DIE NUWE WÊRELDORDE (1)

Met die koms van die Covid-19-virus en alles wat daarmee gepaard gegaan het en steeds gebeur, het mens die sekere wete gekry dat die wêreld nou op die drumpel van die lank verwagte Nuwe Wêreldorde staan wat deur Satan aangevoer word. Sy instrumente, die Wêreldgeldmag, het besluit die tyd het aangebreek om hulle eeue-lange ideaal nou in praktyk uit te voer. Die skrywer van hierdie reeks, Koos Bester, het reeds in 2007 in sy boek VERGEEFSTE VERSET, met versiendheid en helder insig breedvoerig hieroor geskryf.  Gelofteland plaas in die volgende paar dae die hoofstuk oor die Nuwe Wêreldorde hier in 7 aflewerings. Lees dit asseblief sodat u ingelig kan wees oor wat die satansplanne vir ons inhou.

AMERIKA EN GEORGE BUSH

(Lees reeks by Die Nuwe Wêreldorde )

Koos Bester

Dit was pres George Bush die oue van Amerika wat sy land met die woorde, "there will be a new world order", die sigbare bevorderaar van 'n "nuwe" internasionale bedeling gemaak het.

Dit was klaarblyklik nie Bush se bedoeling dat Amerika self veranderings sou moes aanbring om in te pas by hierdie bedeling nie; daardie lande en wêrelddele wat nie in pas was met Amerika se weergawe van die liberale demokrasie nie, sou moes skik.

Die eerste vraag in 'n besinning oor presies wat die bedeling was wat pres Bush in die vooruitsig gestel het, is wat die vorige wêreldbedeling dan sou gewees het. Dit het skynbaar in die vorige bedeling gegaan oor die Oos-Wes-stryd, waar Amerika en die Sowjet-Unie die twee uiterstes van die teenoorstaande magte was. Dit was 'n stryd tussen die sogenaamde vrye wêreld en die kommunistiese Oosblok. Die vorige bedeling of ou orde was die era van die Koue Oorlog, die kernkragwedloop, die ruimtewedloop, van Viëtnam en missielkrisisse, van spioenasie en teenspioenasie, en van die KGB en die CIA waarvan Bush die oue 'n eertydse CIA-hoof was.

Al die sigbare getuienis was daar dat 'n nuwe wêreldorde besig is om vorm aan te neem.  Die Sowjet-Unie het uitmekaar gespat nadat die Oossee-state 'n wig tussen hulle en die Kremlin ingedryf het, ander van die eerstydse vyftien Sowjet-republieke het hulle by die Oossee-state aangesluit deur hulle afsonderlike vryhede te bekom. Tsjeggo-Slowakye en Joego-Slawië het begin verbrokkel en die Berlynse Muur, seker die sigbaarste teken van rigiede Sowjet-baasskap, het getuimel en Oos- en Wes-Duitsland is herenig.

Of die afbreek van die Ystergordyn nie dalk 'n voorspel is tot die verskyning van 'n super-Sowjet-staat wat uiteindelik Wes-Europa gaan insluit en dat dit grootliks 'n inisiatief is wat uit Washington, en nie uit Moskou kom nie, was toe en is ook vandag nie 'n saak vir bespreking deur onskuldige waarnemers van die wêreldpolitiek nie.

Met  die val van die Ystergordyn in die 1990's was dit egter duidelik die wêreld beweeg in die rigting van 'n nuwe politieke bedeling. Een van die eerste waarskuwende ligte was dat die karakters op die wêreld se politieke verhoog dan dieselfde bly. In die voormalige republieke van die Sowjet-Unie regeer geharde kommuniste soos die KGB-baas Putin steeds, so ook met die uitsondering van een of twee, in die state wat hul verskyning gemaak het uit die oënskynlik vervalle Joego-Slawië en Tsjeggo-Slowakye.

Verwikkelinge in die Sowjet-Unie self bied 'n interessante blik op dié saak. Boris Jeltsin was Rusland se kommunis-nommer-een in 1990, die jaar toe die kommunisme sy "nuwe baadjie" vir die internasionale politiek van die Nuwe Wêreldorde aangetrek het. Hy was Rusland se president, 'n posisie wat hy bekom het uit hoofde van niks anders as sy posisie in die oorhoofse kommunistiese magstruktuur van die Sowjet-Unie nie. Jeltsin en twee ander vooraanstaande kommuniste, die burgemeester van Moskou, Gavriil Popof, en die burgemeester van Leningrad, Anatoli Sobsjak, het vir 'n ligte opskudding gesorg toe hulle tydens die 28e kongres van die Kommunistiese Party, uit die party "bedank" het. Hulle het hul tuisgemaak in die sogenaamde "Demokratiese Platform", 'n organisasie wat hom oënskynlik meer op nasionalistiese Russiese politiek sou toespits as wat die Sowjet-Unie gedoen het.

In Rusland het die soldate 'n teenrewolusie van stapel wou laat loop maar die siek en aan drankverslaafde Jeltsin kon tog met 'n paar verklarings uit Washington dat hy met rus gelaat moet word daarin slaag om dit af te weer ( oud-pres. Richard Nixon breek byvoorbeeld tydens 'n besoek aan Moskou 'n lansie vir Jeltsin deur te verklaar: "Never underestimate Jeltsin's recuparative powers!") Die Russiese ekonomie was aan flarde, miljoene Russe het aan broodgebrek gely, lewensmiddele was slegs ten duurste beskikbaar. Die sogenaamde vrye mark het net vir sommiges, die groot geldskieters met internasionale bande deur al die jare van 'n oënskynlik staatsbeheerde ekonomie, gegeld. Dit was die sluikmark, gedryf deur manipuleerders met koverte verbintenisse met groot internasionale nywerheids- en handelsbelange, en nie die nuwe "vrye mark" van Rusland nie, wat ryklik kon inoes uit dié nuwe wêreldorde van pa George Bush van Amerika.

Die nasionalistiese Russe se moraal was op 'n laagtepunt. Voor hul oë is die gedugte Sowjet-oorlogmasjien sigbaar met hamers en sweisvlamme afgetakel en na die smeltoonde gebring.

Die einde van die "stryd van die ideologieë" is in dié tyd aangekondig. Ook die einde van die stryd tussen godsdienste. Die tydvak van die "New Age" is reeds in die tagtigerjare aangekondig, waarvolgens die godsdienste vir elkeen nie net 'n bestaansreg sou gun nie, maar ook 'n soort broederskap sou bied, gebou op die godsdienste se "gemeenskaplike waardes". Fundamentele godsdiensbeskouings was net nie meer welkom in goeie internasionale geselskap nie. Die Wêreldraad van Kerke en die Verenigde Nasies het die voortou geneem in die smee van 'n internasionale broederskap van godsdienste.

Agter alles was die duidelike invloed van eers die Bush-administrasie en daarna dié van pres Bill Clinton, met as model vir die res van die wêreld die oënskynlik vreedsame godsdienstige naasbestaan wat met behulp van die amendamente van die Amerikaanse grondwet in Amerika uitgewerk is, die enigste vlekkie op Amerika se naam Moslemopstandigheid toe 'n reuse-bom by die World Trade Centre in New York ontplof het. 'n Moslem-ekstremis is weens dié wandaad aangekeer, maar in verskillende dele van die wêreld, ook in Kaapstad aan die Waterkant, het Moslem-aktiviste hul ongelukkigheid daarmee te kenne gegee deur onskuldige burgerlikes aan flarde te skiet deur bomme te laat ontplof by ondernemings wat maar net na Amerika en hamburgers ruik.

Ook kommunisme sou intussen voortwoeker sonder 'n monoliet soos die Sowjet-Unie, wat vuis kon maak en 'n staanplek vir die ideologie kon oopskiet en bombardeer waar die gewonde mense hulle nie in beduidend genoeg getalle vatbaar getoon het vir dié skynbaar godlose lewens- en wêreldbeskouing nie. Ander gedaantes van die kommunisme, dekades gelede reeds van die nodige leerstellige onderbou voorsien, is aan die oningeligte en niksvermoedende mensdom as die alfa en die omega  en 'n vreedsame lewe en sterwe voorgehou; Herbert Marcuse se neo-marxisme en die sluiperweergawe van die kommunisme – die Fabiaanse soort.