Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

In die Bybelboek Sefánja is die volk met net een uitweg gelaat: hulle moes besef dat hul eie heldedade nooit die uitkoms vir hulle sou bied teen hulle vyande nie, dat hulle nie hulle eie krag kon vertrou nie. Ons klein Boerevolkie sal vandag weer daardie enigste uitweg moet volg: ons eie krag sal ons nie red uit ons huidige situasie waar ons stelselmatig uitgemoor word nie; ons sal as volk weer ons hoop en volle geloof in God moet stel om vir ons die oorwinningsmaal te berei.

DIE WIT HORISON (13)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

Winter: siektes onder Honde en Mense

Op 31 Mei is Uniedag vir die vyftigste (en laaste) keer in ons land gevier en vir die eerste keer in Antarktika. Vroeg die oggend het ons ’n radiosein in Afrikaans van die Britse span by Halleybaai ontvang: "Beste wense met julle groot nasionale dag”. Ons het hulle gelukgewens op hulle Empiredag.

Hannes het kort daama aangekondig dat ’n berig ontvang is dat ons op hierdie dag en by enige volksgeleentheid hierna die Suid- Afrikaanse vlag kon hys. Ons het geesdriftig hande geklap. Om die Unievlag teen die vaal skemer van die Antarktiese winternag in die yswind te sien wapper, sou ons meer tuis en warmer laat voel, asof hierdie ’n stuk van ons eie bodem was. Die berig het ons ook laat besef dat die Antarktiese poging nie van verbygaande aard was nie, maar dat ons land vir wetenskaplike navorsing vir goed sy anker hier ingeslaan het.

Onmiddellik na die 11.15-nuus het ons ons winteranorakke aangetrek en uitgegaan. Die wind het teen 17 knope gewaai en die temperatuur was minus 26.3 grade. Dit was bytend koud, maar ons het gegloei van opgewondenheid.

Blackie, die jongste, het die eer gehad om die vlag te hys terwyl ons ander met ontblote hoofde in die tergende koue eerbiedig op aandag gestaan het. Die tou was hard van die koue en die katrolletjie bo-aan die vlagpaal was aan sy as vasgeys. Blackie moes hard trek en die vlag het spring-spring teen die paal opgegaan. Tien manstemme het "Die Stem” oor die sneeu laat weergalm. Dit het ons verder laat dink as wat die klank kon trek.

Terug in die huis was ons stil en bly. Marten het twee bevriesde ore gehad. Nic, Theo en Dick het elkeen ’n bevriesde regteroor gehad. Dit was die ore aan die kant van waar die wind gewaai het terwyl ons gedurende die hysplegtigheid kaalkop gestaan het. Die volgende oggend het ’n hele paar van ons met pynlike vingerpunte opgestaan. Met die vlaghysing het ons foto’s geneem en ons moes die kameras met kaal hande hanteer. Maar dit was die moeite werd. ’n Landsvlag word tog net een keer vir die eerste maal in Antarktika gehys.

Junie het ’n nuwe tydperk in ons werk en lewe ingelei. Daar was geen buitewerk nie. Elkeen kon sy aandag ononderbroke aan sy wetenskaplike program wy, omdat daar geen buitepligte was nie.

Vic was besig met geomagnetiese waamemings. Hy moes op ’n vasgestelde tyd elke dag die fotosensitiewe papier gaan omruil en die oue ontwikkel. Die geheellugkamera se film moes hy gereeld wissel en ontwikkel. Die kamera moes dag en nag elke minuut die hemelruim registreer, sodat die voorkoms van suiderligte nie gemis kon word nie. ’n Hele span was nodig om sy meganisme uit die radiokamer dop te hou en aan die gang te hou. Wanneer sy meganisme deur ys verstop en gestop is, moes dit vir reparasie ingehaal word.

Die vier weerkundiges moes elke drie uur, dag en nag, waarnemings op buitetemperatuur, windsnelheid, suiderligte en wolkformasies doen as kontrole teen die elektriese outomatiese registreerders.

Niek was as kommunikasieman aanmekaar besig voor die radio met ontvang of Morse-versending. Marten moes die veelvuldige fyne apparate aan die gang hou. Die fratse wat die koue op die onmoontlikste tye op die apparate kon uithaal, was onvoorspelbaar. Chris moes sorg dat die elektrisiteitstoevoer reëlmatig was. Wanneer die een ontwikkelaar skielik stop, het jy sy lang bene deur die gang hoor klap om die ander een aan die gang te kry.

Hannes was besig met die voorbereiding van die na-winterse program, verslae opstel en hondeversorging. Ek het nog gereeld die klomp maandeliks ondersoek en algaande bevindings verwerk en van tyd tot tyd verslae aan die hoofkantoor in Pretoria versend.

Met noodsaaklike, soms lang, buite-aktiwiteite, het Vic en die weerkundiges die kwaaiste onder vriesbrand deurgeloop. Die punte van hulle vingers en heuse en die wangknoppe was gedurig aan die vervel. In Vic se geval was dit moontlik toe te skrywe aan sy dun vel, waaronder daar geen vetlaag was om dit te help beskerm nie.

Die inkluistering vir die winternag het reeds ’n aanmerklike verandering in die gees van samewerking en bedagsaamheid meegebring. Nou was al tien so te sê elke uur van die dag en nag bymekaar. Jy het geknor oor die gedrag van ’n ander, maar jy het in die maande wat verby was en soveel te meer noudat ons altyd saam was, ook gou geleer om te ontknor, want daar was geen ontvlugting na buite nie. Elke woordewisseling het ’n sterker verstandhouding gebring. Die aanpassingsvermoë van elk, die vermoë om sonder psigiese spanning te lewe en te laat lewe, het tot volle uiting gekom.

Daar was spontane optrede teenoor mekaar, meer geskimp en geskerts wat soms in ’n verhoogspel met ’n buiging aanvaar is. Wanneer iemand terneergedruk gelyk het, kon jy dit meestal toeskrywe aan diep nadink oor ’n nuwe deel van sy program en dat die idee nog so onryp was dat hy dit nie met ’n ander kon bespreek nie. Nou en dan was dit ook uit teleurstelling oor die mislukking van ’n eksperiment of twyfel oor jarelange aanvaarde vertolkings van waarnemings. ’n Ander een was diep onder die indruk van boeke wat hy gelees het, en party het gedink aan die eerste helfte wat verby was en gehoop dat die tweede gouer sal verbygaan. Maar jy het geweet wanneer om iemand alleen te laat.

Vriendskap het tot volle rypheid ontwikkel. Elkeen het die vrymoedigheid gehad om sonder aarseling die ander een op sy foute of gebreke te wys, en was net so gereed om kritiek te ontvang.

Almal het mekaar werklik leer ken. Die entoesiasme van die een het die entoesiasme van die ander geword, die geluk en die probleem van die een die van die ander. Daar was die enkele uitsondering, maar jy het geleer waaroor om met hom te gesels. Die een wat goedsmoeds erken het wanneer hy ’n gek van homself gemaak het, het die maklikste aangepas en oor die weg gekom en ook die meeste verrig, want hy het geen tyd verkwis om elke keer te dink hoe hy hom moes gedra of moes optree nie. Hy het niks gehad om te verberg nie, en wou ook niks verberg en daardeur gespanne raak nie. Selfs die foute van so ’n openhartige persoon het aantreklik geword. Jy kon lag daaroor en hy het hartlik saam gelag.

Behalwe die kennis wat jy van ander opgedoen het, het jy jouself leer ken. Dikwels het jy die eienskappe wat jy in ander verafsku het, by nadere ondersoek in jouself ontdek. Op ’n dag het Dick my in die spreekkamer kom opsoek, en soos gewoonlik met die deur in die huis geval: "Weet jy, ek het in die begin nie van so-en-so gehou nie, maar nou hou ek van hom. Hoekom is dit so?” Dit was moontlik in die begin ons fout - ons wou te veel verklaar en te min aanvaar. Te veel van ons wou psigoloë en filosowe wees en te min mense.

By tye was daar vir dae aaneen ’n besondere stilte onder ons. Daar is gesels, maar nie gesellig soos op ander tye nie. Dan het dit gelyk of elkeen in afwagting gelewe het van iets wat gaan gebeur. Moontlik was dit ook die invloed van die aanhoudende geraas van die wind deur die skoorstene. Meer moontlik was dit maar net die eb en vloed van die luim. Ons het ook so ’n geheel gevorm dat wanneer selfs net een stil en terneergedruk was, die ander dit onbewus en onwillekeurig aangevoel en ook stil geword het totdat die bedrukte weer die stilte verbreek het. Dikwels was die oorsaak iets wat in sy weeklikse brief aan hom meegedeel is, en dan het net Niek saam met hom daarvan geweet.

Maar Niek se werk was vertroulik en hy het nooit hierdie vertroue teleurgestel nie.

Elke dag het jy dieselfde stemme en dieselfde manier van stap gehoor. Jy het dieselfde manier van handeling gesien en dieselfde uitdrukkings is dikwels herhaal. Baie van die uitdrukkings het al nommers gehad. Hulle was van een tot ses genommer. Wanneer jy iemand sien nader, het jy dan net twee vingers opgesteek en hy het geantwoord deur vier of ses, na gelang van die antwoord wat hy wou gee, op te steek. Dikwels was die antwoord so gepas dat daar hartlik geskaterlag is sonder dat eers ’n enkele woord gese is.

Dit was ’n seën en gawe dat sommige so skielik ’n temerige of vervelende gesprek kon laat wegswaai en dit heeltemal in ’n nuwe rigting kon stuur. Soos daardie aand toe ons gesels het oor die Van Riebeeck-fees van 1952 in Kaapstad.

Gewoonlik het die gesprek gegaan oor vliegtuie, sneeuformasies, sterrekunde of oor Dick se Plato en Aristoteles. Van ’n paar minute na middernag van die dertigste Junie af was dit die gevolge van die onafhanklikheidsverklaring van die Belgiese Kongo. Maar daardie besondere aand het ons gesels oor die Van Riebeeck-fees van 1952 in Kaapstad. Marten het baie hartstogtelik, soos dit enige patriot betaam, die sierwaens beskrywe. Ek het byna in ekstase geraak oor die twee wit perde wat op die voorpunt die hooftema, die Bou van ’n Nasie, gesimboliseer het. Niek, wat al amper aan die slaap was, het net die woorde "wit perde” gehoor en dromerig gevra of dit die een was waarop miesies Godiva gery het, toe Dick, van nature blitsig, opspring, sy bors agteroor gooi en sê: "Hemel, kêrels, hoe lus het ek nou om te bou.”

Toe het ons lekker gesels!

Die een-en-twintigste Junie is die kortste dag in die suidelike halfrond. Hoewel dit in Antarktika net ’n ander nag van vier-en-twintig uur aandui, het dit betekenis in die sin dat dit die middelpunt van die winter is. Dis die dag waarna almal in Antarktika uitsien, want dit is die dag waarop die son ophou om verder te daal en hy weer al hoe nader na die horison kom. Hierdie dag, Midwintersdag, word dwarsdeur Antarktika gevier.

Van die vorige middag af al het boodskappe van gelukwensing op die helfte wat agter die rug was en voorspoed op die helfte wat voorlê, oor die lug gekom. Daar was drie-en-twintig boodskappe. Daar was een van sir Vivian Fuchs, die Amerikaners by McMurdo- see, die Japanners, die Franse van hul basis op Nieu-Amsterdam, van die Australiërs, die Engelse by Halleybaai, en baie ander.

Ons ook het hulle die vorige dag begin gelukwens met hul prestasies.

Buite op die sneeu was SANAE groot met elektriese ligte uitgespel. Ons het kort na twaalf uitgegaan. Die temperatuur was minus 16 grade. Ons het om ’n klein olievuurtjie gestaan. Dit het nie gehelp om ons lywe warm te maak nie, maar net ons verbeelding. Hannes het rooi en groen vuurpyle met die Veary-pistool in die lug opgeskiet. Die lig daarvan het rooi en groen op die verkluimde ysvlakte geblink.

Ek het die oggend ’n vrugtekoek, wat ek al die afgelope sewe maande onder my bed gebêre het, uitgegrawe. Nita Tromp van Pretoria het dit voor my vertrek uit Pretoria aan my gegee. Die oggend het ek probeer om dit te versier met soveel simboliek soos ek kon om die geleentheid waardig te wees. Ek het twee lang kerse en een korte daarop gesteek, maar hulle wou nie regop bly staan nie omdat die versiermengsel nie wou hard word nie. Toe het ek die koek deur die venster van die eetkamer op die ys in die ysgrot gesit vir die versiermengsel om hard te ys. Na ’n ruk kon ek maklik die kerse staan maak. Met middagkoffie sou ek die kerse opsteek, dan, wanneer Hannes tot siens gesê het aan die "ouhalfjaar”, sou ek die eerste een doodblaas, en sou hy die beste afwens op die nuwe halfjaar.

Toe die tyd vir die simboliese uitbarsting aanbreek, het ek die kerse in die ysgrot aangesteek, maar toe ek dit binnehaal, het die versiering onmiddellik gesmelt. Die brandende kerse het omgeval en in die taai stroop hul vlamme geblus nog voordat Hannes met sy toespraak kon begin. Ons het toe maar poedingbakkies geneem, die versierstroop oor stukke koek opgedis en dit sommer met lepels geeet.

Vir aandete was daar wyn en ’n oorweldigende ete van kalkoen en varkboud wat deur Niek op die volmaakste manier berei is, groente en groentesousies van Marten, en ’n groot bak koekstruif wat ons nie kon baasraak nie. Die wyn het gevloei, die vet van kalkoen en vark het om ons monde geblink, en ons almal het om tienuur die bed gesoek. Ons kon nie meer nie. Die volgende dag het ons eers na middagete opgestaan. Midwinterfees was die moeite werd, al was dit net om ’n bedwelmende rede te hê om laat te slaap.

’n Paar maande tevore het ek die nuwe 16 mm projektor wat ons saamgebring het buite onder die sneeu gaan uitgrawe en inge- bring om te laat ontdooi. Vollengte films en ’n klompie nuusprente uit vergange se dae was in die een slaapkamer weggepak. Maar hier is alles nuut en nuus, en word dit geniet al is dit ook hoe verouderd. Die eerste Saterdagaand na die ontdooiing van die projektor het ons ons eerste vertoning gehou.

Chris was programsamesteller, ek operateur en Marten het op sulke aande bakke neute en sjokolade voorgesit. Die stukke sjokolade was sommer elkeen se rantsoen vir die week, en die wat nie daarvan gehou het nie, het dit vir rookgoed verruil. Blackie het egter sommer alles wat hy die aand gekry het en ook die wat hy vir rookgoed verruil het gedurende die vertoning opgeeet. Meestal kon sy volstruismaag die foltering daarvan verdra, maar een keer het hy ’n geweldige aanval van maagdermontsteking ontwikkel wat horn twee dae in die bed gehou het.

Sy geval was die enigste van die siekte wat gedurende ons hele verblyf voorgekom het. Hierdie feit getuig van die oordeel wat deur die goeie kokke aan die dag gelê is om daagliks gebalanseerde spyskaarte op te stel. Die swakker kokke het weer sulke onsmaaklike kos voorberei dat geeneen in die versoeking gestel is om horn te ooreet nie. Miskien was dit ook maar geluk en eintlik toe te skrywe aan die strengheid en deeglikheid van die mediese ondersoeke voordat lede vir die ekspedisie gekies is.

Na ’n paar weke het Chris die hele reeks rolprente deurlig, en ons het die bestes begin herhaal. Waar dit ook naderhand vervelig geraak het, het ons hulle van agteraf teruggedraai om die teenoorgestelde standpunt van die regisseur te kan agterkom. Slagspreuke in rolprente het slagspreuke van die groeplede geword. Gebare van spelers het nabootsing aan tafel of op ernstige momente tydens gesprekke uitgelok en die luim laat sak, iemand tot die vermaak van ander laat knor of die onderwerp van bespreking verander.

Gewone verkoues, gekenmerk deur toeheid en loperigheid van die neus, dowwe hoofpyne en seerkeel, het dikwels voorgekom, en hulle dikwels in dieselfde persoon herhaal. Verkoues was nie net tot die wintermaande beperk nie. Dit kon toegeskrywe word aan die bedompigheid in die ondersneeuse huis en die groot verskil tussen ondersneeuse en bosneeuse temperature wat die weerstand van slymvliese verlaag het. Andersins, en gepaard daarmee, kan die verkoues toegeskryf word aan die opmekaarlewe waar die oordraagbare kieme van die een draerpersoon op ’n gasheer oorgeplant word en by hom simptome veroorsaak.

Antarktika mag kiemloos wees tydens ekspedisies wat deurgaans op trek is, maar geensins in die hedendaagse wetenskaplike basis nie. Kieme van vorige ekspedisielede kan latent in die ysmure lê, met ontdooiing toegang tot nuwe gashere kry en met verspreiding hul virulensie aanvuur en ’n wesenlike epidemie veroorsaak.

Die voorkoming van vriesbrand en ongelukke is opvallend en dikwels bespreek. Dit het moontlik daartoe bygedra dat geen ernstige gevalle van vriesbrand en geen ongelukke, hoe gering ook al, ooit voorgekom het nie.

Wat siektes betref, was die honde minder gelukkig. Op 23 Junie het Chris vir my kom sê dat Tiirr lusteloos lyk en nie sy kos wil eet nie. Hy het oornag uitgeteer. Sy haarvag was taai en klewerig en sy hare was in klosse aanmekaar gekoek. Daar was ’n algemene plasmasypeling uit sy vel. Die plasma het in plasse op sy leplek gestaan en nie verys nie. Die poolhond word daaraan gekenmerk dat hy sy lêplek altyd skoon hou en enigiets wat dit verkleur of onsindelik maak, begrawe. Maar nou was Tiirr se leplek vuil en geelbruin. Hy het gelê en kon nie opstaan nie. Op sy regterboud en op sy pens was groot kaal kolle waar die hare uitgeval het. In my onkunde oor diere, aangesien ek nie ’n veearts is nie, het ek dit as hondesiekte gediagnoseer, hoewel ek nie kon begryp hoe die kieme hier kon beland het nie. Jarelank het geen honde hierheen geïmmigreer nie.

Ek het hom ’n halfmiljoen eenhede penisillien ingespuit en hoopvol gewag. Na ses uur het hy beter gelyk en selfs begin vreet. Ons het hom in die voorportaal van die weerkantoor by die plustemperatuur vasgemaak sodat sy haarvag kon ontdooi. "Sies, maar hy stink,” het Dick opgemerk en elke slag herhaal wanneer hy verbyblits - spesiaal vir my om te hoor hoe ’n stink werk ’n dokter het. So ’n plasmasypeling het soos vermufte dooie vliee gestink. Maar nogtans het Dick se liefde vir honde geseëvier. Hy het Tiirr nie uitgeskop nie; hom inteendeel elke keer vlugtig oor die kop gestreel. Tiirr het heerlik aan gemaalde vleis, vet en hawermout gesmul en ten spyte van ’n steeds wissellende eetlus en lewenslustigheid het sy gewig gou toegeneem.

’n Paar dae het alles goed gegaan, maar toe skielik het hy weer in sy oorspronklike siektetoestand verval, en daarby het die kussinkies van sy pote rooi geword en geswel. Ek sou my nie ernstig bekommer het as Jo nie ook dieselfde dag met dieselfde siekte begin het nie. Toe het ek hond se gedagte gekry en die diagnose heroorweeg en deur afleiding tot die gevolgtrekking gekom dat die honde nie die stremming van die koue vir soveel agtereenvolgende jare kon weerstaan nie en dat die patogenese in die bynierskors moes lê. Toetsbehandeling met kortisoon, wat die betrokke hormoon is wat deur die bynierskors uitgeskei word, soggens en saans per mond toegedien, het skielike, maar nie blywende, verbetering gebring. Die toediening van askorbiensuur (vitamien C)-tablette vir vier dae saam met die kortisoon en daarna net askorbiensuur het egter ’n blywende goeie uitwerking gehad.

Ek het Onderstepoort geraadpleeg en die raad ontvang om indien so ’n toestand weer sou ontwikkel, vitamien B12 saam met askorbiensuur te gee. Hierdie raad het goed van pas gekom toe nog honde kort daarna dieselfde toestand ontwikkel het.

Teen die middel van Julie het Knol siek geword, en dieselfde dag het Hannes opgemerk dat Tiirr, Jo en Uiena se plekke weer effens vuil was. Al vier het baie gunstig op die behandeling gereageer. Al die honde het toe daagliks askorbiensuur gekry en geen herhaling van die siekte het voorgekom nie. Dit het my teorie bewys dat die honde daardie jaar onder die besondere omstandighede van koue nie self genoeg vitamien C in hul sisteme kon opbou om die stremming van die koue te weerstaan nie.

Daarna het ek ’n klomp vitamienkoekies gemaak deur ’n lepelvol vleis-hawermoutpap op die regte dosis pille op koerantpapier te gooi en dit dan in die gang te laat vries. Elkeen het toe elke dag so ’n koekie gekry en dit gretiglik opgeraap en ingesluk. Toediening van pille alleen met drie paar handskoene aan buite op die sneeu wanneer hulle weer na die winter daar sou staan, was ’n haas onbegonne taak. Die hond sou hulle in sy bek neem, sy kop skeef na die een kant trek, vir jou knipoog, dit uitspuug en jou vraend aanstaar.

In lande waar gras groei, vul die poolhond sy vitamien C- behoefte aan met gras, mos of die maaginhoud van grasvretende diere wat hy vang. So ’n aanvulling is onmoontlik op die ysige velde waar geen plantegroei is nie, buiten vir die effense lichene en alge op die baie veraf nunataks. Veral is die ekstra vitamien C nodig met die aanvang van harde sleewerk na die winter. In noordelike ysbedekte lande val die aanvang hiervan toevallig saam met die blootlê van gras en mos wanneer die sneeu en ys ontdooi.

Nadat elkeen elke dag 100 mg askorbiensuur gereeld gekry het, het hul fisiese toestand verbeter en was daar geen herhaling van die siekte nie. Waar ’n hond wat sy eie gewig in die slee kan trek as ’n goeie trekdier beskou word, het ons honde gedurende November en Desember van daardie jaar oor ’n afstand van 350 myl binne 5 weke elkeen gemiddeld 126 pond getrek. So ’n gewig is bykans die helfte meer as die van die gemiddelde poolhond.

Ook ons het gereeld elke dag ons pille geneem. Ons bloedtellings en bloedyster was so te sê normaal. Mens en dier het hier aan dieselfde tekort gely, dog in verskillende vorms: die een omdat hy nie genoeg in sy kos gekry het nie, die ander omdat hy onder die besondere koue toestande meer nodig gehad het as wat hy in sy eie sisteem kon opbou.

Buiten vir gereelde maandelikse kliniese en laboratoriumondersoeke om deurentyd ’n kontrole oor die gesondheid van die ander nege lede te hê, is ook ander fisiologiese waardes vasgestel wat deel van die navorsingsprogram gevorm het.

Vir die bepaling van rustende stofwisseling moes elkeen een nag elke maand in die hospitaalkamer slaap, sodat die bepaling vroeg die volgende oggend gedoen kon word voordat hy kans gehad het om te roer. Anders sou sy lesing verhoog wees. Sommige het dit as ’n guide geleentheid beskou om laat te slaap, of altans voor te gee dat hulle aan die slaap is wanneer ek binnekom. Hulle het geweet dat as ek hulle sou wakker maak, die toets nie geldig sou wees nie. Ander het weer slimstreke, verskonings en advies na die bepalings aangehaal sodat hulle nog ’n uurtjie ekstra van die dag kon steel om te lê en droom. Wanneer ek na die eerste bepaling die velplooidiktes begin meet, is ek aangemoedig om tog maar stadig te werk want "die vel het nog nie ontspan nie”, of dat ek die metery moet herhaal want hulle was seker dat ek hulle nie die vorige maand presies op dieselfde plek met die verstelbare kaliber geknyp het nie. Hulle het my oor en oor verseker dat hulle nie haastig was nie en tog nie wou hê dat onakkuraatheid aan hul belangeloosheid toegeskryf moet word nie. Hierdie hulpvaardigheid en selfopoffering was maar net om ’n "wetenskaplike” rede te hê om langer te bly lê sonder om die misnoeë van die leier op hulle te haal.

Marten het een oggend die werkwyse baie dramaties aan Chris, wat aan die anderkant van die plankafskorting gelê het, beskrywe. In tergluim het hulle twee mekaar "broer” genoem.

Chris het gelê en brom dat na die nag se slaap nog net die boonste helfte van sy lengte uitgerus was en dat sy onderste helfte nog glad nie slaggereed vir die dag se stryd was nie. Hy het baie van sy slapie gehou.

"Broer, kom help. Hulle moor my hier,” het Marten gemurmureer. "Hulle druk ’n pyp in my keel af om te sien of ek nog asemhaal en ek word pimpel en pers met die knyptang geknyp om te sien of ek nie te veel eet nie. Hulle gooi my soos ’n pannekoek rond.”

"Ja, broer,” het die slaperige antwoord van die anderkant van die afskorting gekom.


"Broer, staan jy op?” het Marten gevra toe hy die bed aan die ander kant hoor kraak. "Broer, die een wat eerste opstaan, het verloor.” Chris het maar net omgedraai en Marten het daardie oggend verloor.

Toe ek later dieselfde oggend in die kombuis kom, het George en Blackie elkeen met ’n beker vrugtesap in die hand by die stoof gestaan en oudergewoonte na die buitewaarnemings om nege-uur gestaan en ginnegaap. Ek was net betyds om Blackie aan George te hoor vra: "George, as jy van teerg ’n teergpad kan maak, hoekom kan jy nie van skille ’n skilpad maak nie?” ’n Dawerende lagbui het gevolg.

Chris het dikwels aangevoer dat masjiene menslik behandel moet word. Hierdie opvatting van hom het gespruit uit sy besondere liefde vir masjiene. Gedurige aandag en belangstelling, en selfs af en toe ’n geselsie met hulle, laat hulle baie beter voel en loop. Die kragontwikkelaars moes dwarsdeur die jaar om die beurt aan die gang bly. Daarom het hy baie liefde aan hulle betoon. Sonder die lig wat deur hulle verskaf word, sou ons in die uiterste donkerte, veral in die wintermaande, gedompel wees, In die winter was daar nie eens vir ’n kort rukkie in die dag sonlig wat persgeel deur die ysmure van die ysgrotte kon skyn nie. Aangesien Chris die masjiene soos mense behandel het, was hul gedrag ook as mense onvoorspelbaar en wispelturig.

Een oggend met die opstaan het die ligte in die kamer begin rooi word. In die laaste flikkerende stuiptrekkings het ek opgelet waar my vuurhoutjies en klere lê. Ou Jonatan, die een ontwikkelaar, het gehensop. Iemand het van êrens uit die donker geskree: "Dit word nou eers donker. Lekker slaap.” In die skemer skynsel van die ligte het Chris met pajamas en al in ’n broek geklim om die koue in die gang van sy lang bene weg te hou. In die donker oor die onegalige ysvloer van die ysgang het sy bene gevleg-vleg na die masjienkamer om so gou moontlik weer sy kinders in ’n werksame luim te paai. Sy geloof in die menslikheid van die masjien is daardie oggend nie vinnig bewaarheid nie.

Ons het by sigaretlig en voel-voel in die donkerte aangetrek en die kragonderbreking as ’n vriendelike tussenspel in die alledaagse roetine beskou. Met getrek aan die sigaret en die nou-en-dan-se- vuurhoutjie het ons die ontbyttafel bereik. George het ewe selfvoldaan by flou lanternlig sy papborde op die tafel uitgestal gehad, en nie eens ’n opmerking oor die kragonderbreking gemaak nie. "Hierdie is natuurlik ’n alledaagse ding daar op Bultfontein waar jy vandaan kom,” het ek gesê. "Of het julle nog nie so ver gevorder nie?” het ek bygevoeg toe hy nog minder as in die begin sê.

George het droogweg geantwoord: "My vriende is mense, warmbloedige mense, nie koue masjiene nie.” Ek het gemerk waarop hy sinspeel.

Blackie het met ’n kersstompie, wat van die laaste Noorse Kersfees in Antarktika oorgebly het, aangekom - so trots soos ’n Florence Nightingale. Ons het dit op ’n blik pere staan gemaak en daarna ge-eet en gesels en gevoel of ons op Bultfontein voor ’n miskoekvuur sit. Kort voor sewe het die ligte aangekom. Na ’n ruk het Niek gevra hoekom die lantern en die kers dan nog brand. Elkeen het ’n skim van ’n rede daarvoor gegee om nie te laat agterkom dat hy onoplettend was nie. Op die oomblik toe die lantern en die kers doodgeblaas is, het die ligte weer uitgegaan. Die doodgaan van lantern, kers en elektriese lig was toevallig presies op dieselfde tyd.

Jonatan se toevoerpyp het maande vantevore afgebreek. Inderhaas is dit vervang deur die pyp van Dawid se tenk af sodat die twee sedertdien soos ’n Siamese tweeling van dieselfde voedings- bron afhanklik was. Daar was ook ’n deurmekaarspul van uitlaat- en ander pype en drade. Dit was so deurmekaar soos telefoonproppe by ’n onervare telefoniste wat gelyktydig deur oproepe van alle kante gepeper word.

Daardie dag moes Chris so baie dinge uitsorteer dat die onderbreking ure geduur het. Dit was die langste onderbreking wat, danksy Chris se verstandhouding met die twee belangrike "persone”, ooit voorgekom het. Die hele beligting en dosyne stukke apparaat was afhanklik van hierdie twee vir hulle lewensbloed, wat op sy beurt weer verantwoordelik was vir die voortsetting van die werksaamhede van die navorsingspan. Jonatan en Dawid moes ’n Goliatstaak verrig.

Wanneer Niek die Morse-skrif uitgepomp het, het die ligte betekenisvoi geflikker. ’n Kort verdoffing van die lig was ’n punt en ’n langer een ’n strepie. Jy kon, mits jy so vinnig soos Niek Morse-skrif kon lees, al die geheime wat lede in hul briewe skrywe, agterkom.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2865 gaste aanlyn