VSA ONTHUL SANKSIES TEEN RUSLAND

Amerika het weer eens gedoen wat hulle altyd doen deur ‘n land te treiter tot die land dit nie meer kan hou nie en dan terugreageer. Dán beskuldig die VSA die president van daardie land van oortreding. Nou het Washington die Russiese president daarvan beskuldig dat hy "direk verantwoordelik" is vir 'n "onuitgelokte" aanval op Oekraïne. Wanneer die woord “onuitgelok” so maklik gebruik word weet ‘n mens reeds dat daar ‘n slang in die gras is. In dieselfde tyd wat Amerika nog 58 lande binnegeval het, het Poetin gesorg dat geen land deur Rusland ingeval word nie. Dit behoort bewys te wees van Poetin se poging om vrede met ander lande te hou.

Die Verenigde State het nou sanksies teen Russiese president Vladimir Poetin en minister van buitelandse sake, Sergey Lavrov, aangekondig, wat 'n vroeëre besluit deur die Europese Unie en die Britse regering weerspieël in weerwraak vir Moskou se militêre optrede in die Oekraïne. Maar wat nie aan die groot klok gehang word nie is dat die Weste agt jaar lank die bloedbad in Donbass geïgnoreer het terwyl hulle Oekraïne bewapen, en nou is Moskou glo die aggressor toe dié ingetree het om die konflik te beëindig.  En indien u nie goed gelees het nie: ja, Amerika en sy bondgenote voer al jare lank wapens na Oekraïne in sodat daar onmin tussen Rusland en die Oekraïne moet ontstaan.  Die hoofrede vir die VSA en veral NATO se vuilspel is omdat NATO Oekraïne wil beheer om dit 'n liberale westerse inhoud te gee wat sal aansluit by die Nuwe Wêreldorde maar Rusland skop steeds vas daarteen.  Daarvoor kan ons die hoed vir Poetin afhaal!

Maar nou is president Poetin en minister Lavrov glo direk verantwoordelik vir Rusland se “onuitgelokte en onwettige” inval in die Oekraïne, 'n demokratiese soewereine staat.

Die sanksies beoog die bevriesing van enige VSA-gebaseerde bates van diegene wat geteiken word. Amerikaanse burgers is ook belet om enige transaksies wat “eiendom of belange" insluit met individue op die swartlys aan te gaan. Alhoewel Jen Psaki, perssekretaris van die Withuis, vroeër Vrydag op 'n perskonferensie laat deurskemer het dat sankies 'n reisverbod na die Verenigde State sou insluit, het die tesourie-departement geen reisbeperkings in sy verklaring genoem nie.

Dit is onduidelik wat die sanksies vir Poetin en Lavrov presies behels. Maria Zakharova, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, het Vrydag gesê nie een van die twee politici besit enige bates buite Rusland nie.

Dit laat mens wonder watter invloed die sanksies dan op Rusland sal hê.