Voor ons te ver van 21 Junie af wegbeweeg, kan ons gerus weer dink oor die vier mooi seisoene wat ons hemelse Vader aan ons gegee het ter wille van praktiese diens aan mens en dier.
Dit was eergister 21 Junie 2024 en Winter-sonnestilstand. Dit word so genoem want dit is die kortste dag en die langste nag in die jaar. Gister, op 22 Junie het die dae stadigaan elkeen effens langer begin word en die nagte effens korter, wat so sal aanhou tot op 22 September. Daardie dag noem ons Lente-dag-en-nag-ewening want op daardie dag is die dag en die nag weer ewe lank.
Daarvandaan word die dae nog verder elke dag effens langer en die nagte effens korter. Dit gebeur tot op 21 Desember wanneer die dag op sy langste is en die nag op sy kortste. Ons noem daardie dag Somer-sonnestilstand.
Daarvandaan word die dae stadigaan weer al hoe korter en die nagte al hoe langer totdat hulle weer ewe lank is op 22 Maart, genoem Herfs-dag-en-nag-ewening.
Dit is ons vier pragtige seisoene se aanvangstye wat deur die fynste beplanning so tot werking gebring is – ‘n wonderwerk wat net die Skepper van hemel en aarde kon verrig.