Nuutste bydraes

Sluit aan by die Waarheidstryders ! GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

HERE, dankie vir 'n gesonde sin vir humor, vir die bevryding van 'n skaterlag en die veerstelsel van blymoedigheid. Dankie dat U die mens gemaak het om te kán lag en dat daardie innerlike vrolikheid 'n lig is in donker tye.

DIE WIT HORISON (15)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

Dans van die Suiderligte - Berge toe -Trek van die Voëls

Met die talle sleetogte het September vinnig verbygegaan. Die een was skaars klaar of daar is al weer reggemaak en slee gepak vir die volgende. Op 5 Oktober het Vic vir die derde keer weer noukeurig aan Marten verduidelik hoe om die magnetogram gedurende sy afwesigheid te hanteer, hoe hy die geheellugkamera moet behandel, en aan my hoe om die paaltjies wat ’n aanduiding van die periodieke sneeu-neerslag gee, te meet. Dick en Vic sou in ’n noord-westelike rigting afreis om die ysbankfront anderkant die westelike bulte te bespied en te karteer.

Teen nege-uur die oggend was alles vir die twee gereed om te vertrek. Na ’n groetery asof dit die einde der dae was, het Vic stelling by die sleestert ingeneem, die rempen opgelig en geskree: “Brakkies, trek!” Maar die brakkies het net omgekyk om te sien watter vreemde windjie nou waai en nie ’n steek verroer nie. Vic se stem kon nie teen die luide “aansporende” aanmerkings van die toeskouers opweeg nie. Iemand langsaan het die bevel uitgebulder en hulle was weg. Kort daarna het Dick die skreeuwerk oorgeneem.

Hulle was skaars oor die eerste bult toe ’n berig uit Pretoria ontvang is dat die wat nog ’n jaar wil aanbly dadelik moet laat weet, aangesien hulle besig was om die opvolgspan saam te stel. Dick het al ’n paar keer gewik en geweeg of hy nog ’n jaar sal bly. Hannes het besluit dat ek en hy hom gou met Suikerbossie moet agternasit om te hoor wat hy besluit het.

Om halftwee het ons begin. Oor die ysbankgedeelte het ons goed gevorder, maar toe het ons in die “vlei” gekom waar vaste ys wat op soliede aarde rus anderkant in ’n bult opstyg. Tweevoet hoe dwarswalle het in die lengte van die vlei en die opdraend anderkant gestrek. Jy moes om en tussen die sastrugi jou baan laat kronkel en terselfdertyd op jou hoede wees vir gevaarlike skeure in die vlei. Die hondeslee kon ’n reguit pad kies want hy was baie ligter.

Ons het kort-kort stilgehou om die oppervlakte te ondersoek. Hannes was die versigtigheid self. Dis sekerlik aan hom te danke - sy voorbeeld en gedurige vermaning - dat daar met die ritte van daardie jaar geen ongelukke voorgekom het nie. In die vlei het ek drie barsies in die oppervlakte gesien. Hannes het later gese dat hy vyf gesien het. So ’n barsie is in die koepel van ’n ysskeur wat enigiets van ’n paar duim tot ’n paar voet wyd kan wees. Die gestamp en gedreun van die trekker kon hom skielik laat oopgaap en trekker en slee insluk. Ek het deur die vlei gestap en met ingehoue asem anderkant vir Hannes gestaan en wag terwyl hy voetjie vir voetjie met die trekker aankom. Ver links het twee harde knalle soos van ’n geweer geval. Dit was die slae waarmee ysskeure verder van mekaar losgebars het. Die vlei is in werklikheid ’n gletser en beweeg parallel met die ysbult, vinniger as die ysbult self, omdat die bodem van die ysbult op vaste rots bo of onder seëspieel vasgeanker is. Die ysbank weer is onderhewig aan die stuwing van die gety van die seewater onder hom. Hierdie verskil in snelheid van beweging en die onsigbare op en af beweging van die ysbank skep die gevaarsone.

Anderkant oor die hoe sastrugi het dit stadig teen die bult gegaan. Die kaboes het geskuiwe en gekantel en sydelings gegly. Dit het die geskommel van die Polarbjorn deur die stormbreedtes in herinnering geroep. Hannes moes kophou by die stuurremme. Sy rug was wit van die sneeuspatsels en die rook van die uitlaatpyp het soos ’n swart wolk na die noorde gehang. ’n Wasem van sneeu en damp het oor die trekker gestaan sodat ek met tye nie voor hom kon sien nie.

Op die bult se kruin het die sastrugi kleiner geword en ons kon vinniger ry. Van bo af het ’n welkome vergesig uitgestrek. Die basis het soos ’n paaldorp in die laagte gelê. Na die noorde het oop blou water tot op die liglyn gestrek, hier en daar afgewissel deur die wit van ’n nuutgebore plat ysberg. Binne ’n paar minute het hierdie seetoneel agter die hoër styging van die bult verdwyn om kort daarna vervang te word deur die uitsig op ’n baie groter baai. Hiervandaan kon ons die arms van die ysbank in die see sien uitboog. Die sonlig het ligroos teen die ysbankfront geskitter. Anderkant die water was die wit gloed van see-ys.

Van die hoogste punt van die kruin af kon ons myle ver oor ’n vlakte sien, maar niks van Dick en Vic nie. Hulle moes baie vinnig gevorder het. Elke swart kolletjie voor ons het ons laat dink dis die hondeslee. Maar telkemale was dit maar net ’n merkkonka of die skaduwee van ’n puntige sastrugus.

Kort na ses het ons die piramiedvormige tent van Dick en Vic gewaar, en iemand wat daarvandaan wegstap. Hy het ons nie gewaar nie. Dit was die langbeen Vic, want geen kort mannetjie soos Dick kon selfs met die hulp van sinsbedrog so hoog lyk nie. Hulle was nog ver weg. Met rukke was die sneeu so sag dat die trekker gaan staan en sy ruspers ingegegrawe het. Een keer moes ons die kaboes afhaak en hom na die kant toe pluk.

Toe ons nader kom, het die tent aan die een kant ’n bewegende tuit getrek soos wanneer ’n hondjie onder ’n kombers vroetel. Dit was Dick wat gesukkel het om deur die dubbele tregterbek uit te kom. Hulle was verbaas om ons twee te sien en het verneem wat die rede vir ons naarstige verlange was. Hannes het verduidelik en Dick het dadelik besluit dat hy definitief nog ’n jaar in Antarktika sou aanbly. Ons al vier het in die tent uit die slag van die wind gaan sit en van hul varsgemaakte koffie gedrink terwyl ons na ’n impromptu weerverslag van Theo van die basis af ingeluister het. Om agtuur het ek en Hannes vertrek.

Ek het voor in die kaboes gesit sodat ek by die deur kon uitkyk. Hannes moes so vinnig moontlik ry en hom nie oor my geskud in die kaboes bekommer nie. So ’n ongeveerde kaboes kon ’n mens klits! Die voorpunt stamp op die rug van ’n hoë sastrugus op en sodra hy oorbalanseer, val hy met so ’n harde kras anderkant af dat jy in jou asem stik en jou kop teen die dak stamp. Die warmte het egter vergoed vir die ongemak. Ek kon rustig sit en rook. Op die trekker blus sneeuspatsels die sigaret.

Die afspraak was dat ons om nege-uur Veary-patrone sou afskiet sodat die klomp by die basis kon sien hoe ver ons is. Toe ons daarvoor stilhou, het ons duidelik die sigbaarheidsligte onder in die vlei gesien, anderkant hulle die toring se rooi en wit ligte en selfs die lig by die ingang van die skag. Die trekker se ligte was ook reeds aangeskakel sodat hulle van die basis af ons ook maklik sou kon sien. Ons was haastig en het aangery sonder om die patrone af te skiet.

’n Paar minute later het die lugspieëling van die maan reg voor ons verskyn. Dit het gelyk soos ’n reuse, uitgeklopte goue muntstuk met ’n growwe gebreekte rand. Eers was hy koepelvormig en toe vierkantig. Die goue weerkaatsing van sy lig het tot onder die trekker gestrek. Toe het die weerkaatsing teruggetrek en die maan self het soos ’n koek waarvan die middel te veel gerys het, verskyn. Hy het vinnig gestyg en vir ’n ruk ovaalvormig soos ’n eier op sy sy op die horison gelê voordat hy ’n ronde vorm aangeneem het. Die sterre was helder en groot.

Ek het vaak geword ten spyte van die gestamp van die kaboes. Toe skielik, asof die natuur my wou help om wakker te bly, het ’n gloed van lig om ses minute oor tien bo die oostelike horison uitgebars.

’n Reuse-gordyn van lig het hoog in die lug verskyn en vir ’n paar sekondes stil en alleen gehang. Mylelange strale het noordoos opgevlam. Nog ligbane het reëlmatig opeenvolgend verskyn soos deelnemers op ’n verhoog totdat twee-derdes van die liglyn vanaf suid na noord gloeiend belig was. ’n Sagte ligroos skynsel van die son het onder swart wolke in die suide gewys. Bokant die wolke het ligpilare die hemelgewelf verder verlig. Hulle het ritmies verdof en gegloei. Toe het ’n ekstatiese balletspel van ligte ’n aanvang geneem.

Links voor het die liggordyn nog gehang. Regs het ook een ontvou en tussen hulle het dosyne ligpilare agter en tussen mekaar deur begin deins en dans asof hulle patertjie-langs-die-kant speel. Rooi en groen werpligte het in die suide vinnig van die een na die ander kant geflits. Die ligmassa het verder na die noordweste uitgesprei. Daar was ’n effense verdoffing ná hierdie ouverture. Toe het die ligte weer helderder en liggroen-geel verder na die noorde opgevlam, en die dans van die ligpilare het met dolle vaart en geoefende ritme hervat en hoër as vantevore in die gewelf opgeskiet. Na minute het die noordelike helfte verdof. ’n Goue boog het skuins links bo die liglyn verrys. Onder hom het die lug verdonker asof deur ’n swart wolk bedek. Naby sy suidelike punt het die boog gebons en geklop soos vlekke op die son. Na ’n paar minute het dit opgehou. Die ligpilare in die suide het weer hoër in die lug opgesteek en majestueuse boë deur die hemelgewelf gespan. Reg bo het hulle ontmoet en ’n helder korona gevorm om die aand se skouspel te bekroon. Maar, asof dit nog nie genoeg vir die oog was nie, het ’n gekartelde goue lyn reg bo ons koppe verskyn. Die skitterende nokbalk het die los kapbene ’n paar sekondes lank aanmekaar gesnoer en toe het hy in ’n oogwink verdof en verdwyn. Die koepelstrale het teruggetrek. Daar was ’n kort naspel van pilare wat op die liglyn dans en toe is die ligte afgeskakel. Die skouspel het agttien minute geduur.

Die nag was weer so stil en donker soos toe ek vaak geword het. Net die ligroos van die songloed het nog onder die donker wolk in die suide vertoon en die sterre het rondomtalie bo ons koppe gedraai. Dit was ’n vertoning wat enige balletliefhebber sou laat watertand.

Kort na elf het ons die werf binnegestoom. Stoom het op die trekker gestaan en stoom het by ons neusgate uitgeblaas. Chris het tergend my handgebare en armgeswaai waarmee ek die suiderligvertoning beskrywe het, nageboots. Ek het hom sy gebrek aan kunsgevoel vergewe, want die roereiers met stukkies wors daarin wat hy al geselsend voorberei het en die baie koppies koffie was aangenaam verwarmend na die koue spoedrit oor die sastrugi.

Ons het na twaalf gaan slaap. Ek het tevrede gevoel met die buitengewone dag met sy onverwagte gebeure, met die indrukwekkende manier waarop die uitgeklopte goue maan die dans van die suiderligte aangekondig het.

Twee dae later sou ek en Hannes met Suikerbossie, die kaboes en ’n sleevrag voorrade in ’n suidelike rigting vertrek om halfpad tussen ons en die eerste berge, 65 kilometer ver, ’n voorraadplek te gaan vestig. Dit was bedoel vir die hondesleetog wat Hannes en Vic teen die einde van die maand na die berge sou begin.

Vroeg op die oggend van Vrydag, 7 Oktober het ek en Hannes begin roer. Agter Suikerbossie was die slee met robvleis vir die honde, brandstof en kos vir twee man vir twee maande. Dan nog ’n paar konkas brandstof om ons soontoe en terug te neem. Dosyne vlagpaaltjies om die roete mee te merk, het tussen die konkas regop gestaan. Daarna het die kaboes gevolg. ’n Fietswiel met ’n metertjie daaraan om die afstand in kilometer te meet, was agteraan vasgemaak. Ons trek het soos ’n woud, volledig met ’n houtkappershut, op glystroke gelyk. Die ander klomp was by om te groet en foto’s en rolprente te neem.

Die lugspieëling van ’n berg het myle ver op die horison gestaan. Hannes het ’n paaltjie ingesteek en duskant met ’n kompas gaan staan. Ek moes met die trekker kom en die paaltjie in lyn kry sodat die kompas in die trekker op sy handkompas se lesing ingestel kon word. Ons sou kompasry doen. Na ’n rukkie het ons gevind dat die metaal van die trekker egter sulke versteurings in die magnetiese veld veroorsaak dat ons ondanks die sorgvuldige instellery 45 grade van koers af in ’n suidwestelike rigting gery het. Ons het toe maar na die westelike punt van die lugspieëling gemik en gebid dat hy daar moes bly totdat ’n onveranderlike mikpunt in dieselfde rigting opduik.

Die sigbaarheid was onbelemmer. Een na die ander rant het oor ons pad gebuig. Wanneer jy bo-op die een kom, het jy die boë van ’n paar opeenvolgendes verder gesien, soos ’n reeks horisonne wat weke ver die toekoms inlei.

Met ons vertrek het die kilometerwyser van die fietswiel op 140.6 gestaan. Ons sou elke drie tot vier kilometer stilhou om ’n vlagpaaltjie te plant. Hulle sou nie net die pad vir geselskappe wat mag volg, aandui nie, maar na mate hul hoogte bo die sneeuvlak afneem, sou hulle ’n idee van die periodieke sneeuneerslag op verskillende afstande langs die roete gee.

Links in die ooste het ’n sonpilaar gestaan. Dit het soos ’n helderverligte wit kolom van reënstrale reg voor die son gelyk waarvan die voetstuk op die sneeu rus en die bopunt myle bokant die son vervaag.

Op bestemde afstande het Hannes ’n gat gegrawe en ’n vlagpaaltjie geplant. Hy het dit stewig vasgetrap en sy lengte bo sneeuvlak gemeet sodat hy en Vic en ekspedisies na hulle, deur die afname in die uitsteekgedeelte kon vasstel hoeveel sneeu sedert die laaste meting opgehoop het. Ek het rond gekyk en sketse van die vormwisselings van die lugspieëling van die berg gemaak. By tye was hy besonder lank. Dan weer het hy boontoe gerek en in twee of drie suile verdeel. Verder het ek tekeninge van die rante, hul ligging en rigting gemaak.

Hannes het die rigting van die sastrugi aangeteken. Die wat deur die oostewind uitgekerf is, was die hoogste en breedste en het die indruk van permanente parallelle verknobbelings van die oppervlakte gegee. Ook maar goed so, want as jagsneeu jou oorval en jy sonder kompas moet aanstap, kan jy van hulle jou rigting kry solank jy onthou dat hul dik punte na die ooste wys en hul skerp punte na die weste.

Die roetine-stilhou het meer tyd as die ry in beslag geneem.

Toe ons elf en ’n half kilometer van die basis was, het ons teen die helling van die verste sneeubult ’n swart voorwerp gesien. Dit het soos ’n petrolkonka gelyk. Hoe nader ons gery het, hoe verder het dit teen die helling opgeskuiwe totdat dit op die horison ge- staan het, omtrent twee grade wes van die westelike punt van die lugspieeling. Die lugspieëling het nou die vorm van ’n skip met ’n hoë skoorsteen aangeneem en vlieswolkies het soos rook daaruit gevloei. Deur die verkyker het dit geblyk dat die “konka” ’n rotspiek is wat ver anderkant die sneeulyn staan. Aangesien dit ’n vaste punt was en nie soos ’n lugspieëling sy bestaan aan toeval te danke had nie, het ons soontoe gemik.

Kort hierna, om halfeen, toe ons 15.6 kilometer gevorder het, het vyf ander lugspieëlings van berge in die suide en suidooste skielik vertoon. Die “skip” het nou in lewende lywe voor ons verskyn. Dit was ’n lang sneeuberg met pikswart kranse op sy regterpunt, twee spits pieke in sy middel en heel links ’n laer een. Regs van hulle het ’n swart koppie op sy eentjie gestaan.

Om na soveel maande van wit gesigseinder om jou, weer iets natuurliks te sien wat die platheid onderbreek, iets swarts wat skerp met die wit kontrasteer, was ’n gebeurlikheid waarna ek lank uitgesien het. Die son het agter ons geskyn en die toneel verlig sonder enige terugkaatsing van lig. Agter ons was die lug donkerblou. Voor ons het die weerspieëling van die wit van die landskap die kleur na ysblou verdun. Van ons uitkykpunt af het dit gevoel of jy tot anderkant die Suidpool sien. Jy het die versneller weggetrap om die lug vinniger deur jou longe te laat stu en net geniet en geniet.

’n Ligte windjie het uit die ooste opgesteek. Die temperatuur was minus 20 grade. Ondanks die aanhoudende werk van die enjin het ’n blok ys daarom gevorm. Deur ’n skrefie kon jy net die waaier sien draai.

Vir die volgende klompie kilometers was daar ’n kaleidoskopiese verskuiwing van taferele. Die konka het skielik hoër gerek. ’n Replika van hom het puntig onderstebo op sy kruin gebalanseer. Toe ons die neus van die trekker ’n oomblik later laer onder die sneeubult insteek, het dit en die ander lugspieëlings verdwyn. Net die skip het as getroue leidsman bly staan. Op dertig kilometer het ook hy verdwyn, toevallig net op die oomblik toe ons die lugspieëlings van ’n lang reeks berge in die ooste en ’n nog hoer geryste witbrood ’n entjie links daarvan gewaar het. Dit was die Muhlig-Hoffman-reeks. Na twee kilometer het hulle weer verdwyn, en was ons weer net deur vlaktes omring met lae ysbulte wat in die verte dein en wat soos die vingers van twee hande inmekaar stoot.

Teen die voet van die naaste een het ’n donker vaal wasem soos ’n vleimis gelê. Dit was ’n aanduiding van moontlike ysdakke oor skeure. Die hoër hange oorkant was witgeel deur die son belig. Tot dusver het ons op die egalige ysbank gery. Anderkant die vlei sou ons op vaste ys wees wat aan land bo of onder seevlak vasgeanker is. Daar kon ons weer sastrugi verwag.

Weens die waarskynlikheid van ysskeure het Hannes stilgehou en ondersoek gaan instel. Hy het skaars twintig tree gestap toe hy die eerste yskraak gewaar en sommer kort daama nog een. Dit was byna donker en ons het besluit om net daar te oornag. Ons het die trekker langs die kaboes uit die wind getrek en deur die nag laat staan en luier, aangesien sy enjinblok in ys gehul was en ons nie seker was of hy die volgende oggend sou vat nie.

Hannes het dik sop en gemaalde, geblikte vleis gekook. Die pot se deksel kan jy nie vir lank lig om te sien wat binne-in aangaan nie, want dan ontsnap die stoom en vorm ’n dik mis in die kaboes sodat julle mekaar nie kan sien nie, en kort daarna drup die water van die dak af. As nagereg het ons appel en pomelo gehad en daarna elkeen ’n groot porseleinbeker vol koffie.

Om tienuur was ek buite. Die geel van die songloed was nog in die suidweste sigbaar. Twee dowwe boë van suiderligte het bo mekaar op ’n hoek van 60 grade in die weste gehang en effens gestraal-bons. Die temperatuur het na minus 25 grade gedaal.

Om halftwaalf het ons, na nog gesels, opteken van waarnemings en niksdoen, geprobeer om tot rus te kom. Om in die slaapsak te kom, het meer inspanning vereis as die rit self. Jy lê die slaapsak op ’n skaapvel en ’n dubbele kombers op die slaapbank. Dan trek jy net jou mukluks uit, want jou klere dien as ekstra komberse. Dis ’n gewoel en geswoeg van die eerste water om in die binneste sak van die dubbele slaapsak in te wig. Jy probeer met ’n gladde beweging inkom sonder dat jou klere onder jou rug bondels maak.

Maar met soveel klere aan, is dit moeilik. Na ’n suksesvolle inslyping lê jy die twee helftes van die ritssluiter van elke sak matematies langs mekaar. Jy skuif eerste die buitenste een toe. Dan moet jy jou regterarm op alle maniere laat krul om die binneste skuif op te trek. Die laaste entjie verg ’n besondere slag omdat die ruimte vir beweging dan tot byna niks gekrimp het. Jy lê redelik sag, maar jy voel of jy in ’n dwangbaadjie geknelter is. Jy kan jou arms net reguit langs die lyf hou. Jy is nat gesweet van die gestoei met die ritssluiters en die uitstryk van die klere onder jou rug. Jy trek die ritssluiter weer ’n entjie af om af te koel, maar die minus 12 grade in die kaboes doen dit so vinnig dat jy skaars blaaskans gekry het of jy moet al weer begin spartel met die ritse. Die uitputting van die stryd met die ritse help die vaak om jou ongemak te oorweldig. Jy raak in ’n sweetdamp aan die slaap.

Om twee-uur het Hannes my wakker gemaak omdat ek te hard gesnork het. Wie kan anders as hy net op sy rug kan lê! My bolip was bevries en ys het daarop vasgeklou. Ek het my tong daaroor gevee en die water in my mond laat loop. Dit was verfrissend. Onder my ken het ’n skerp stuk ys my nekvel geskawe. Dit was die wasem van my asem wat op die wolserp verys het. Ek het die ys na die kant van my nek gedraai. Dit het ontdooi en die water het kil teen my vel afgeloop.

Die wind het die seilvlag met “SANAE” daarop, waarmee ons die voorraadplek sou merk, hard teen die dak laat klap. Dit het geklink soos die ritmiese vlerkgeklap van ’n uil. Ek het daarna gelê en luister en aan die wisseling in tempo die windsnelheid geoordeel. Met tussenposes het ek aan die slaap geraak. Teen die oggend het die stilswye van die vlaggeklap aangekondig dat die wind bedaar het.

Hannes het sy slaapsak halfpad oopgerits, en terwyl hy nog daarin lê, het hy die pompstofie aangesteek. Toe die atmosfeer draaglik warm was, het ons opgestaan. Elkeen het ’n groot bord hawermoutpap weggeslaan en na vier vakuumflesse met kakao gevul is, het ons ons reis voortgesit.

Lae jagsneeu het oor die oppervlakte gewaai. Ons het versigtig oor die krake in die vlei gery, en met geweld die helling anderkant bestorm. Die sastrugi was hoog en kliphard verys. Die kaboes het skommelend wip gery en voortgeplons. Van die kruin af het ons teruggekyk op die gebied waar die basis is. Dit was waterpas. Die sneeubult het van ons af in ’n wye kromming na die weste omgekronkel en wes van die basis verbygesteek.

’n Kilometer verder het Hannes skielik stilgehou. Voor ons het ’n breë panorama van berge en nunataks om en anderkant ’n reuse kom, waarop ons afgekyk het, ontvou. Die vloer van die kom is die ysbank wat gelyk tussen die rante en berge strek, links deur ’n diep vallei loop en ver weg in die ooste ’n draai suid-oos maak om êrens as ’n skuins gletsertong op die oopsee af te stuur. Die sneeubult waarop ons toe was, het regsom gebuig om na 50 myl aan die voet van ’n loodregaf platorand verby te seil, ’n paar myl duskant die konka en sowat tien myl verder, vlak voor die skip verby.

Die hoogland, waarvan die gelykheid hier en daar deur swart rotsmassas onderbreek word, vervaag in die verste verte. Jy het die indruk gekry dat as hierdie ys en sneeu sou smelt, dit ’n swetterjoel eilandjies en fjords, soos aan ’n Noorweegse kus, sou blootlê. Van die platorand af het ’n hoë, wit-glinsterende plato skuins regs oor die hoogland gestrek. Wes van sy verste sigbare punt het twee swart rotsmassas gelê waarvan die een soos die boeg van ’n skip en die ander reghoekig soos ’n skoendoos gelyk het.

Voor ons het die konka ook nou duideliker vertoon en gewys dat hy uit drie oorhellende pieke bestaan wat na buite leun soos die kelkblare van ’n granaat. Vir die eerste keer het ons die massiewe sneeuvoetstuk van die skip waarop die drie rotssamestellings gestaan het, gesien. Links agter die suidelike horison het dosyne klein lugspieëlings van bergspitse uitgeloer.

Weens die onbelemmerde vergesig wat ons van hierdie punt kon kry en die duidelike beligting is al die lesings op die berge, spitse en nunataks hiervandaan gedoen en foto’s geneem ingeval die lig later sou verdof of ’n wasem die berge sou uitwis. Die tyd het gou verbygaan omdat jy eenvoudig nie kon ophou om die besondere toneel te bewonder nie. Die sneeukappie van die platorand het helder geglinster. Die sneeuvoetstukke van die skip het helderder as die omliggende sneeu geskitter. Die hitte van die rotse het om hul onmiddellike voetstukke die sneeu na ys laat smelt, wat roos-geel gevonkel het in teenstelling met die sagte wit van die lugbelaaide sneeu daar onder. Die verste deel van die sneeuhoogland was in ’n ligte grys gehul.

Ek het diep onder die indruk van die oomblik gekom, veral toe Hannes sê dat hy reken niemand het nog vantevore die berge van hierdie kant af gesien of genader nie. Die trekker het vinnig die skotige afdraand afgedraf. Die oppervlakte het egaliger en sagter geword. Ons was besig om van die vaste ys na die ysbank te daal.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2019 gaste aanlyn