Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom dink u het God opdrag gegee dat sy volk in Efés 5 onder mekaar met psalms en lofsange moet spreek, in dankbaarheid moet juig? Hy het geweet dat as ons 'n lofprysende lewensingesteldheid het ons nooit depressief en moedeloos sal word nie; solank ons dankbaar is al is dit oor net een dingetjie, sal ons altyd moed hê om op te staan en die wêreld met mening aan te pak! Daarom is die lofprysinge aan Hom gerig: dit is net Hy wat ons die goeie gawes gee.
BROKKIES UIT DIE BOEK RAUTEM (3)
Michael Young van Goldfields in Brittanje het intussen gesoek na Afrikaners om met die ANC te onderhandel om hulle geldbelange in Suid Afrika te beskerm. Deur bemiddeling van die joernalis Fleur de Villiers ontmoet hy proff Willie Esterhuise en Sampie Terblanche. Op 31 Mei 1989 ontmoet Willie Esterhuyse en Thabo Mbeki in Londen. Die tweede besoek het prof Marinus Wiechers en Willem de Klerk (FW se broer) ingesluit. Ander interessante besoekers aan die ANC was prof Johan Maree (vergesel van sy eggenote Helen Zille; Koos van der Merwe (KP-Parlementslid); en Ebbe Dommisse van Die Burger.
Op 18 Januarie 1989 het PW Botha 'n ligte beroerte. Daar was reeds sprake van 'n vorige beroerte in 1985. 'n Bron binne die Broederbond vertel: "En toe slaan daai ou man remme aan. Ons het 'n paar jaar verloor – drie jaar, meer.
“In die laaste koukusvergadering voor hy uitgeskop is ten gunste van FW de Klerk, sê Botha: "[De Klerk], 'n moeilike tyd wag op jou. Ek kry jou jammer. Jy het magte losgemaak wat jou gaan vernietig!"
Onder die 53-jarige De Klerk het jong voormalige Ruiterwag-lede, nou Broederbond, soos Leon Wessels, Roelf Meyer en Theuns Eloff (Puk-rektor en toe De Klerkstigting) nou take gekry waarvoor hulle nie werklik opgewasse was nie.
Johan Kruger en Francois Venter van Potchefstroom word deel van Meyer se adviseurs tydens Kodesa.
Op 24 September 1990 bespreek die AB se Staatkundige Komitee 'n haastige Handves van Menseregte. Dit is hier waar die begrippe Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) die eerste keer in die SA politiek genoem word.
Gerrit Viljoen, Roelf Meyer en Tertius Delport rapporteer bykans weekliks aan die Staatkundige Komitee.
Binne 5 jaar was die Broederbond se hele onderbou aan die verkrummel: die Nasionale Party, drie Susterskerke, Volkskas, Afrikaanse universiteite, Nasionale Pers se media-arm, en alle politieke bemagtiging. Wat die AB gedink het sy grootste triomf sou wees, het in 'n fiasko verander. Die magtige AB verander in die papiertier "Afrikanerbond" wat "nog net Alberton se rolbalklub beheer"... 'n siniese verwysing na voormalige AB-sekretaris Naude Botha se tuisdorp.
*
“Waar is daardie Land Cruiser se sleutel, weet iemand?”
“In die middelste laai van die lessenaar, hoekom?”
“Ek dink ek het ‘n plan.”
Skeer kry die sleutel, maar as hy by die Mercedes kom, besef hy die voorste kantruite is uitgeskiet. Hy oorweeg om een van die ander voertuie te leen, of selfs met die Cruiser te ry, maar besluit daarteen. Hy spandeer ‘n halfuur om die voertuig te stofsuig en ry in na die middedorp toe. Hy los die Mercedes by PG Glas en loop die paar blokke na die Toyota-agentskap toe.
“Môre juffrou. Kan ek met die bestuurder praat, asseblief?”
“Hy is ongelukkig nie in nie, meneer, maar die verkoopsbestuurder wel. Kan ek hom vir u roep?”
“Dankie.”
“Wat is u naam?”
“Brigadier Hugo.”
Die dame lyk effens oorstelp, maar is te bly om die verkoopsbestuurder te roep.
“Daar is ‘n Brigadier Hugo hier om u te sien, meneer… nee, ek weet nie. Ja, dis dringend.”
Sodra sy klaar gepraat het, wys sy vir hom na die wag-area langs haar.
“Hy is nou by u, Brigadier. Kan ek solank ‘n koppie koffie vir u aanbied?”
“Nee, dankie.”
Twee minute later is die verkoopsbestuurder daar. Hy strek sy regterhand ver vorentoe en glimlag breed, soos net ‘n verkoopsman kan.
“Brigadier Hugo? My naam is Fritz Maritz. Ja, my pa het ‘n waardevolle sin vir humor gehad. Waarmee kan ek help?”
Skeer gee vir hom die sleutel aan.
“Ek wil hê jy moet vir my sê aan wie behoort hierdie sleutel en waar is die voertuig geregistreer.”
‘n Bekommerde kyk kom oor die glimlaggende gesig.
“Meneer…”
“Brigadier,” help Skeer hom reg.
“Jammer, Brigadier. Kan ek u aanstellingskaart sien, asseblief?”
Skeer wys dit vir hom.
“Brigadier, ek kan nie die informasie uitgee nie, tensy ek ‘n hofbevel het. U weet hoe dit werk, privilegie en al daardie dinge.”
“Dis reg, Fritz, maar as ek my tyd moet mors met ‘n hofbevel, dan sal dit ook al daardie tweedehandse voertuie insluit.”
Hy wys na die plaat karre wat onder die skadunette staan.
“Miskien is daar niks fout met enigeen van hulle nie en daar is nie gepeuter met die afstandmeters nie, enjinnommers of enigiets nie, maar dit sal my span speurders ten minste ‘n week neem om alles na te gaan. En ek sal sorg dat hulle in uniform opdaag, met staatsvoertuie. Dit gaan nie mooi lyk as die polisie hier besig is vir ‘n week lank nie. Of miskien twee, as ek hulle mooi vra.”
“Meneer…Brigadier, dis afpersing!”
“Kan wees.”
“Ek kan u bevelvoerder bel!”
Skeer haal ‘n visitekaartjie uit sy binnesak.
“Hier is sy nommer.”
“Dis die kommisaris van polisie se naam en nommer?”
“Dit is. Hy is my baas. Miskien bel ek hom sommer vir jou en dan kan ons die nuwe voertuie ook sommer nagaan. En miskien sommer kyk of julle al die Covid-19 reëls nakom. Ek, byvoorbeeld, het nie hande ontsmet toe ek hier ingekom het nie en ek sien jou masker is onder jou neus en nie bo-oor nie.”
Die glimlag verstar op die man se gesig.
“Miskien het u my verkeerd verstaan, Brigadier! Natuurlik kan ek gou kyk aan wie die ou voertuigie behoort. Maar dit bly net tussen ons tweetjies, nê?”
Fritz Maritz knipoog en maak asof hy Skeer ‘n vriendskaplike klap op die blad wil gee, maar ‘n waarskuwing in Skeer se gesig weerhou hom daarvan.
“Ek is nou terug.”
“Jy gee nie om as ek sommer saamstap nie?”
Fritz Maritz haal sy skouers op soos iemand wat deur ‘n diep donkerte gaan. Skeer volg hom na die werkswinkel, waar die sleutel aan die werkswinkelbestuurder oorhandig word.
“Jerry, kyk vir die meneer wat jy kan sien oor hierdie voertuig.”
Die sleutel word geskandeer en binne sekondes is die resultate beskikbaar.
“Kan jy dit vir my uitdruk, assbelief?”
“Natuurlik!”
Met die A4 bladsy in sy ander binnesak, loop hy uit, na die plek waar sy voertuig staan, waar die nuus minder goed is.
“Brigadier Hugo, ons het nie die ruite in vooraad nie, maar kan dit teen môre-middag hê. Ek sien die voertuig is in die Kaap, by Bellville gekoop. Wil u die voertuig neem, of kan iemand u wegbring?”
“Ek sal regkom, dankie.”
Skeer begin uitloop en dan tref dit hom:
“Hoe weet jy waar die kar gekoop is?”
“Dis deesdae alles op die sleutel, Brigadier. Miskien om misdaad te probeer hokslaan, miskien om alles te vergemaklik, soos om nuwe ruite te bestel.”
“En julle het dit alles op rekord?”
“Ja, Brigadier. Alles.”
Skeer bel vir Arno, wat tien minute later opdaag in die ou Land Rover.
“Reggekom?”
“Ja.”
“Wie se kar is dit?”
“Wag tot by die huis. Ek wil nie twee keer vertel nie.”
(RAUTEM)