Ons het die afgelope Woensdag met die bekendmaking van die uitslag van persone wat 'n herbivoor-, 'n karnivoor- of 'n omnivoor-dieet verkies, ook ons lesers uitgenooi om verder met ons daaroor te gesels en ons in te lig oor waarom hulle hul spesifieke leefwyse verkies. Hier het ons dan ook vandag 'n interessante briefie ontvang wat ons nou plaas - Red.
Geagte Webmeester,
Ek vra om verskoning dat ek nie aan die opname deelgeneem het nie. Die menings omtrent die verskillende diëte was egter interessant.
My voorkeur-dieet uit die drie wat bespreek is, is die plantaardige dieet (herbivoor).
Ongeveer 10/12 jaar gelede het ek 'n pols gebreek en ná 'n beendigtheid-skandering is ek met osteoporose (toe nog net in die beginstadium) gediagnoseer. My geneesheer het aanbeveel om bv. rooivleis en 'n lang lys ander voedselsoorte sover as moontlik te vermy. (Vermoedelik oor die sure wat dit veroorsaak en die kalsuim uit die been onttrek).
Dit was nogal 'n skok omdat die degenerasie onomkeerbaar is en ek gedink het my gesondheid is goed.
Wel, ek het toe natuurlik 'n dieetkundige gaan spreek. Ongelukkig eet ek baie van die voedselsoorte wat wel aanbeveel word, nie graag nie. In my soeke na meer inligting oor hoe om verdere degenerasie van my skelet te voorkom, het ek 'n DVD van 'n professor (nou afgetree) in Menslike Fisiologie bekom wat handel oor die voordele van'n plantaardige dieet. Ek het ook 'n publikasie bekom wat inligting bevat oor navorsing van die Universiteit van Stellenbosch se Nutrition Information Centre (NICUS). Altwee inligtingsbronne het my oorreed om van 'n omnivoordieet na 'n vegan-dieet oor te skakel. Die aanpassing was alles behalwe maklik en het 'n aantal maande geneem. Ek volg dit egter nie regied nie. Wanneer ek byvoorbeeld saam met my familie kuier, pas ek aan.
Ek stap baie, en voel goed. Ek word vanjaar 75. Bloedruk en cholestrol is normaal sonder enige medikasie. Geen hoofpyne. Geen sooibrand nie. Alhoewel, geen van laasgenoemde twee was ooit 'n probleem nie. Ek neem wel medikasie teen verdere degenerasie van my skelet asook'n kalsium-aanvulling.
Dis my storie.
Driekie Wolhuter, Queenswood, Pretoria.