid van die gehalte van die sneeublad was hierdie berekening meermale egter net ’n gissing, en die ondervinding dikwels ver van die werklikheid. Kort voor die kruispaalmerk het die wind bedaar en die sigbaarheid het skielik verbeter, sodat ons vier tot vyf konkas ver kon sien. Die ruspers van die sneeutrekker het nuwe lewe op die onverstoorde oppervlakte gekry en met toenemende spoed gerol en geskaats.

Van die sitplek af agter die voorste punt van die regterrusperband het ek bedwelmd gesit en tuur op die klontjies bevriesde sneeu wat vorentoe spat. Hulle het gerol, gegly en bollemakiesie geslaan, hoe vinniger hoe verder.

Gedagtes was gesus deur die gedreun van die trekker, die eendersheid van die toneel en die reëlmatigheid van opvolging van klontjie op klontjie. Hulle het gerol en geskaats, die verskiet in. Bepeinsinge en herinneringe het opgewalm. Een warboel van gedagtes en herinneringe, ’n warboel wat na so ’n warrelgang skielik opgeklaar het, en jou vrou en kinders het jy daar gesien staan, hulle wat jou so bederf.

Daar staan Elmarie wat so skielik ’n ingewing vir nuwerwetse en smaaklike uitheemse disse vir ’n aandete kry. Net soos sy vol inisiatief in haar geregte is, so vol lugkastele is sy in haar toekomsidees. Die liefdevolle Janetje, met haar sagte, beheerste stem, kom met jou pantoffels aangestap. Waar jy sit, trek sy hulle vir jou aan en bedagsaam gaan bêre sy die stowwerige skoene waar sy weet jy hulle moreoggend weer sou wil kry. Henk, wat gretig ’n volle dag en nog langer lemoene pak en kort-kort kaalvoet die klipperige pad af na die boord hardloop om te kyk waarom die volgende vrag so vertraag is.

Jy het teleurgesteld gevoel dat jy jou humeur verloor het wanneer hulle effens stadig was en iets nie presies gedoen het soos jy dit wou hê nie. Jy het vergeet hoeveel dinge hulle beter gedoen het. Op daardie oomblik was jy kwaad, en onmiddellik daarna was jy kwaad vir jouself dat jy so ’n dwaas was om kwaad te word en nie ’n ander se motief verstaan het nie. Nou het jy besef dat jou opvlieënde bui van toe ’n aanduiding was dat jy kleiner was as hulle wat jy berispe het. Net ’n knik en ’n stilswye vir hul liefde of hul haat, en jy het hulle sterker gemaak en jouself nie verkleineer nie.

Wanneer gedagtes jou nie besig gehou het nie, het jy probeer om paaltjies in die dynserigheid uit te ken. Wanneer dit helder was, was dit nie nodig om op die pad te konsentreer nie. Die hele wêreld het voor en om jou gelê. Of jy het geraai watter klontjie die verste gaan rol. Daar was geen perke aan jou doen en denke nie. Jy was alleen, maar nie eensaam nie. Jy was meester van die omgewing en slaaf van die grootsheid van die uitgestrektheid.

Die Russe was die naaste bure, 300 myl oos by Lazarev, oor sneeu waar diep versteekte ysskeure met dun en bedrieglike sneeudakke jou gang waaghalsig maak en vertraag. Verder oos by Breidbaai was die Beige, 550 myl van ons af. Weswaarts by Halleybaai en nog verder by Shackleton die Engelse, waar die vriendelike Argentyners van die San Martin, 17 myl anderkant, hulle nabybure was,

Jy het verlang om ander as jou eie mense te sien, nie om te gesels nie, maar net om hul gesigte te sien en die vreemde gevoel van hul teenwoordigheid te gewaar. Jy wou nie gesels nie, want die klank van die stem sou die geselligheid verstoor. Jy wou net die gemeenskap geniet, omdat jy die nuwe gewaarwording wou laat insink sodat jy lank daarop kon teer.

Die konkas en vlaggies het reguit verby die uitdraaipad van die opslagplek na die substasie by Otterbukta gelei. Dit was die viermanshut wat Rolf so opgehemel het. Dit sou aangenaam wees om vir ’n naweek soontoe te gaan om alleen te wees. Daarvandaan was dit so maklik om na die see te stap. Dalk sou jy ’n Weddell of die ou see-olifant nog op die ysrand sien lê, of die ou bruindons-pikkewyntjie weer teen die yswand sien opsukkel.

’n Myl duskant die substasie het ses geteerde bloekompaaltjies gestaan. Hier was die uitdraaipad na die opslagplek. Hulle het onnodig gelyk, want links kon jy reeds die opslagplek bedrieglik naby sien. Maar wanneer jagsneeu ’n vlies oor jou oë getrek het en jy skaars die volgende padmerk kon sien, het jy besef hoe nodig hulle was. Sonder merke sou jy alleen met ’n kompas rigting kon kry, en wat sou die nut van ’n kompas wees as jy nie ’n skeepskaptein of ’n ervare landmeter is nie. Selfs ’n breuk van ’n graad se fout met jou lesing sou jou myle van jou bestemming laat wegdwaal in die waan dat jy al die tyd op die regte spoor was. Deur die refraksie en fratse van die weerkaatse en ysbelaaide lig het die ses paaltjies van ver af soos ’n hele plantasie gelyk. Daarom dat ons hierdie koersteken "die plantasie” genoem het.

Die kiste by die opslagplek het so groot soos karavane op hoë wiele gelyk. Die glinstering van die sneeu het hulle in die lug opgelig.

Van die afdraaiplek af kon ons seewater sien waar dit nie vantevore was nie. Dit was in die klein baai suid vanwaar die Polarbjorn sy vrag afgelaai het. ’n Stuk van die ysbank by die punt van die inham het afgebreek om as ysberg sy koers na die weste te vind. Waar hy uitgeruk het, het hy twee groot skeure in die vasteland agtergelaat, wat op hul beurt weer sal ontmoet om nog ’n ysberg te water te laat.

Die kuslyn is altyd aan die verander. Geen bestendigheid nie, baie minder as op die ander vastelande. Stadig lig Antarktika sy kleed en met rukke maak hy weer toe, en so hou hy tergend aan om die nuuskierigheid van die mens gaande te hou en sy inspanning te vererger. Wat sal daar onder lê? Palmbome, prehistoriese diere en uitgestorwe grotte en stede?

Maar nog is daar geen teken dat hy sy aardse massa sal blootlê nie.

Inteendeel neem die dikte van sy yskors elke jaar met sowat drie-en-’n-half duim oor sy oppervlakte van 5,036,000 vierkante myl toe. Hierdeur duik die dun, plastiese kors van die aarde by die pool dieper in, sodat die grootste gedeelte van die vasteland reeds 1,500 tot 3,000 voet onder seespieel le.

Deur die eeue heen het hy die oeroudste museum geword wat nog steeds die vernuf van die navorser fnuik om gegewens wat tot 6,000 voet diep begrawe lê, by te kom, te verwerk en te vertolk. Wanneer dit eendag kan gebeur, sal kennis verkry word oor die epidemiologie van siektes wat toentertyd beskawings geteister en laat verdwyn het, oor plante wat gegroei en uitgesterf het. Die tritiumgehalte van die afsonderlike yslae gee ’n idee van die eeu wanneer dit neergelê is.

Die verskil tussen die temperatuur wat die sneeumassa in stand hou en laat toeneem en die wat dit kan laat smelt, is vir groot gedeeltes van die jaar bra gering. As dit uitgewis sou word, sou die watermassa in die oseane geleidelik toeneem, oor die Kaapse hawe stoot, by Jan van Riebeeck se voetstuk ’n paar jaar lê en stadig styg totdat hy met sy voete in die water staan, dan reik tot by sy kousbande wat sy kardoesbroek toebind, en mettertyd, wanneer Tafelberg so te sê uit die water verrys en die trope finaal na die suide verskuif het, sou Van Riebeeck sy kierie 150 voet onder die water hou vir toekomstige argeoloë om te gis oor sy herkoms en kleredrag.

’n Idee dat Antarktika as ’n ideale reuse-wêreldyskas gebruik kan word vir die berging van surpluskosvoorrade, is ’n hersenskim. Op die oppervlakte geberg, bereik die inhoud, weens absorpsie van hitte, nooit konstant ’n lae genoeg temperatuur vir behoud nie. Alleen veertien voet en dieper af in die ys bly die temperatuur min of meer konstant laag genoeg by 12 tot 15 grade Celsius onder vriespunt, afhangende van die gemiddelde temperatuur van die voorafgaande ses maande. Dit is laag genoeg om baie voedingstowwe te bewaar, maar geensins almal en vir altyd nie.

By die opslagplek aangekom, moes ons uitvind dat hy gedurende die afgelope twee weke baie verander het. Feitlik al die voorrade was toe onder die sneeu. Die hoë kiste het soos sneeuhommels gelyk en die kleintjies was gelyk met die sneeuoppervlakte toegewaai. Hier en daar het die lang rye petrolkassies en die brandstofkonkas onder die sneeu weggeduik en vyftig tree verder, soos ’n luislang in die gras, net-net weer gewys. Dit het beteken grawe en grawe, soek en prospekteer soos vir minerale in ’n myn. Jy het besef dat alles wat laag en plat is, liewers met die eerste regpakkery bo-op die groot kiste gepak moes gewees het. Nou sou dit tydrowend en miskien nutteloos wees om na die gas- en suurstofsilinders en rolle draad te soek. Ons het die een skag na die ander gegrawe, elkeen drie tot vier voet diep. Dit was nie meer ’n opslagplek nie, maar ’n myn. Lank en tevergeefs het ek na die suurstofsilinders en stikstofsilinder gesoek. Ek kon maar net hoop dat iemand anders later gelukkiger sou wees en hulle weer êrens sou opdiep.

Die meeste van ons rookgoed het nog hier in kiste gelê en ons wou hulle graag aanry. Ons het die groot, swaar kiste aan die begin van die ry eerste getakel en toe hulle almal op die slee was, het ons ’n klomp van die petrolkassies gelaai wat ons gereken het rookgoed was weens hul ligheid. By die basis sou ons uitvind dat hulle maar net weer aluminiumstrokies en bytsoda vir Dick se waterstofontwikkelaar was. Nadat ons balke en konkas brandstof op die ander slee gelaai het, het ons begin met die vasbind. Dit het langer as die laai geneem, maar deeglike vasbind was nodig vir die hobbelrige pad terug. Die slee het geen vere en skokdempers nie. Elke onegaligheid in die pad word deur die vrag gevoel.

Om drie-uur die middag het ons daar aangekom, en om half-sewe met volgelaaide slee agteraan weer vertrek. Die pad tot by die plantasie was nog nie afgepen nie, en Victor en sy kompas moes uitspring en vlaggies insteek sodat die jagsneeu en sneeu- storms ons nie In die toekoms hier kon laat verdwaal en in ysskeure of in die see laat beland nie. Ongemerk het ’n halfuur met die tydsame deeglikheid van Vic verbygegaan.

’n Paar tree duskant die halfpadmerk het ons stilgehou by die slee met brandstof wat Vic nege dae vantevore daar moes laat staan toe die onwilligheid van Suikerbossie en die jagsneeu hom daartoe gedwing het. Hy het nou in sy eie sneeubergie gestaan. Net die blink van die boonste rande van die konkas was sigbaar. Die deksels was met wit pannekoeke van ys bedek. Ek het aan die oostelike kant van die slee begin grawe en Hannes en Vic aan die ander kant. Al drie aan een kant sou nie betaal nie, want dan drywe die wind net kort-kort ’n graaf vol sneeu in die mond van jou maat.

Nadat die wind hom by die myn inskiklik gedra het, het hy nou al weer teen agt knope gewaai. Ons het die glystroke van die sleë ondergrawe, en ek het die muskeg aangehaak. Met versigtig trek het niks gebeur nie. Toe het Hannes gesê ek moet maar so ’n „teppie” ruk. Die slee het gekom, maar daarmee het ook een kant van die trekkabel gebreek. Gelukkig het ons spesiaal die oggend ekstra tou opgelaai, juis om vir so ’n gebeurlikheid voorsiening te maak. Toe is ons daar weg met nog ’n ekstra volgelaaide slee, so- wat tien ton alles tesame.

Hannes het die hele ent bestuur. Die vrag was swaar vir die sagte sneeu en ons moes die hele pad in tweede versnelling ry. Die wind het sterker uit die weste begin waai, en die fyn poeiersneeu het lastig aan Vic se kant deur die onsigbaarste skrefie ingesypel. Jagsneeu het die indringerige eienskap om fyner as mosterdsaad sy lyf soos ’n amoeba deur die kleinste skrefie in te wikkel. Altyd aan die wind-af kant. Vic het aan die wind-af kant gesit en die sneeupoeier op sy skoot versamel. Die geraas van die enjin het gesels onmoontlik gemaak. Ons het stil langs mekaar gesit, elkeen met sy eie gedagtes en besig met sy eie waarnemings. Wanneer hy iets besonders gesien het, het hy die een aan sy kant met die agterkant van sy hand op die bors getik en gewys. Die ander het geknik dat hy dit gesien het.

Die son het agter die wolke ingekruip en geel en oranje op hul rande geverf. Tussen die wolke deur het die groengeel van die lug gewys. Die laagste streepwolke was rooigeel en die boonste glansend donkerrooi en verder boontoe donkergrou. Links het ’n klein kol helder donkerrooi deur die swak plekke van die digte wolke geskyn. Agter ons in die noorde was die wolke met ligrooi gestreep. Die son het vinnig suidwaarts beweeg en kort-kort ’n nuwe swak plek in die wolke getoon. ’n Gedurige wisseling van kleurskakerings. Ons was moeg.

Vic se lang, slap nek het begin knik, en Hannes kon met rukke nie duidelik die padmerke sien nie weens die glinsterende wit weerkaatsing direk op die ruite, en die glinsterende, dansende kleure- spel van die dalende son. Ek het stip deur die kantruit getuur en met die hand hom links of regs gewys.

Vandat jy die toring kan sien, het dit op mooiweersdae vyf-en-veertig minute geduur om die basis te bereik. Op ’n dynserige dag was dit korter. Dit was die enigste vergoeding vir die stremming van die sneeuwind. Maar daardie aand het dit met die swaar vrag en die sagte sneeu baie langer geneem.

Toe die son agter die wolke begin wegkruip, het dit besonder koud geword. Die temperatuur het gedaal tot minus 15 grade. Ons rue was styf van die koue en die eenderse posisie. Jy wou bewe om warm te word, maar kon nie. Voete word die koudste, omdat hulle die laagste is. Na die hantering van die kiste was daar vogtigheid in my mukluks en handskoene, en dit het begin verys. Die ekstra droë klere en mukluks was agter op ’n slee in die rugsakke, maar dit was te koud om dit die moeite werd te maak om dit te gaan haal.

Die pad was daardie aand oneindig lank. Die son het om nege-uur duskant die suidelike horison ondergegaan en dit was pikdonker. Die wolke het die sterre versteek, en om ons het ’n swart wolkmassa die liglyn uitgevee. Dit was die eerste keer dat ons in die donker gery het. Dit het gevoel of jy binne-in ’n swart ruimtelose bal ry en niks verder kom nie. Die ligte van die muskeg het nie ver geskyn nie en jy moes stip net op die spore van die oggend let en nou en dan koes vir ’n paaltjie wanneer jy te naby kom.

Toe het die son skielik weer tot ons hulp gekom. Sy strale het ’n oop kol in die wolke helder verlig, en teen die ligkol was die buitelyne van die toring gesilhoeëteer. Die enigste ligkol in die heelal, en presies net waar ons hom wou hê.

Met nuwe moed het die muskeg reg op die toring afgepeil en om halfeen die nag het ons die werf binnegestoom. Marten het ons tegemoetgekom. Hy was angstig om te weet of ons die seine op die radio-ontvanger wat hy die vorige oggend vir ons saam gegee het om die oppervlaktegolwe te toets, opgevang het. Die uitgrawe van Vic se slee en die koue het ons heeltemal daarvan laat vergeet. Ons het hom onnodig by die uitsender in die wind laat praat. Ons was jammer en hy was tereg teleurgesteld.

Hy het vir ons koffie op die stoof warm gehou. Sy bedagsaamheid het hom laat weet waarvoor ons sou lus wees en dat ons te moeg sou wees om dit self te maak. Dit was ’n genot om saam met iemand te woon wat net soveel aan jou lus dink soos jy self. Dit het die lewe die moeite werd gemaak.

Na ’n haastige ontbyt die volgende oggend het ons buitentoe gegaan om die slee af te laai. Geen wind het gewaai nie. Fluweel- glinsterend, net soos die dag met ons aankoms in Polarsirkelbukta, het die witheid in die son gelê. Dit was doodstil.

Sulke dae buite was om by God te wees.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2467 gaste aanlyn