MASKERS SE MAAI!

Soms is daar nog so ‘n bietjie regverdigheid in hierdie verkeerde lewe. 'n Regter in Florida het die Covid-19-mandaat wat Amerikaners verplig om maskers op vliegtuie en in ander openbare vervoer te dra verwerp, en gesê dat president Joe Biden se administrasie sy gesag oorskry het en nie sy besluit behoorlik regverdig het nie.

Regter Kathryn Kimball Mizelle van die Amerikaanse distrikshof in Tampa het haar uitspraak gemaak net vyf dae nadat die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) sy mandaat vir maskers tot minstens 3 Mei verleng het.

“Die hof kom tot die gevolgtrekking dat die maskermandaat die CDC se statutêre gesag oorskry en die prosedures wat vereis word vir die maak van reëls oortree het. . .” het die regter in haar uitspraak gesê.

In 'n uitvoerende bevel wat hy onderteken het, het Biden die dra van maskers in Januarie 2021 verpligtend gemaak. Die CDC het die mandaat twee weke later gepubliseer sonder om publieke insette toe te laat soos gewoonlik vereis word en sonder om voldoende verduideliking te gee.

Bestuurders van die lugrederybedryf het gevra dat die maskermandaat beëindig word, deels omdat dit bygedra het tot 'n toename in gewelddadige passasiersgedrag. "Ek dink die opheffing van die maskermandaat sal een stap in die rigting van die herstel van beleefdheid en normale gedragspatrone aan boord van die vliegtuig sowel as in die lughawens wees," het Delta Air Lines se uitvoerende hoof, Ed Bastian, Maandag aan die Washington Post gesê.

Daar was tot dusver vanjaar meer as 1 100 voorvalle van onbeheerste lugrederypassasiers wat by die Federal Aviation Administration aangemeld is, en 65% van daardie gevalle het verband gehou met reëls vir die dra van maskers. Meer as 1 000 van verlede jaar se voorvalle was ernstig genoeg om 'n FAA-ondersoek te noodsaak, vergeleke met net 146 voorvalle in 2019. Baie van verlede jaar se voorvalle was so erg dat die FAA boetes van meer as $10 000 per oortreder opgelê het. Een passasier is selfs ‘n $26 000 boete opgelê nadat hy na bewering ’n vlugkelner met die vuis geslaan het.

Die meeste staats- en plaaslike regerings in die VSA het reeds hul bevele oor maskerdra in openbare plekke opgehef.

Die CDC het gesê dat verlede week se uitbreiding van die mandaat vir maskers nodig is om die agentskap tyd te gee om die impak van 'n toename in Covid-19-infeksies mbt hospitalisasies te evalueer.

Die ironie is dat die toename in Covid-gevalle niks met die dra van maskers te make het nie maar alleenlik spruit uit die vernietiging van die immuniteit van ingespuite persone. Maar natuurlik sal enigiets anders as die oorsaak uitgemaak word, solank die gif in die inspuitings net nie ontbloot word nie.