PRYS VAN DIESEL

Diesel sal tussen 11c en 12c per liter goedkoper wees van 6 Julie af, sê die Departement van Energie. Terselfdertyd sal die prys van petrol met tussen 31c tot 33c per liter daal.

Dié verlaging word grootliks aan die daling in die internasionale olieprys, en die rand se prestasie teenoor die dollar in Junie, toegeskryf. Die rand/dollar-wisselkoers se gemiddelde vlak tydens dié tydperk was R6,83 teenoor, die gemiddelde vlak van R6,85 vir Mei vanjaar.

Ligter las vir boere?

Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom van Agri SA, sê hoewel enige daling in landbou insetkostes welkom is, bring die daling in dieselpryse tans net effense verligting. “Gegewe die styging van 70c wat ons vroeër die jaar gehad het en die daaropvolgende stygings, is hierdie maar ‘n effense verligting. Of dit werklik ‘n noemenswaardige impak op insetkoste sal hê, sal bepaal word deur die toekomstige bewegings van die prys.”

Volgens Maree beloop die sektor se dieselkoste per jaar sowat R11 miljard. ‘n Verlaging van 11c beteken dus dat die sektor sowat R110 miljoen kan spaar.

Styging in Augustus?
Intussen voorspel mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom van die Efficient-groep, dat brandstofpryse in Augustus kan styg. “Ek verwag ‘n styging van ‘n paar sent, niks té drasties nie.”

Roodt sê die situasie in Griekeland gaan in die komende maand ‘n bepalende faktor vir brandstofpryse wees. “As die situasie in Griekeland uitgesorteer kan word – en dit lyk of dit kan - beteken dit dat vertroue in die internasionale markte weer kan herstel. Dit kan lei tot hoër oliepryse, wat nie noodwendig ‘n slegte ding is nie, want dit dui aan daar is groei in die wêreld-ekonomie”.