EENWÊRELD- GODSDIENS VOOR ONS DEUR

As u ‘n konserwatiewe christen is behoort u hierdie artikel te lees. As christene glo ons dat die antichris ‘n eenwêreldgodsdiens sal vestig, gebaseer op satanisme en die okkulte, wat met ‘n eenwêreldregering geassosieer word. Die Geldmag hou ons besig met dingetjies wat ons aandag aflei van sulke ernstige sake wat vir ons bittere gevolge gaan meebring en ons kan dalk nie die dinge wat op ons pad kom keer nie maar ons behoort met oop oë, volwaardige kennis en geestelik paraat daarin te stap.

Hoeveel van ons weet dat Pous Franciscus van die Katolieke Kerk reeds in 2019 die aankondiging gemaak het dat daar ‘n Katoliek-Moslem Tussentydse Raad geskep is wat die totstandkoming van die Chrislam-Hoofkantoor in 2022 beoog  het. Volgens die getekende ooreenkoms, die Document On Human Fraternity For World Peace, behels dit ‘n kombinasie van Moskee en Kerk wat moet lei na ‘n Eenwêreldgodsdiens – die Chrislam, dus ‘n samesmelting van bestaande godsdienste. Ja, dis dieselfde Pous wat mense leer dat bekering nie die mens se missie is nie maar wel broederskap tussen verskillende godsdienste – direk die teenoorgestelde wat die Bybel ons leer.

Dié godslasterlike Pous het 'n gesamentlike verklaring met die groot imam (priester) van al-Azhar, dr. Ahmed el-Tayeb, onderteken wat in die naam van “godsdienstige verdraagsaamheid” presies is wat die Woord van God in Daniël 7 en Openbaring 13 ons leer, naamlik ‘n Eenwêreldregering met ‘n Eenwêreldgodsdiens en ‘n Eenwêreldgeldstelsel, wat deur die antichris beheer en bestuur sal word, en voor wie elke mens sy knie sal moet buig om nie doodgemaak te word nie.  

Intussen is daar ook ‘n intergeloofsraad gestig wie se werk hoofsaaklik is om “verdraagsaamheid” onder mense te bevorder. Dus word daar heelwat weerstand teen die Eenwêreldproses verwag. Selfs ‘n Hoër Komitee van Menslike Broederskap is aangewys om vrede tussen mense te probeer hou.

En hier staan ons nou, reg aan die begin van die einde van ons aarde; reg voor die bitterste tyd denkbaar want as jy kies om te leef, gaan jou siel na die hel. As jy die ewige lewe kies sal jou liggaam dit ontgeld. Die eindtyd ontvou voor ons oë, ons sien hoe hierdie rebellie teen God eskaleer; ons gaan uitgedaag word om staande te kan bly maar onthou dan dat die fondament van God vas staan met hierdie seël: “Die Here ken die wat syne is… Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, van die ongeregtigheid afwyk”. 2 Timoteus 2:19