GUSTAV NORVAL
Behalwe vir ‘n paar uitsonderings, kan die meeste voëls vlieg. Dit word moontlik gemaak deur ’n aantal spesiale aanpassings wat ons Skepper in die klas diere ingebou het. Ten eerste is daar die ballonagtige lugsakke in die romp, wat elk aan die longe verbind is. Hulle stoor lug en help om die gewig van die voël te verminder. Daar is 9 lugsakke (3 in die nek, twee pare in die borskas en een paar in die buik) en die sakke in die nek besit vingeragtige uitstulpings, waarvan twee ook in die vlerkbeendere instrek.

Verder het voëls sterk borsspiere om die vlerke te beweeg en ook ‘n relatief ligte geraamte. Die beendere bestaan uit dun, tog sterk strukture
en sommige is hol (pyl) en sonder murg.
Radiologiese beeld van vlerkbene
Die grootste bate om te kan vlieg, is die vere en hoe dit anatomies gestruktureer is om alle vliegbewegings te kan uitvoer. Daar is verskeie veertipes, naamlik donsvere, stuurvere in die stert, borselvere, haaragtige draadvere en slagvere in die vlerke. Vlerkvere bevat ‘n sentrale hol skag (“rachis”) wat sywaartse “barbs” dra en elkeen dra weer fyner “barbules”. Laasgenoemde besit op sy beurt fyner hakkies:
Die hakkies heg teenoorstaande barbules aanmekaar, amper soos ‘n ritssluier. Die barbules het elk ‘n groefie waarin die hakkies vashaak om stewigheid aan die veer te verskaf (wit pyl). Dit gebeur algemeen dat die hakkies tydens vlieg losraak sodat die barbs van mekaar skei. Wanneer voëls hulself tooi en gladstryk, word die vere dan deur die snawel getrek en sodoende word die hakkies weer in posisie gerits om los barbs aanmekaar te heg.
Die besondere liggaamsaanpassings laat sommige voëls, soos seevoëls en arende, toe om in die lugruim te sweef sonder om vlerke te klap. Dit word moontlik gemaak deur opwellende warm lugstrome en so kan die voëls ure lank in die lug met gemak rondsweef. Dan is daar die “humming bird”/ Amerikaanse suikerbekkies wat hul vlerke so veel as 90 - 200 keer per sekonde kan klap. Die vlerkbewegings word so gereguleer dat die voël vorentoe, agtertoe en op of af kan beweeg soos bye.
Seeswawel en Amerikaanse suikerbekke (“humming bird”)
Baie voëlspesies migreer elke 6 maande na die ander halfrond om wintermaande te ontsnap en in hierdie verband dink ons aan swaeltjies, sommige valktipes en ooievaars. Die arktiese seeswawel migreer tussen Groenland na die suidpunt van Suid-Amerika. Dit is ‘n allemintige 17,000 kilometers elke 6 maande. Migreerende voëls moet eers ‘n genoegsame energiereserwes opbou, alvorens hulle die tog begin. Hulle navigeer volgens die stand van sterre en die aarde se magneetvelde om rigting te hou. ‘n Kombinasie van lugsakke, hol beendere, sterk borsspiere en vere dra by tot die voltooiing van hierdie epiese vlugte. Die skepping is en bly een groot wonder en ons kan net ons Almatige Vader daarvoor loof en prys.