ONS HOEF SEKER NIE TE WONDER WAT HIERAGTER SIT NIE...
Erika Gibson
"... sodat die twee lande se soldate mekaar en mekaar se toerusting beter kan leer ken..." En dan ewe liefies daaroor kan korrespondeer? Ons kan maar daarop wed dis met die oog op versekerde sukses met daardie "humanitêre geleentheid" wat in die pyplyn is... Wees verseker hierdie soort ding gebeur, in ‘n rewolusionêre klimaat soos SA tans verkeer, nie om dowe neute nie! Daarom is SA die verkose terrein vir die “oefening.” Dit is suiwer voorbereiding vir die finale fase van die kommunistiese rewolusie in SA.
Pretoria - Die grootste inval van Amerikaanse soldate nóg vind van vroeg volgende week aan die ooskus van Suid-Afrika plaas.
Dit is weliswaar ’n “vriendelike” inval deurdat dit gaan uitloop op die grootste gesamentlike militêre oefening van sy soort in die geskiedenis tussen die weermagte van die VSA en Suid-Afrika.
Die heersende gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA het na verneem word gedreig om die oefening onlangs te laat sneuwel. Die beplanning was egter te ver gevorderd om dit te kanselleer.
Oefening Shared Accord is ’n multinasionale vredesoefening waartydens alle komponente van die weermag, naamlik die leër, lugmag, vloot en SA Militêre Gesondheidsdiens (SAMGD), saam met honderde Amerikaanse seesoldate en mediese personeel gaan oefen.
Wanneer ’n geleentheid hom in die toekoms voordoen, sal die magte dan gemaklik kan saamwerk – hetsy dit humanitêr van aard is of ’n natuurramp.
Die oefening begin wanneer die Amerikaanse skepe in die hawe van Port Elizabeth aankom. ’n Aantal konvensionele “aanvalle” saam met 6 SA Infanteriebataljon (6 SAI) in Grahamstad sal daarna plaasvind. 6 SAI is die Suid-Afrikaanse weermag se bataljon wat vir alle seegedrewe en landwaartse operasies verantwoordelik is.
Dit sal die eerste keer wees dat hulle saam met die Amerikaanse mariniers oefen.
Terwyl die “skerp kant” van die soldate hul militêre vaardighede in die omgewing van Grahamstad beproef, sal die “sagte kant” hom in verskeie plakkersbuurte laat geld.
Lede van die SAMGD en dié van die Amerikaanse mediese span sal dagklinieke oprig en basiese tandheelkundige sorg en oogtoetse doen.
Die veeartsenykundige beamptes van albei lande sal in samewerking met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) na dié gemeenskappe se vee en troeteldiere omsien.
Terselfdertyd sal die ingenieurs saamwerk om die DBV op Uitenhage se geriewe en dreineringstelsel op te knap.
Die oefening duur tot die einde van die maand.