Deur JOHAN COETSEE
Die groot uittog van veral kleiner melkboere wat weens swak produsentepryse uit die bedryf gedwing word, is ’n ernstige saak van kommer vir die bedryf.
Al hoe meer geluide van moontlike kartelvorming in die melkbedryf klink op, asook dat prysvasstelling-meganismes ondersoek moet word. Van die meer as 30 000 melkboere in die middel 1980’s is beduidend minder as 2 600 vandag nog in produksie.
Dit het pas bekend geword dat nóg 21 melkboere van die Overberg in die Wes-Kaap in die laaste ses maande die handdoek ingegooi het − en nog gaan hulle dalk volg.
Talle melkboere vermoed kartelvormings in dié bedryf, maar dit blyk asof ’n ondersoek daarna nie gou gaan plaasvind nie.
Ondersoek is ongrondwetlik Dit is omdat die Appèlhof verlede jaar beslis het dat ’n ondersoek na twee melkmaatskappye beëindig word nadat hulle aangevoer het dat só ’n ondersoek ongrondwetlik is. ’n Tydperk van drie jaar moet nou verloop voor ’n nuwe ondersoek van stapelgestuur kan word.
Mnr. Deàn Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê die MPO berus hom by dié besluit. Nóg ’n gebied waar melkboere uit die bedryf gedwing kan word weens swak produsentepryse, is by George, meen hy.
Die MPO het gevra dat die suiwelwaardeketting ontleed word om duidelikheid te kry oor die verdeling van die verbruikersrand. “Ons sou graag wou sien dat alle belanghebbendes in die waardeketting ondersoek word,” sê Kleynhans.
Altesame R350 000 is bewillig vir ’n ondersoek en ’n diensverskaffer word nou aangestel wat die ondersoek sal doen.