Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

As kankerpasiënt weet ek nou dat die kuns om positief te lewe niks met geld, duur motors of skoonheid te doen het nie. Die min dae wat voor my lê hou ek net vol liefde en vergifnis vir almal naby my, en ek dank God vir hulle liefdevolle ondersteuning.

DIE WIT HORISON (17- SLOT)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan twee nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - Oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

November het die Wind gebring, Desember die Polarhav en Januarie die Terugreis

Op 13 Oktober het Hannes verjaar. Weke lank is hy nie in die weerkantoor toegelaat nie, want Chris was daar besig om ’n staanlamp vir hom aanmekaar te sweis en ’n skerm te maak met ’n foto van elke lid daarop. Intussen het ons nege aan die Departement Vervoer in Pretoria ’n versoek gerig dat die nuutgestigte opslagplek naby die berge die naam Hannes la Grange-depot moet kry. Hulle het dit toegestaan en op die verjaardagaand, na die oorhandiging van die lamp, is dit aangekondig. Dit was ’n dolle partytjie. Die volgende oggend het ’n groot gedeelte van die span met ’n groepshoofpyn opgestaan.

Met hoofpyn en al het ons Marten en Vic gehelp om met die hondeslee weg te kom na die substasie by Otterbukta. Die honde het met groepswanorde deurmekaar gespring toe hulle die woord “trek” hoor, ’n onderonsie-bakleiery aanmekaar gesit en eers nadat Hannes se noeps hulle tot bedaring gebring het, is hulle ordelik dog met ’n helse kabaal daar weg. Dit was ’n windstille dag met onbeperkte sigbaarheid.

Dieselfde nag het die wind egter opgesteek. Marten se stem het vroeg die volgende oggend oor die lug gekom en gesê dat hulle agt kilometer duskant die substasie in die tent ingehok sit. Die sigbaar­heid by hulle was nul. Kort daarna het ons die tyding van die Japanse basis af by Showa, sowat 800 myl oos van ons, ontvang dat hul negentienjarige geomagnetis drie dae vantevore in ’n wind van 84 knope vir sy werk buitetoe gegaan het en nog nie teruggekeer het nie. Die Belge, wat op besoek by hulle was, het met ’n vliegtuig gehelp om die gebied te fynkam, maar daar was geen spoor van hom nie. Vier van hul manne, wat met toue aanmekaar gebind was, het ook vir 24 uur soek geraak maar het gelukkig op eie houtjie weer die basis gevind.

Om kaalhandig sonder tent, kos en warmte ’n kwaai sneeustorm te oorlewe, is haas onmoontlik. So ’n persoon sou moes pro­beer om hom in die sneeu in te grawe sodat die lug daarin hom teen die koue kan isoleer en beskut. Maar hy moet aan die beweeg bly om nie aan die slaap te raak nie, want anders sal hy verkluim. Marten en Vic het drie dae lank die wind in die tent getrotseer - so naby hul luukse bestemming en tog so ver.

In ’n wind van 60 knope het ek, Hannes en Dick ’n ballon met radiosonde afgestuur. Hy het laag oor die aarde getrek. Dick moes met die radiosonde in sy hand vir ’n paar honderd tree saam hardloop sodat dit nie teen die sneeu verpletter raak voordat die ballon hom gelig het nie. Ten spyte van die wind het hy seine vir 40 minute gegee en in daardie tyd 180 millibar bereik - deur ons leke “mielieblare” genoem.

Ons het verneem dat die Polarhav, ook ’n Noorse robbeboot, maar groter as die Polarbjom, ons sou kom haal. Met die radio-telefoongesprek die vorige Donderdag het Henk, my vyftienjarige seun, uit Pretoria my gevra om te reël dat hy met die aflosboot kan saamkom. Dit was ’n bietjie veel verwag. Nogtans, met die hulp van Hannes het ek ’n brief aan die eienaar van die Noorse redery opgestel om te verneem of Henk as kombuisklong by die boot in Kaapstad mag aansluit.

Op 24 Oktober het Chris verjaar en dieselfde middag het Marten en Vic opgedaag. Chris het sover vir elkeen ’n verjaardagpresent met ’n oorspronklike Antarktiese motief gemaak. Hierdie keer het Theo vir hom ’n skaalmodel van die Muskeg gemaak. Theo wou nie vir Suikerbossie met al sy buie verewig nie. Hy het ook ’n foto-album gekry waarvan die omslag van ’n mokassin gemaak was met ’n foto van elke lid en van sy geliefde hond, Oscar, daarin. Onder elke foto was ’n spreuk of gebaar beskrywe wat teen dieé tyd eie aan elkeen geword het. Om lasteraksies uit te skakel, begin die album met: “Alle karakters is denkbeeldig en ooreenkoms met enige lewende persoon is bloot toevallig.”

Hannes sit op sy hurke by die opvlammende pompstofie, wat uit gewoonte opvlam en baard en ooghare in die slag laat, terwyl hy verskrik uitroep: “Ajabompa!” Marten is besig om ’n blikkie bier oop te maak en sê met genotvolle afwagting “Fantasties!” Blackie het elke gesprek met “hoorg hierg” aangevang; Dick, wat altyd so blitsig was, sit met ’n masker halfpad deur die Midwinteraand in ’n stoel vas aan die slaap. Onder Vic se foto staan: “Uiters versigtig” (weens sy herhaaldelike vermanings om dinge sagkens te hanteer). Doors skrop vloere en sê beskeie: “Moenie kwaad word nie”. George sit op sy hurke ’n pilaar en verf met die onderskrif: “Ek pomp”. Terwyl ek paraffien in die verwarmer gooi, sing ek tot vervelens toe die deuntjie “Da-di-daa” terwyl ek na binnetoe afblaas. Chris sit hemelsgroot in die kombuis wat hom soveel moeilikheid, seesiekte en komplekse gegee het. Op die volgende blad staan die trekkers versonke in die sneeu met die onderskrif: “Anti-chrisselike probleme”.

Hannes en Vic het gereeld elke dag op hondesleeritte gegaan om hulle en die honde te brei en konfyt te maak met probleme wat hulle op hul lang tog van 31 Oktober af kon teenkom. Kort na tien die Maandagoggend het hulle vertrek. Dit was een van die helder witsigdae wanneer daar geen wind waai nie, die horison wegsmelt tussen hemel en aarde en dit lyk of alles teen ’n witgordyn staan af beweeg. Toe hulle ’n paar kilometer weg was, het die slee met honde so lank soos ’n goederetrein gelyk met die lokomotief agter. Hannes en Vic het op lugstelte beweeg, en die konka teen die westelike hang was so groot soos ’n trekker. Hulle het direk suid koers geneem, dieselfde koers wat ek en Hannes drie weke vantevore ingeslaan het. Hulle is weg sonder geriewe vir radioverbinding. Ons kon die volgende paar weke hulle net onthou en vir hul veiligheid bid. Dit was waaghalsig om so sonder radiofasiliteite te gaan, maar hulle het Antarktika nou reeds geken. Hulle het groot verantwoordelikheidsin teenoor mekaar geken en bo alles was hulle uiters versigtig.

In Hannes se afwesigheid het Marten as leier waargeneem. Elkeen het met sy werksaamhede voortgegaan. Met nog net twee maande voor die terugreis het alles in ’n laer rat gegaan. Marten het die magnetogramme gereeld verwissel, Chris het hulle ontwikkel en ek het die paaltjies, wat die sneeu-neerslag aandui, gemeet. Hierdie werkie van my het ek alleenlik op mooiweersdae gedoen. Selfs dan kon die windjie onverhoeds opsteek of die son agter ’n wolk verdwyn en jou laat verkluim, soos daardie dag toe die son agter ’n besondere lang swart wolk ingekruip het. Dit het eensklaps koud geword en my neus het doodgegaan. Ek moes hom kort-kort in my hand vasklem om hom warm te maak. Na ’n rukkie het hy egter aan die koue gewoond geraak en daarna op sy eie die koue weerstaan. Dit is dikwels opgemerk dat ’n mens die ergste koue ondervind net wanneer daar ’n skielike daling in temperatuur is, en na ’n paar minute het jou vel by die laer temperatuur aangepas.

Teen die middel van November het ons verneem dat die Polarhav reeds op die vierde van die maand Norweë verlaat het onderweg na Kaapstad. Die nuwe span van tien lede was saamgestel. Ons het ’n bietjie gebelgd gevoel oor hierdie vertraagde beriggewing. Ons was gewillig om jaaroudkoerante te lees, maar darem nie om week-oue nuus per radio te ontvang nie. Ons het daaroor geskimp, en soveel te meer omdat hulle nogal, soos die naam van die boot oor die radio geklink het, ’n halwe boot stuur om ons te kom afhaal. Hoe dit ook sy, halwe boot of nie, ons het uitgesien na die aankoms van die boot, nie net om na ons land terug te gaan nie, maar om die nuwe klomp mense te sien en hulle alle moontlike en onmoontlike dinge oor dinge en gebeure in Antarktika wys te maak.

Nege dae lank het die wind onverpoos gewaai. Radioverbindings met ons land of selfs met nabygeleë basisse was uitgewis. Die ionosfeer het eenvoudig verdwyn. Die magnetogram se liggie het met al die magnetiese storms wat hy registreer, bokspringe gemaak. Die wind het nooit minder as teen 30 knope gewaai nie en merendeels teen 60 tot 80 knope. Dit het afleiding verskaf om voor die anemometer in die weerkantoor te staan en die speel van die inkstafie op die papierrol dop te hou. Terselfdertyd het jy aan Hannes en Vic in die berge gedink en vertrou dat hulle veilig is. Jy het vertrou dat die honde met al die stille in die wind nie in so ’n mate kondisie sou verloor dat hulle moeilik die slee op die terugtog sou kon trek nie. Die terugtog sou soveel moeiliker wees, aangesien die sneeu na die sneeustorms baie sag sou wees en die gelykstroke van die slee diep daarin sou wegsink met die swaar vrag geologiese klippe van Vic.

Op die 22ste het die skoorstene so hard soos nog nooit vantevore geraas nie. Die anemometer het byna vasgesteek by 97 knope (112 myl per uur). Ons het asem opgehou vir Hannes en Vic. Die wind het toe al twaalf dae aaneen gewoed. Berge van sneeu het by die voet van die skagleer opgehoop, genoeg om baie keer mee te bad, maar met die koue het die uitlaatpype verys en ons het moeite ondervind om van die vuil water ontslae te raak. Die wind het by die lugskoorstene ingewaai, langs die buitekant van die mure af sy weg onder die vloer in gevind en dan weer deur die wateruitlaatpype in die vertrekke uitgepers - teen so ’n drukking dat die prop gelig het en die water uit die wasbak geloop het terwyl jy skottelgoed was. Ek het die temperatuur in my kantoor na willekeur gereguleer deur die prop van die bak te lig of styf in te druk. Die lugblasery was die oorsaak van die toe-ys van die pype. Ons moes dikwels bekers vol kookwater in die kombuis s’n laat afloop voor­dat ons weer die vuilwater kon uitlaat.

Die wind het die gees gedemp. Nic het rondgedwaal omdat die ionosfeer nog makeer het en hy niks kon ontvang of versend nie. Buite het die werk onder die opdrifsels opgegaar. Alles sal weer van nuuts af aan uitgegrawe moes word. Op die dag van sy grootste drif het hy hom gelukkig ook uitgewoed. Teen die aand was dit stil. Uit pure verligting het ons buite gaan rondstap en daarna, ten spyte van die tyd van die dag, in die helder sonskynnag die gange begin skoonry.

Die volgende dag het die son in al sy glorie dag en nag aanmekaar begin skyn. Dit was die begin van die tweemaandedag. Jy kon weer aanmekaar lewe in die glansende lig buite. Ongelukkig kon jy nie ten volle hiervan gebruik maak nie, want daar was op te ruim en skoon te maak voor die aankoms van die boot. Ons het begin om vir die eerste keer stelselmatig die vloere van die slaaphokke en die kantore te skrop en met messe af te krap.

Op 24 Novmber het die temperatuur vir die eerste keer sedert ons verby Bouvet-eiland is, bo vriespunt na plus 1.4 grade C gestyg. Dick het dit met verskillende termometers gemeet en voor die ongelowige oë rondgestuur. Ons het almal buite gegaan waar Chris reeds net in ’n onderhemp besig was om oliekonkas uit te grawe. Daar was klein onweerswolke op die noordelike en noord- westelike horison. Dit het so bedruk gevoel soos voor ’n donderstorm op die hoëveld van Transvaal. Doors het met kaal bolyf rondgeloop en foto’s van homself met die outomatiese koppeling aan sy kamera geneem waar hy sneeumeters en termometers lees. Ek het my hemp ook uitgetrek. Dit was die eerste keer na ’n jaar dat ek son op my bedompige en vermufte vel kon kry. Selfs die sneeu waarop jy stap, het warm gelyk en jy het gewonder hoekom jy nie die mukluks kon uittrek nie. Ek het aan die oppervlakte gevoel om my te oortuig dat dit nog yskoud was. Die warmte was egter van korte duur. Na ’n halfuur het die windjie weer saggies begin waai en moes ons ons hemde aantrek.

Op 26 November het die eerste sneeustormvoëls tussen noord en suid verbygevlieg op pad na of terug van die viswaters waar hulle kos vir die kuikens gaan haal het. Ons het hulle nie die vorige maand op die trek na die berge gesien nie. Antarktiese stormvoëls het ook heen en weer oor die basis begin vlieg om proteïenryke seekos vir hul kuikens aan te dra. In Antarktika is ’n kroos ’n groot vermoeienis. Dis 80 myl na die naaste spens, en dan weer net so ver terug met ’n swaar kropvol verteerde kos vir die kleintjie en die maat. Sowat twee weke nadat hulle vir die eerste keer ná die winter by die rotse aankom, lê elke wyfie een eier op ’n lysie van ’n rots. Gedurende die dag lê die eier onbeskerm in die son en bak. Wanneer dit kouer word, sit die wyfie of die mannetjie om die beurt daarop. Na twee weke kom die kleintjie uit en dan begin die koskarweiery. Nou en dan kom ’n skua konsternasie by ’n broeiplek veroorsaak wanneer hy probeer om ’n eier of ’n kuiken te gaps.

Vroeg in Desember het hulle drie-drie na die oop see verby gevlieg . . . ma, pa en kuiken. Die kuiken was nou net so groot soos die ouers en net ’n bietjie ligter van kleur op die rug en vlerke.

Een oggend het Nic met ’n glimlag en ’n oogknip vir my ’n berig oorhandig. Ek was werklik verbaas toe ek merk dis ’n antwoord op my versoek uit Noorweë. Ek het dadelik aan Henk ’n telegram gestuur, “AANGENEEM AS KOMBUISKLONG POLARHAV REEL DADELIK PASPOORT GROETE PA.” Groot opwinding het onder almal geheers, en ek het soveel te meer na die aankoms van die aflosboot uitgesien.

Henk het later aan my gesê dat hy wel ’n besondere soort werk vir die skoolvakansie wou hê, en sommer in die bloute geskiet het toe hy die versoek aan my gerig het. Hy het egter nooit gedroom dat so ’n unieke vakansie hom ooit te beurt sou val nie. Ek ook nie. Hy het die telegram die oggend op pad na Godsdiensoefening by die skool ontvang. Eers nadat hy dit ’n tweede keer gelees het, kon hy sy oë glo.

Dit wind het weer lewendig geword en snelhede van 70 knope bereik. Met die stil dae het ons sporadies radiokontak met die land gemaak, maar nou het hierdie vergunning van die ionosfeer ook weer verval. Chris en George kon buite net ’n paar uur lank op ’n slag die trekkers nagaan, voor die wind hulle weer na binne gejaag het.

Ons was besonder stil, miskien weens die gedagte aan al die buitewerk wat afgehandel moes word voor die aankoms van die boot en waarvoor die wind nie die geleentheid gegun het nie. Mis­kien was dit ook omdat jy gevoel het dat die tyd van verblyf verby was en die volgende fase dié was van herontmoeting en herervaring van dinge wat vir jou eers die doodgewoonste was. Hier het jy sonder inspanning gelewe, kon jy talente ontwikkel en begrawe. Hier was geen sosiale dwinglandy nie.

Ten spyte van die wind wat deur die skoorstene geloei het, was Dick, Doors en Chris opgewonde oor St. Nikolaasdag. Die wind het egter oornag gaan lê en ’n buitengewone stilte gebring. Chris het baie vroeg die oggend na buite gegaan om aan die Muskeg te werk en Marten het gaan help. Marten het opgewonde vir my by die stoof vertel dat hy ’n donker bewegende voorwerp in die suid-weste opgemerk het. Hy was seker dit was Hannes en Vic met die honde. Ek het gedink dis baie onwaarskynlik, daar die wind maar eers die oggend gaan lê het en hulle nie in die wind sou gery het nie. Ek het gaan kyk en gemeen dis ’n konka, maar Marten was oortuig dis hulle. Miskien was dit net ’n voorwendsel om met die skropgraaftrekkertjie hulle ’n entjie tegemoet te ry. Nic het ’n groen Veary-patroon afgeskiet om hulle welkom te heet. Na lang vrugtelose gesukkel om die Pikanien aan die gang te kry, het Marten besluit dat hulle ’n konka is. Die lig het beter geval en hy kon duidelik die konka op die ysbult uitken.

Op 5 Desember het die eerste McCormick-skua van ná die win­ter gekom. Hy het by die hondestellasie geboer waar hy stukkies afvalkos en kos wat die honde in elk geval nie wou eet nie, gesit en inslurp het. George wou hom vang, maar hy was nog nie tot barstens toe geëet nie en het ligvoets oor die ys gestap en hom ontduik of opgevlieg. Ons het naarstiglik planne beraam en toegepas om hom vir een of ander wetenskaplike inrigting in die land te vang, maar hy wou nie saamspeel nie.

Op die roetine-waarnemingstyd om drie-uur op die oggend van Woensdag, 7 Desember, het Theo vir Hannes en Vic uit die suide sien aankom. Hy het ons kom wakker maak. Hierdie keer was dit nie ’n konka nie. Marten en Nic het in allerhaas ’n boodskap na ’n radio-amateur in die land deurgekry om die vrou en ma van die twee in kennis te stel. Om halfvyf het die twee voor die deur stilgehou.

Hulle het verbrand en skraal, dog gesond, daar uitgesien. Die honde was ook skraler maar in blakende gesondheid. Knoll en Flabben het elkeen ’n hapblaffie gegee toe hulle na hul staanplek anderkant die toring by ons verbydraf. Hulle was 37 dae uit en tuis, een dag langer as wat die Polarbjorn geneem het om ons na ons bestemming te bring.

Omtrent 10 myl anderkant die voorraadplek, effens oos, was die eerste klein nunatak. Hy kon maklik en veilig met trekker en slee bereik word. Daar was geen windtrog om hom gewaai nie. Hannes het gereken dis ’n goeie plan om die voorraadplek daarheen te verskuiwe. Dit was jammer dat ek en hy dit nie op ons tog gesien het nie. Ons het toe die tyd en die lus gehad om verder te ry.

Daarvandaan was ysskeure legio. Sommige was oop en ander was met effense gesonke, waterpas-gelyke blou ysdakke bedek. Hulle het gewissel van ’n paar voet tot 30 tree breed, breed genoeg vir twee treine om langs mekaar daarin te staan. Nic se verbeelding het hulle gou wyd genoeg vir twee “Queen Mary’s” gerek. Hannes het gemeen dat oos en wes daarvan deurgang vir trekkervervoer was. As die trekker met sy sleepsel dan eers op die plato was, sou dit vir myle veilig wees.

Hulle het altesaam 561 kilometer (354 myl) afgele, en 21 nuna-takke en bergspitse besoek.

Die meeste nunatakke en rotsspitse het lichene en alge op van alle kleure, rooi, swart en wit. In die skeurtjies self was hulle donkergroen. Ondersoek met die vergrootglas het geen luise en myt aan die lig gebring nie. Boreas kon hulle nie bestyg om daar vir alge en lichene te soek nie, Passat wel, maar daar was niks nie. Hannes het Boreas 200 tot 300 voet hoog geskat, die Maudheim-ekspedisie op 750 voet en die Duitsers op 2,500 voet. Hannes het ons verseker dat die ander moontlik met optimistiese oë die hoogtes bietjie ge­rek het.

Hulle tog was besonder voorspoedig. Net een keer het die slee skuins deur die dak van ’n ysskeur gehang, maar hulle kon dit redelik maklik uitsleep. Torr het nie saam teruggekom nie. Hy het by een uitspanplek sy trektou afgekou en weggeloop. Hy het agter ’n bult gaan sit en tjank. Weens die slegte weersomstandighede kon hulle hom nie gaan haal nie. Hy was altyd ’n huishond van die Nore en om dié rede het hy nie die spangees van die ander ontwikkel en nagekom nie. Van die ander het ook van tyd tot tyd losgeraak, maar dan saamgedraf totdat hulle weer ingespan kon word. Hulle is toe verder en terug met agt honde. Vic se vrag klippe bygereken, het die honde op die terugreis elkeen gemiddeld 126 pond op die slee getrek. Dit was sowaar ’n rekord, en om dit te kon bereik, was moontlik toe te skrywe aan die gereelde voorsiening van vitamienkoekies - selfs op die reis. Torr was geen gemis nie, aangesien hy in elk geval nooit sy volle gewig getrek het nie, maar gewoonlik met slap trektou saamgedraf het.

Op die dag van hul terugkoms het ons berig ontvang dat die Polarhav om twee-uur namiddag uit die Kaapse hawe vertrek het. Twee dae vantevore was die Ob van die Russe al op 52 grade suid in ’n direkte lyn met Lazarev. Hulle het baie vrotys gevind maar teen daardie tyd nog geen hompys nie. Die Shackleton was nog by Hopebaai op die noordoostelike punt van Grahamland by ’n eiland. Ander bote was ook op pad, elkeen na sy eie bestemming om die 9,000-myl kuslyn van Antarktika om sy eie betrokke span af te los. In die somertyd was die skeepvaart om Antarktika bedrywig. Dit was die enigste tyd van die jaar om deur die ys te kom.

Om agtuur op die oggend van 9 Desember het ons vir die eerste keer met die Polarhav radiokontak gemaak. Hy het in die stormbreedtes gerol en gewip. Almal, buiten die leier van die ekspedisie, Johan van der Westhuizen, Henk en Ryno, die radio-operateur, was, net soos ons, seesiek. Hoe nader hulle gekom het, hoe vinniger het ons begin huis skoonmaak en pak. Talle monsters bloed, bloedserum en urine saam met weefselmonsters van die honde wat dood is, Vic se honderde klippe is almal gemerk en uiters versigtig in honderantsoenblikke verpak. ’n Telegram is van die Sekretaris van Vervoer uit Pretoria ontvang om Hannes en Vic met hul prestasie geluk te wens: “Dit is weer ’n bewys dat Boer se kind hom in alle omstandighede kan aanpas.” Dit was waar. Chris het selfs van stukke vel olieseëls vir Dawid en Jonatan gemaak. Dit het mens sommer weer aan die dae van die Groot Trek laat dink. Antarktiese afsondering, net soos enige afsondering elders, verg gesonde verstand en bedagsaamheid en nie ’n verlange om ’n heldedood in mukluks te sterf nie.

Die berigte van die boot het al nader en nader gekom. Ons was bang dat hulle ons onverhoeds sou betrap. Hannes en Theo het met die hondeslee, en Nic, Blackie en Chris met die muskeg in aller yl vertrek om die landingsplek te ondersoek en te sien wat nog aan die ysdok gedoen moet word om dit bruikbaar te kry. Vir die eerste keer was ons vir alle praktiese doeleindes net vier by die basis, want George het bedags geslaap en was snags aan diens. Dit was ’n vakansie om vir so min te kook en huis te hou. Saans het ek en Nic sommer vir die plesier selfs ’n halwe blik vuilgoed na die ashoop gesleep net om daar in die warm gloed van die son te sit en rook en gesels.

Op sulke tye het ons ons harte ontbloot oor dinge wat verby is en dinge wat beoog word. Jy het gewonder en begin twyfel aan die beskaafdheid van die beskawing. Miskien sal jy sy geriewe nou meer waardeer, totdat jy vergeet het hoe jy dit gemis het. Miskien sal jy dit minder waardeer wanneer jy terugdink aan die ongekunstelde en produktiewe lewe wat alleenheid bied.

Op die noordwestelike horison kon jy die groen planktonsee in die lug sien kaats. Die sneeumis het noordwaarts getrek. Dit was ’n teken dat die see vir baie myle oop was.

’n Week na hul vertrek het die aflosspan die eerste ysberg ook, net soos ons, naby Bouvet-eiland gesien. Maar dit was sommer ’n kalfie teenoor ons een van driehonderd voet hoog. Of het ons nou al weer gerek? Die Polarhav sal vinnig deurkom. Teen die aand is hulle skuins wes van Bouvet-eiland verby en op 15 Desember oor die meridiaan op 60 grade suid. Hulle het gevind dat die see met sowat 70 persent ys bedek was. Hulle het nog een stryk deur gevaar, reg op dieselfde roete wat die Polarbjorn ’n jaar gelede gevolg het. Teen die 19de moes hulle ’n ruk noordwaarts vaar om om die ys te kom. Ons het allerhande gissings gemaak oor die dag wat hulle aan die kus verwag kon word. Weer was daar optimistiese skattings, maar die meerderheid het die les van ’n jaar gelede onthou: dat ystoestande seëvier oor menslike verwagtings.

Op die 20ste het die stem van Johan oor die lug gekom dat hulle verwag om die volgende dag by ons te wees, aangesien hulle toe net 150 myl van die landingsplek was. In allerhaas is kajuitraad gehou en besluit dat Hannes, Chris en George vroeg die volgende oggend na die ysdok sou vertrek om die skeure te merk wat die trekkers met die karweiwerk moes vermy, en om ’n ysankerplek te vestig. Sodra ons nuus ontvang dat die boot in sig van die ys- bankfront is, sou ek en Marten met Suikerbossie, die kaboes en drie sleë vertrek en Dick sou aankom met Pikanien om by te staan met die aflaai. Alles was daardie aand in rep en roer. Haastig is alles finaal gepak, die seilsakke met klere, die kaste met patologiese monsters en boekdele aantekeninge. Intussen het die boodskap gekom dat hulle nie te goed vorder nie. Dit gee ons ’n blaaskans en dan drink ons maar koffie. Dan weer verloor ons kontak en reken dis omdat hulle reeds agter die ysbankfront lê.

Ná middagete is die eerste drie met die muskeg vort. Kort daarna het die nuus gekom dat die boot stadiger vorder. ’n Ysgordel versper hul gang. Die lug het warm geword met gesels en geskerts, en die boot vorder al hoe stadiger. Jy is besig maar ook nie eintlik nie. Die werk is afgerond en weggepak. Jy wil nie ’n gek van jouself maak om weer uit te pak nie want dalk is die boot nou-nou hier. Jy wag en stel uit en hoop. In elk geval is jou gedagtes nie meer hier om te kan werk nie. Ryno klets oor die lug. Hulle is op die dek besig om ’n pantomime vir Oukersaand te oefen. Dus het hul optimisme ook gedaal. Of maak hulle hul gereed vir enige gebeurlikheid? Henk het met my oor die lug gesels. Hy straal van geluk en opgewondenheid oor die wonderlike avontuur. Op sy ouderdom is die indrukke grootser en blywender as vir die grootmens.

Op die 24ste het die temperatuur weer na plus 1.4 grade gestyg. Dick het kaal buite gestaan en rondgesoek na robkarkasse wat onder die sneeu verlore geraak het. Die sneeu het in ’n pappery bo om die voordeur versmelt. As die boot nie vasgehou was deur die ys nie, sou ek nie weer ’n kookbeurt gekry het nie, maar toe was dit my lot om Kersmaal voor te berei. Die hele dag het ek voor die stoof gestaan om veryste kalkoen en vleis te kook en te braai. Die aand was daar ’n groot maal. Die kusvaarders het die middag tuisgekom vir die aandete. Daar was kalkoen, varkvleis, koue slaaie en baie bier en oorskiet-whisky. Die eetkamer was versier met ’n wit weerballon wat van die plafon tot op die tafel gereik het. Die Polarbjorn en die San Martin is deur George daarop geteken. Daar was ook ’n rooie met ’n huurmotor op.

Telegramme het van orals ingestroom, en tot ons verbasing een van die groot Amerikaanse ysbreker, die Glacier. Dit was van Kommandeur Netterberger wat as waarnemer daarop was. Ons kon ons voorstel hoe gelukkig hy was. Hy was so absoluut volwasse en aanpasbaar onder alle omstandighede en waar hy gaan, het sy inspirasie en voorbeeld op ’n stil manier gegeld.

Op die oggend van Kersdag het die Polarhav nog op 69 grade suid en 10 grade wes vasgesit, en ons het in stille berusting vir die wind gewag om hom los te breek. Teen die volgende oggend het dit ook gebeur. Die ys het om hom verkrummel en verdwyn en oop water het gestrek tot teenaan die ysbankfront. Hulle sou om sewe-uur die aand vasmeer.

Toe was dit ’n gewerskaf. Chris het gaan trekkers warmmaak en aan die gang gesit. Marten en Vic het die kaboes skoongemaak van al die sneeu wat daarin gewaai het. Ek het twee reuse koeke vir die transportdrywers gebak om elke slag darem iets by hul koffie te kan geniet. Dick is eerste vort met Pikanien, toe Marten en ek met Suikerbossie en kort daarna Hannes, Chris en George met die Muskeg en ’n rits leë sleë.

Ons was baie opgewonde. Ons het ’n ysberg vir die boot aangesien, en toe weer was Pikanien die boot.

Kort na half pad het die muskeg by ons verbygesteek. Hy het oor die aarde geseil waar ons met die smal raspers van Suikerbossie weggesak het in die sneeu en nie so vinnig soos ons wou, kon ry nie. Suikerbossie het eenvoudig die spore van Pikanien gevolg en dit was haas nie nodig om te stuur nie. Ons was ’n uur voor die Polarhav by die bukta. Twee groot Weddell-robbe het op die ysrak langs die water gelê en slaap. Aangesien die aflosspan min robbe vir die honde teëgekom het, het ons doodseker gemaak om die twee nie mis te skiet nie.

Om 7.12 het die Polarhav teen die kant gestamp. In teenstelling met die Polarbjorn het hy ’n stomp pieringneus gehad en kon hy nie die sneeu so goed soos die Polarbjorn afstamp nie. Hy moes dit afskuur en in plaas van te bokram, het hy die indruk gegee asof hy pens en pootjies uit die water wou klim.

Die wind was so stil en die sneeu so fluweelwit soos die dag toe ons gekom het. Die nuwe klomp het in stilte na ons gestaar en ons na hulle. Ek het gedink daar sou baldadige opgewondenheid wees. Ek het ’n jaar gelede gereken dat die Nore besonder stil was, en ons het ons voorgeneem om die nuwe span ’n luidrugtige boere-verwelkoming te gee. Maar dit was onnatuurlik stil. Was hulle beïndruk deur die werklikheid net soos ons ’n jaar gelede?

Ek was eerste aan boord om Henk te groet. Ek het hom nie herken nie, en moes vra wie hy is. Hy het verander sedert ek hom laas in Pretoria gesien het. Hy het lank en vreemd in sy bruin mus en poolbril gelyk. Hy was baie stil. Was dit verslaenheid oor die toneel of die ondervinding of ontnugtering van die afgelope negentien dae op die boot?

Die kaptein was nie tevrede met die landingsplek nie omdat onder die ysbank ’n skerp, puntige stuk ys uitgesteek het wat enige oomblik kon losskiet en ’n gat in die bodem van die boot kon slaan. Hy het ’n paar myl noord na Otterbukta gevaar waar see-ys nog ver in die see uitgesteek het. Twee keiserpikkewyne het vir foto’s kom poseer nadat hulle eers pogings aangewend het om weg te kom. Hul nuuskierigheid het hulle egter laat omdraai en laat vriende maak.

Dis ysbankfront was hier 100 tot 150 voet hoog en deur die oostewind skoon van sneeu gewaai sodat hy blou vertoon het. Die see-ys was gekraak, en nou en dan het jy deur so ’n kraak getrap. Op die oppervlakte lyk so ’n krakie soos ’n smal barsie, maar wanneer jou voet deurgetrap het, het dit ’n nege duim skeur blootgelê.

Na ’n paar uur se ondersoek en beraadslaging het ons suidwaarts na Polarbjornbukta gevaar, die diep dubbel-horing bukta net suid van Polarsirkelbukta. Die kaptein het hom veilig verklaar.

Die aflaai het dadelik begin. Daar was nie die gejaagdheid van die vorige jaar nie, aangesien die voorrade direk na die basis gery is en dit intussen vir die sleelaaiers kans gegee het om te ontspan.

Ek en Henk het ver op die arms van die inham gaan stap. Daarvandaan het ons afgekyk op die boot wat teen die sneeukaai lê. Die rooi van die boot het in die amper stil water geriffel. Die wande van die ysbankfront het kanariegeel in die lae son geskitter. Die plato was perlemoenpienk. Alles was soos deur God gemaak.

“Pa lyk anders,” het Henk gesê,

“Jy ook.”

“’n Mens voel hier anders as elders. Ek is bly ek is hier.”

Ek het geknik. Ek het sielsgemeenskap gewaar.

“Aanstaande jaar gaan jy saam met kaptein Maro by Nieu-foundland robbe jag.”

“Ek sal graag wil gaan.”

Die ongekunsteldheid van die omgewing waar daar geen opgesmukte verskynsels van mensedwang is nie, gee ongesteurde tyd en geleentheid vir selfondersoek, soek na kennis van dit wat om jou is en die belewing van die selfverworwe kennis.

Maandagoggend, 9 Januarie, het die water begin golwe maak en die kant van die boot het teen die ysbankfront begin stu en stamp. By die bek van die inham het stukke ys begin indrywe. Die kaptein was bevrees dat ons ingehok sou word. Hy sou nie ’n ysberg kon wegstoot as dit die inham kom blokkeer nie. Hy het ’n ent uitgevaar om die see buite te bespied en het besluit om die klomp op te laai en liewer te ry. Om vyfuur het hy die neus van die boot teen die ysmuur laat stamp maar almal was nog nie daar nie. Hy het heen en weer tussen die oop see en die ysbankfront gevaar. Teen agtuur was almal wat moes saamgaan op die sneeukaai. Die laastes wat moes agterbly, het afgespring en die laastes wat moes saamgaan, het opgespring. Om 8.12 die aand het ons vertrek. Daar was ’n lustige geskree en gegroet. Die bootfluit het drie keer geblaas. Dick het soos ’n alleenloper op die sneeu gestaan. Maar hy laat die lewe hom nie platdruk nie. Ek sal hom mis, want ek het goeie kontak met hom gemaak. Ons kon lekker verskil van mening en lekker gesels. Ons het om die punt van die suidelike arm van die bukta gevaar en was gou in oopsee. Daar was geen ysplaat te sien nie. Dit was so oop soos wanneer jy uit die Kaapse hawe vaar.

Die boot het ’n verplasing van 640 ton, en ’n lengte van 230 voet. Hy is baie ruimer en luukser as die Polar bjorn. ’n Ruim kajuit is vir elke twee persone aangewys. Ek en Nic was in nommer tien, hy bo en ek onder. Elkeen het selfs ’n leeslamp om by te lees sonder om die ander te steur. Daar was ’n wasbak met warm en koue water. Jy kon koue lug laat inblaas wanneer jy warm kry, en warm lug wanneer jy koud kry. Die vloer was warm sodat jy met gewone skoene kon rondstap. Dit was aangenaam om so gou weer in gewone klere te lewe. Die eetkamer was ruim met stoele daarin en nie banke nie. Daar was ’n groot verskeidenheid van viskosse in blikkies, kilogramme ertappels elke dag - en visbolle! ’n Mens moes hulle eet want daar was nie elke dag ander vleis nie. Jy het uitgesien om liewers weer by die basis te wees en daar jou eie kos te geniet. Dit was so anders as op die eerste boot, waar alles so beknop was en jy baie nader kennis met jou reisgenote kon maak. Ek het hom verkies bo hierdie luukse vaartuig.

Deurgaans was die weer mistig en betrokke, so koel soos met reëntyd in die Boland. Hier en daar het ons ysbrokke gewaar, maar alles was kleurloos in teenstelling met die heenreis. Eenkeer het ’n trop keiserpikkewyne vir oulaas op ’n ysskots verbygeseil en hulle stompievlerke gewaai. Ons sal hulle as persone mis. Hier en daar het ’n krapvreter in die verfrissende lug op ’n ysskots gelê en slaap. Teen die middag van die tweede dag het ons teen die eerste ysstrook vasgery. Die boot het stilgehou en die matrose het met die katroikabel lusse om groot blokke ys gestoot en hulle op ’n groot seil op die dek neergesit. Stukke is afgekap om verder in die enjinkamer te ontdooi of in groot kastrolle op die stoof om die varswatervoorraad aan te vul.

Deur die ys het die boot nie gestamp soos die Polarbjorn nie. Sy pieringsnoet het saggies tot op die ysplaat gegly, dan ’n oomblik gelê en wieg. Wanneer sy gewig die ys gebreek het, het hy effens gesak en weer voortgevaar. Opgewonde Adeliepikkewyne het oor die sneeu geskarrel, op die pens gegly en met kortsleepstertjies ’n entjie weggetrippel en dan weer na ons gestaar.

Antarktiese en sneeustormvoëls het net ’n paar dae om die boot gedraai. Hoe verder ons die ys agtergelaat het, hoe minder het hulle geword.

Twee dae na ons vertrek het ons oor die Antarktiese sirkel gevaar en ’n paar uur donker nag het weer begin. In ’n sekere mate het jy uitgesien na die landstreek waar dag dag en nag nag is, en waar jy die vaste hobbelrigheid van die aarde weer onder jou voete kan voel. Die boot het gou in die deinings tussen los gebroke plaatys begin rol, maar soos ou matrose het ons lyf meegegee en selfs die dae daarna deur die baie hoër deinings waar ons vroeër so siek geword het, het nie een van ons weer nodig gehad om te wens dat die boot moet ondergaan nie.

In die skuimwater agter die boot het die groot albatrosse op die lugstrome begin sweef. Daar was allerhande ouderdomme verteenwoordig. Die uitgegroeides is uitgeken aan die wit op die vlerke met net effense swart-bruin punte; die jongeres daaraan dat hulle s’n heeltemal swart was of net ’n wit strook naby die lyf gehad het. Kort daarna het seeduiwe (Pintado - stormvoëls) by hulle aangesluit.

Vroeg die Vrydagoggend van 20 Januarie 1961, het ek die swart buitelyne van die Kaapse skiereiland se berge gesien. Dit was voor vyf. Ek het die ander klomp gaan wakker maak. Kort daarna het ons die gloed van die vuurtorings by Kaappunt en Slangkop gewaar. Niemand het daarna weer aan slaap gedink nie. Kort voor agt het die Gewelberge in die teenoorgestelde rigting as veertien maande vantevore verbygeseil, en Leeukop se lyf het in die oggendson geblink.

Malgas, die gidsboot, het gou op ons teken gekom en ons gelei na presies dieselfde plek van waar ons lank gelede vertrek het. Doeanebeamptes het kom ondersoek instel of ons nie verbode artikels en immigrante aan boord het nie - ’n tydrowende ritus van beskawingsagterdog.

Die teerblad het ongewoon onder ons voete gevoel. Die spiere op ons skene en om ons enkels het pynlik getrek. Vroeg die vol­gende oggend het ons per vliegtuig na Pretoria vertrek. Dit het vreemd gevoel om vinniger as die gewone drie tot tien myl per uur van Antarktika te reis. Die Karoo het gelyk en rooi onder ons gelê. Daar was soveel ooreenkoms met Antarktika. Albei gelyk en uitgestrek, net die een was rooi, die ander wit. Die een het sy skape, die ander die potensiaal vir ’n ryk lewe van ondersoek - na die dinge van duisende jare wat op ondersoek lê en wag en waar die lewe ongesmuk jou eie is. Die dinktyd in die lug het te gou verbygesnel.

Dit was aangenaam om neer te stryk en die dames met hul kleurryke hoëbolhoede te sien. Hulle het anders en mooier as veertien maande vantevore gelyk. Dinge het verander - was so anders as elders.

EINDE

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1207 gaste aanlyn