DIE VOLKSMOORD IN RWANDA – ‘N HERBESINNING

Johan de Bruyn

Die VSA is meesters in die kuns van politieke bedrog en misleiding. Die gewone man op straat kry, danksy die geldmag-gestemde media, ‘n wanbeeld van die ware toedrag van sake in die internasionale politiek. ‘n Voorbeeld hiervan is mense se siening oor Rusland, China, Venezuela, Suid-Korea en Sirië.

So was dit ook met die oorlog destyds in Joegoeslawië toe die VSA-gestemde NATO ‘n oorlog ontketen het aldaar en Slobodan Milosevic uitgebeeld is as ‘n gewetenlose diktator. Die waarheid was baie anders as dit wat aan ons voorgehou is.

In Rwanda het dieselfde gebeur. Pas het ‘n verslag gelek wat die oorlogmisdade van Paul Kagane en sy Rwanda Patriotic Front uitlig, dws die feite was aan die VSA bekend van meet af.

Hierdie verslag was ook aan die oorlogstribunaal wat destyds saamgestel was om persone te vervolg, bekend as die ICTR. Die RPF het met VSA-hulp Rwanda vanaf Uganda ingeval in 1990. Teen 1994 was die slagting verby.

Op 6 April 1994 is die vliegtuig waarin die destydse presidente van Rwanda en Burundi gereis het deur die RPF, wat deur die VSA bewapen was, afgeskiet. Boutros-Boutros Ghali, destydse VN-sekretaris-generaal het dan ook ná ‘n ondersoek bevestig dat die VSA agter die afskiet van die vliegtuig was.

Die regter, Jean-Louis Bruqiere en die aanklaer Louise Arbour, was bewus van die ware toedrag van sake naamlik dat die RPF gesteun deur die CIA, verantwoordelik was vir die slagting in Rwanda. Dit maak hulle aandadig aan die slagting aangesien hulle dit verberg het. Hulle behoort dus nou, as geregtgheid enigsins moet geskied, aangekla word van medepligtingheid aan oorlogsmisdade en van hulle ampte onthef word.

Christopher Black, ‘n internasionale juris het een van die aangeklaagdes verdedig en is hierdie inligting van hom weerhou. Tog kon hy daarin slaag om sy kliënt , ‘n generaal, se onskuld, wat nooit ‘n geskil moes gewees het nie, te bewys. Op daardie stadium was die gelekte verslag nog nie aan hom bekend nie.

Kagane se RPF het duisende vlugtelinge summier tereggestel. Dit was ‘n volksmoord (”genocide”) wat gepleeg is. Een van die grootste menseslagtings op Afrika-bodem het gevolg – alles deur die toedoen van die VSA? Hulle doel? Deur Amerikaansgesinde diktators aan bewind te stel sodat VSA-mynmaatskappye ongehinderd toegang tot die minerale bronne kon verkry.

Paul Kagane word vandag op die hande gedra deur die VSA. Dat hy een van die grootste menseslagtings in die moderne geskiedenis gelei het, ‘n massamoordenaar en diktator is, het by meeste verbygegaan.

Daarby het regslui hulle skuldig gemaak aan regsverydeling en die internasionale reg in diskrediet gebring. Hulle is intussen almal bevorder!

Mag Christopher Black daarin slaag om deur sy volgehoue druk en propaganda oor die saak, die ware misdadigers van die Rwanda-volksmoord aan die man te bring!