ALANI JANEKE
Plaaslike ekonome stem saam met die Wêreldbank dat swak paaie ’n regstreekse invloed op voedselpryse het. Luidens ’n berig in Beeld (12 Julie 2011) skryf dr. George Banjo, ’n senior vervoerraadgewer van die Wêreldbank, hoë voedselpryse in Afrika aan swak paaie op die vasteland toe.
Banjo was een van die sprekers by die 30ste Suid-Afrikaanse vervoerkonferensie. Volgens hom sal voedselpryse hoog bly en aanhou styg as Afrika nie sy paaie en vervoerstelsels opgradeer nie. Hy sê veral swak paaie in landelike gebiede is een van die grootste probleme.
“Daar is ’n verskil in die soort vervoerprobleme in ontwikkelde en ontwikkelende lande. Ontwikkelde lande se probleme is grootliks instandhouding, maar ontwikkelende lande het ’n mengelmoes probleme,” aldus Banjo.
Voedselpryse kan verdubbel teen 2030, wat tot agteruitgang in menslike ontwikkeling kan lei, waarsku die Oxfam-liefdadigheidsgroep. Luidens ’n berig in Guardian (31 Mei) meen die groep dié neiging sal die armstes van die armes die hardste tref, wat verdere maatskaplike onrus kan meebring.
Volgens inligting bestee armes sowat 80% van hul inkomste aan voedsel, derhalwe sal hulle die hardste getref word. Oxfam meen die wêreld betree tans ’n heeltydse voedselkrisis wat met politieke onrus gepaard kan gaan. Radikale veranderinge sal gemaak moet word om ’n krisis af te weer.
Volgens die jongste voorspellings vir internasionale kommoditeitspryse kan graanpryse, soos dié van mielies, teen 2030 met tot 180% styg. Klimaatsverandering sal na verwagting die grootste rol in dié stygings speel.
Nie net paaie
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, sê dié debat word reeds vir jare in Suid-Afrika gevoer. “Die blaam kan egter nie net op die skouers van swak paaie geskuif word nie.”
Hy sê daar moet ook wyer gekyk word na die bestaande infrastruktuur en hoe dít in stand gehou word. “Daar is stygende koste, soos dié van brandstof, wat ook ’n invloed het. En natuurlik lei swak paaie tot hoër slytasie van jou voertuig en dat bande gouer vervang moet word.”
Die feit dat Suid-Afrika ook nie sy spoorvervoer behoorlik kan aanwend nie, wat goedkoper as padvervoer sou wees, verskaf ook hoofbrekens.
Klimaatsverandering
’n Ander faktor wat volgens Banjo die wêreld in die gesig staar, is klimaatsverandering.
“Die grootste uitdaging is die instandhouding van bestaande paaie en nie die konstruksie van nuwe paaie nie. Ons moet nou reeds beplan hoe ons dié probleem gaan hanteer.”