OPENBARE BESKERMER MOET HAAR SAKE AGTERMEKAAR KRY

TLU MEDIAVERKLARING

In plaas daarvan om duur en nuttelose ondersoeke na twee dekades gelede se goed in te stel, sou die Openbare Beskermer beter doen om haar prioriteite reg te kry, haar administrasie te verbeter en knelpunte van die dag reg te stel.

TLU SA se president, mnr. Ben Marais, sê dat die Openbare Beskermer ‘n pos is wat geskep is na 1994 met die oog op die verbetering van dienslewering deur staatsdepartemente wat tans bestaan en opereer.  “Om nou ondersoeke te wil instel na iets wat dalk gedurende die apartheidstyd gebeur het, lyk vir ons baie na ‘n weerligafleier van ander sake wat tans roep om aandag.”

TLU SA se Assistent-Hoofbestuurder: Dienste, mnr. Chris van Zyl, het reeds vroeg vanjaar ‘n saak by die Openbare Beskermer aanhangig gemaak oor bepaalde staatsdepartemente wat nie hulle ondernemings nakom en hulle werk doen nie.  Dit het te doen met die klagtes wat TLU SA aanhangig gemaak het teen verskeie kabinetsministers rakende waterbesoedeling. “Tot op hede het ons nog geen vordering in dié saak gesien deur die OB nie, behalwe dat hulle ‘n poging aangewend het om te ontken dat ons die saak aanhangig gemaak het, wat dui op administratiewe chaos in die OB se kantoor.  Gelukkig het ons bewyse dat dit wel ontvang is, maar dit wil voorkom of die OB dalk self een of ander tyd ondersoek moet word vir doeltreffendheid,” sê mnr. Van Zyl.