DIE NUWE WÊRELDORDE (4)

MOSLEM-REAKSIE

 (Lees reeks by Die Nuwe Wêreldorde)

Koos Bester

Dat die Arabiere en Moslem-lande nie sonder meer hulle by dié soort orde sou laat betrek nie, moes Bush en Amerika uit die staanspoor besef het. Vir eers was dié lande se sjeiks self ingeburger in die wêreld van groot geld en mag. Hulle haas onbeperkte oliebronne het hul daartoe in staat gestel en in die jare sewentig het die Opul-oliekartel nie alleen die gekromde Oosterse sabel aan die Weste se keel gelê nie: Dié veldtog het ook dollars en rykdom na die Arabiere se bankrekenings laat stroom. Die Arabiere en Moslem-wêreld het self 'n formidabele geldmag daargestel.

Vir Bush, die Weste, die voorstanders van die Nuwe Wêreldorde en die Westerse beskouing van die ekonomie, het dié toedrag van sake 'n veelfasettige probleem wat al van tevore, hoewel in die verskiet van eeue, tot fanatiese omvang gegroei en tot dodelike aanslae op Europa gelei het.

Hierdie (Moslem-)sisteem is uit 'n oogpunt van die nie-Moslem, radikaal. Die stelsel sluit selfs die ekonomie in, waar byvoorbeeld geen rente tussen Moslems wat met mekaar sake doen geneem mag word nie. Die Moslem se diepste dryfveer is die daarstel van Moslem-"vrede" waar sy god, Allah, soos Mohammed in die Koran uitdrukking daaraan gegee het, "alles in almal sal wees".

Nog 'n ander groot probleem is die afhanklikheid van die nywerheidsgerigte Weste van Arabiese olie om sy nywerheidsmasjinerie aan die loop te hou. Die Arabiere het dié troefkaart tevore en tot groot ongerief en verliese, teen Amerika en die Weste gespeel. Hoe sou Amerika en die Weste van 'n herhaling van dié episode gevrywaar kon word? Deur onmiddellik en kragdadig teen enige Moslem-land op te tree wat net durf skeef trap.

'n Verdere probleem was die feit dat die beëindiging van die Sowjet-Unie as staat, beteken het dat die Moslem-republieke wat deel van diéstaat was, hulle in 'n Moslem-magsblok saam met die Arabiese state sou kon begeef. Van hierdie state het oor kerntegnologie en tegnici beskik as deel van die nalatenskap van die kernmoondheid. Amerika se probleem was dus dat daar 'n opvordering van wêreldwye Moslem-kragte kan kom, en daarvoor sou die nodige voorkomende stappe betyds gedoen moes word.

Dit is deels in dié lig dat Amerika en die Weste hulle in Januarie 1991 in die Golfoorlog teen Saddam Hoessein en Irak begeef het. Dit was 'n oorlog waarin Irak veronderstel was om nie veel van 'n kans te hê nie – die eerste oorlog van Bush se Nuwe Wêreldorde waarin die mag van die moderne lugmag en die verskrikking van chemiese, biologiese en kernwapens oor en weer losgelaat is. Ook die elektroniese media met Amerika se Cable News Network (CNN)  aan die voorpunt, het die maksimum propaganda vir Amerika en die Nuwe Wêreldorde uit die oorlogsgebeure probeer pers. Die Geallieerdes se welslae en gewaande welslae is in volkleur vir 24 uur per dag, dag na dag, na elke mens met 'n televisiestel in die wêreld uitgedra.

Saddam Hoessein moes uiteindelik voorwaardelik die knie buig, maar nie voordat hy die wêreld en Israel laat asem ophou het oor sy missiele wat op die Joodse staat gerig was nie. Sy kernwapen-installasies is afgetakel en ander nywerhede wat vir die ontwikkeling van wapens vir grootskeepse mense-uitwissing ingespan kon word, is vir die inspeksie van Westerse wetenskaplikes oopgestel.

Die Golfoorlog kon ondanks die Weste se indrukwekkende militêre prestasies nie die belangrikste doelwit van die politici verwesenlik nie. Saddam Hoessein het vir etlike jare daarna, tot in die nuwe millennium, die septer geswaai. Eers in die doodsnikke van 2003 is hy aangekeer, weliswaar in 'n gat (letterlik) in die grond en verwaarloos, 'n figuur wat herinner aan 'n voorganger uit die Babiloniese ryk in teenswoordige Irakese geweste: Nebukadnesar, wat in 'n ongelukkige stadium van sy koningskap gras moes eet.

Maar wat was die prys vir hierdie sogenaamde geallieerde ekskursie met Amerika vooraan? Miljarde dollar se oorlogsuitgawes en duisende Amerikaanse soldate wat in 'n uitgerekte terreurstryd in die stof gebyt het.

En toe, in lykskouings deur invloedryke Amerikaanse ontleders, is onomwonde tot die gevolgtrekking gekom 'dat die oorlog in Irak onnodig was' – Rapport, 11-01-224. Dit was gou ná die inbesitname van Bagdad duidelik dat daar geen 'wapens van massavernietiging' in Irak op te spoor is nie.

Die Carnegie Endowment for Peace (CEIP) het bevind dat Hoessein se bewind "geen onmiddellike bedreiging" vir Amerika of vir Irak se buurlande ingehou het nie. Hoessein se regering het ook geen verbintenis met Osama bin Laden se Al Keida-netwerk gehad nie.

Volgens die CEIP-verslag het die Bush –administrasie hom stelselmatig skuldig gemaak aan wanvoorstellings.  Amerika se spioenasiedienste "sou iewers in 2002 onder onbehoorlike beïnvloeding van die Bush-administrasie gekom het"!

Die Amerikaanse, Britse en  - en, moet nie dat dit verbaas nie – Israelse spioenasiedienste "het op tragiese wyse nie die mas kon opkom nie"!

Die CEIP-verslag het op die ewe invloedryk Cato Institute se ewe ongunstige bevindings met die titel, Iraq: The wrong war, gevolg. Die VN se wapeninstrukteurs sou bevind het dat Irak se chemiese wapens "hul dodelikheid al in 1991 verloor het". Amerika het in Januarie 2004 sy sowat 400 amptenare, wat vrugteloos na hierdie wapens van 'massavernietiging' gesoek het, onttrek.

Ook die voormalige direkteur-generaal van die VN-verbonde Internasionale Atoom-Energie Agentskap, Hans Blix, draai geen doekies om in sy bevindings in dié verband nie, in sy boek, Disarming Iraq: The Search for Weapons of Mas Destruction (2004, Bloomsbury Publishing Plc).