UIT DIE NATUUR: SEEDIERE

Dr Gustav Norval

Een van die interessante natuurverskynsels word in die oseaan gevind. Walvisse eet elk sowat 1,8 ton krill-garnale elke dag. Krill is klein skaaldiertjies van sowat 2-3 sentimeters in lengte en vorm groot swerms in die see. Die walvis open sy groot bek en sluk groot hoeveelhede krill en seewater in, maar die baleinplate in die walvis se bek het harige kante wat die krill uit die seewater uitsif, sodat slegs krill ingesluk word. Die walvis produseer daagliks tonne afval wat deur mikroskopiese seeplantjies (genoem “fitoplankton”) en seediertjies (“zooplankton”) opgeneem word.

   

           

                          

       Fitoplankton en een krill-garnaal

Walvis-afval is ryk aan stikstof en yster en is nodig vir die voortbestaan en toename in die biomassa van plankton. Plankton dien ook as voedsel vir klein- en groter visse in die voedselketting. Fitoplankton se groot voordeel is dat dit koolsuurgas in die see en atmosfeer opneem en dat dit suurstof deur die fotosintese proses vervaardig. Die suurstof word as klein gasborrels in die atmosfeer bo die see vrygestel. Die fitoplankton is verantwoordelik vir die produksie van 50% van die suurstof wat ons insasem en dit veroorsaak tegelykertyd ‘n afname van atmosferiese koolsuurgas, wat verantwoordelik gehou word vir aardverwarming. Daarom is dit noodsaaklik dat walvisse en fitoplankton beskerm moet word, want hulle speel ‘n groot rol in vis- en suurstof-produksie. Dit word bereken dat 75% van die oseane se fitoplankton-massa binne 25 jaar gaan verdwyn weens menslike wanbestuur van die skepping.

Prys ons Vader vir sy ongelooflike skeppingswonders.