Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense wonder wat die geheim van gelukkig wees is, in die allesdaagse rondom hom. Jy kan nie die vreugde wat jy aan iemand anders gee deur iets mooi aan hom te sê of te doen, beleef sonder om self daardie gelukkige gevoel te ervaar nie – vandaar die spreekwoord dat dit saliger is om te gee as om te ontvang!
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (10)
VRYBURGER
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
‘n Man is ‘n onafhanklike wese. Hy hou daarvan om vry te wees en elke mens het ‘n ander idee van wat “vryheid” werklik beteken. Vir die ou veeboere, later bekend as “Vryburgers”, aan die Kaap het dit beteken om weg van die Kasteel en die owerheid te beweeg, na waar daar genoeg weiding in die binneland sou wees. Die Voortrekkers het hulle Vryheid gesoek op ‘n plek waar daar nie Engelse oorheersing was nie. Daarna het hulle verder Noord gegaan, met sommige wat in die Transvaal gaan woon het, maar ander selfs ookant die Limpopo.
Jan Verwey het gemeen hy is ‘n vry man. Die gereg het geen belang in hom nie, nie in die Kaap, Natal, Vrystaat of Transvaal nie. Sy ouers is oorlede, sy broers op hulle eie en sy suster is by Ouboet Gert. Al wat Jan het, is ‘n paar pond, twee waens en vryheid om te kom en gaan soos hy wil. Hy hou van die langpad, die slaap in die veld, die reuk van die osse, Goliat se rug, die reuk van die veld as dit pas gereën het, koffie in die vroegmôre, vleis oor die kole en so af en dan om in die dorp te kom, wat maar min is en die plekke verveel hom gou. Hy kan dan nie wag om weer te begin met die transportry nie.
Hy dink selde aan die dood, maar dit pla hom nie juis nie. As hy net ophou wees, sal hy nie daarvan weet nie en as hy hemel toe gaan soos Oudominee sê, dan is dit goed. Die ander plek is nie vir hom nie. Wat is beter as om nuwe horisonne te sien vanaf die rug van ‘n perd en ‘n goeie geweer in jou hande?
Kinders? Ja, natuurlik sal hy ‘n seun wil hê om sy en sy oupa se naam voort te dra, maar as dit nie kan wees nie, maak dit nie saak nie. Al wat belangrik is, is om vry te wees. Ja, dit was.
‘n Man is vry tot op die dag wat jy ‘n gevoel vir ‘n vrou kry. Jan wil nog nie vir daardie gevoel ‘n naam gee soos “verlief” of “lief” nie, maar daar is iets wat hom maak soek na waar Francesca is. Soos enige normale man het hy ‘n aangetrokkenheid na die skone geslag en hy is geen uitsonderling nie, maar met genoeg nugterheid besef hy dat hy uiteindelik sal moet kies tussen ‘n vrou – miskien hierdie een – en sy vryheid. ‘n Man kan tog nie verwag dat sy vrou ‘n swerwersbestaan moet voer nie. En as daar kinders is, moet hulle immers versorg word, skoolgaan, tussen maats wees, kerktoe gaan, gekatkiseer word. Hulle moet standvastigheid hê, met ‘n huis in die dorp of plaas, maar nie in die tent van ‘n kakebeenwa nie.
En tog… wil hy by Francesca wees. Hy begryp eenvoudig nie hoe dit werk nie. ‘n Maand of wat gelede was hy vry, gelukkig en redelik sonder enige kommer, maar nou is dinge deurmekaar, net soos sy gedagtes.
“Kan ek saam met jou loop?”
Dis die eerste keer dat Jan vir Franci in die rooi rok sien en dis verruklik. Dit pas nog beter as die blou een en aksentueer haar dun middeltjie en vroulike heupe. Sy is skraal en mooi, anders as die soustannies wat so volop is. Onwillekeurig wonder hy of sy nog so mooi skraal sal wees as sy eers kinders gehad het.
“Ja, natuurlik, Francesca.”
“Franci.”
“Ja, natuurlik, Franci.”
Indien daar van haar kant af skaamwees is oor die feit dat hy haar sonder klere gesien het, al was dit in ‘n noodsituasie, wys sy dit nie.
“Jy is altyd maar stil, maar nou meer as gewoonlik. Waarom, Jan?”
“Ek loop mos maar en dink.”
“Kan ek weet waaroor?”
Jan oorweeg dit nie eens om vir haar te vertel wat in sy gedagtes maal nie en natuurlik ook die feit dat sy in die middel daarvan is nie. Hy dink ‘n oomblik, voordat hy op ‘n onderwerp besluit.
“Ek dink maar aan wat die Engelse nou gaan doen. Hulle hou nie daarvan om grond te deel met ander nie en hulle is arrogant genoeg om ook die Transvaal en Vrystaat te wil hê, wat hulle mos nou al geannekseer het, want hulle het ‘n honger na goud.”
“Kan jy iets daaraan doen?”
“Nee, maar baie van ons, as ons saam oor die saak voel, kan dalk.”
“As ons terug is in Pretoria, waarom reël jy nie ‘n vergadering met mense wat soos jy voel nie, of gaan praat met Paul Kruger daaroor?”
“Weet jy Franci,” sê Jan ernstig. “Ek hou my neus uit die politiek. My pa het altyd gesê dis ‘n vuil ding en as jy daarmee inmeng, besmeer jy jouself net.”
“So, mense in die politiek is vuil en jy sal dat vuil mense oor jou toekoms besluit?”
“Jy verstaan nie. Ek is vry. Ek hou van die waens en die osse, die reuk van ‘n kampvuur, die klank as die rieme styftrek, die kraak van die waens en as die osse bulk wanneer hulle laatmiddag water ruik, die ruimtes en berge. Ek wil my nie laat voorsê nie en daarom los ek maar die politiek vir mense wat daarvan hou.”
“En as die regering besluit jy mag nie meer gaan waar jy wil nie, as jy ‘n liksens moet kry om transport te ry, as hulle groot belastings hef op wat jy aanry en jou voor die magistraat gaan daag as jy dit nie doen nie?”
“Jy bedoel, mense wat nie saam trek as ek elke dag in en uitspan nie, wat soms in reën en in wind moet ry, slange, leeus en ander wilde goed moet trotseer? Koudkry in die winter en te warm in die somer? Nee, ek skuld hulle niks.”
“Hoor my vandag, Jan Verwey,” sê Franci ewe ernstig. “Jy gaan op die ou ent moet besluit aan wie jy belasting sal betaal – aan jou eie mense of aan die Engelse.”
“Nee, dan neem ek die wapen op teen hulle. Ek sal my nie laat voorskryf deur die vuilgoed van Engelsmanne nie.”
“Jy in jou allenigheid?”
“Nee, daar is seker vele ander wat ook soos ek voel.”
“Nou waarom sorg jy nie dat dit nie gebeur nie? Jy kan nie kwaad wees vir iets wat gebeur as jy nie probeer het om dit te keer nie.”
Jan loop en dink oor wat sy gesê het. Franci kyk die frons op sy voorkop so stip aan, dat sy nie die gat voor haar sien nie, sy draai haar enkel effens en struikel. Jan gryp haar hand vas om te keer dat sy nie val nie en is geskok as daar ‘n aangename tinteling deur sy lyf gaan as hy haar koel, slanke hand vasgryp.
“Pasop! Het jy seergekry?”
“Nee, nie regtig nie, my enkel is ‘n bietjie gedraai, maar ek dink nie dis verswik nie.”
“Sit, dat ek kyk.”
Haar voet is klein en skraal en net so wit as die res van haar. Haar enkel is smal en mooi gevorm. Hy vryf die enkel effens, versigtig om nie te hard te druk nie, en as hy seker is dit swel nie, trek hy haar skoen weer aan. Franci verwonder haar aan sy teerheid en kyk van haar voet af op na sy gesig. Hy is nie aantreklik soos ander manne wat mooi is nie, maar het ‘n sterk gesig, met helder groen-grys oë, ‘n skuins voorkop, wat haar ma altyd ‘n “slim voorkop” genoem het, ‘n neus wat te groot is en ‘n reguit, sensitiewe mond. Sy hare is donker en krullerig, asook sy baard en snor, wat hy netjies en kort hou. Sy hande is skraal, met lang vingers en kortgeknipte, skoon naels. Van die maande se leef in die sonlig is hy bruingebrand, maar as sy baadjie se mou effens opskuif, sien sy hy is egter baie lig van velkleur.
Hy tel haar gemaklik op en sy is weereens verwonderd oor die krag in sy lyf. Hy is nie groot gebou nie, maar dis asof die spiere sterker is as ‘n man baie groter van liggaamsbou. Sy rus haar kop teen sy skouer en ontspan. Sy vertrou hom heeltemal.
*
Die dae gaan nou vinnig verby en die afstand Pretoria toe raak al korter. Jan besef skielik dat hy wens dis nog baie myle verder. Deur die dag sal Francesca langs hom loop – haar enkel was inderdaad nie geswik nie en hoe sou hy kon weet dat sy nie werklik haar voet gedraai het nie, maar wou bloot hê hy moet aandag aan haar gee? – soms sal sy sy hand vat en ‘n lang ent saam met hom loop, saans langs hom om die vuur sit en oor alles en nog wat praat.
Dis met hartseer as hy die ligte van Pretoria vroeg een aand sien. ‘n Laaste aand saam met haar… Hulle span uit, maak kamp en asof hulle albei die onsekerheid van die nuwe dag ervaar. Die geselskap wil maar nie mooi vorder nie en uiteindelik gooi Jan die laaste bietjie moer uit sy beker, staan op en strek homself uit.
“So, ja, Franci. Dis ons laaste aand hier in die wildernis. Môre kan jy weer met jou lewe aangaan. Pasop net vir skarminkels soos Hans Koster en sy soort gespuis. Ek sal vir jou genoeg geld gee dat jy veilig in een of ander plek kan bly totdat jy ‘n goeie man kry.”
“Jan Verwey, ek het nie jou geld nodig nie!” sê Francesca woedend.
“Maar…”
“Maar niks! Is ek maar vir jou ‘n goedkoop vrou dat jy my wegjaag met ‘n paar pennies in die hand en ‘n klap op die boud?”
“Luister, Franci…”
“Wie is jou ‘Franci’? Los my nou uit, dat ek kan gaan slaap!”
Jan het geen idee wat hy verkeerd gedoen het nie. Hy staan maar hoed in die hand as Francesca sonder kos of nagsê die wa binneklim en die seil agter haar toetrek. Jan klim ook maar in sy kooi, terwyl die twee touleiers klaar uitspan, kosmaak vir hulleself en na hulle eie wa verkas. Jan lê vir ‘n halfuur en wag dat die slaap kom, maar vanaand ontwyk dit hom.
“Nagsê, Franceska,” probeer hy, maar daar is geen antwoord nie.
‘n Ruk later verbeel hy hom hy hoor haar snik, maar hy is nie seker nie. Hy verstaan nie wat aangaan nie.