Deur ALANI JANEKE
Laat vaar jul planne vir hidroliese breking in die Karoo en elders in die land, is die versoek wat aan oliemaatskappye gerig is tydens die Afrika Gaskonferensie in Johannesburg.
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure Karoo Acrion Group (TKAG) sê dit was sy hoofboodskap aan Shell en enige ander oliemaatskappy wat dié praktyk moontlik in Suid-Afrika oorweeg.
Volgens Deal bestaan daar nie genoeg bewyse dat die potensiële voordele van hidroliese breking die risiko’s oorskadu nie. Hy meen die land moet tans eerder op hernubare energie-alternatiewe fokus met die risiko’s van klimaatsverandering en skaars waterbronne wat al hoe groter word.
'Ontbind taakspan'
Deal het verder Susan Shabangu, Minister van Energie, versoek om die taakspan te ontbind wat sy aangewys het om dié omstrede mynmetode en die invloed daarvan op die Karoo te ondersoek. “Voortdurende versoeke aan die minister om meer duidelikheid oor die taakspan en sy terme van verwysing, het op dowe ore geval.”
Deal meen dat die Karoo én sy mense sal verwoes word indien lisensies vir gasprospektering of -produksie aan enige oliemaatskappye toegestaan word sonder dat die voor- en nadele van die hidroliese breking behoorlik opgeweeg is.
Enigste oplossing
Intussen het mnr. Jan-Willem Eggink, hoofbestuurder van Shell in Afrika, op die konferensie gesê die ontginning van skaliegas deur hidroliese breking is moontlik die enigste oplossing vir Suid-Afrika se energie-uitdagings en sy koolstofspoor.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com het Eggink aangedui dat mits Shell die lisensie vir die Karoo-projek ontvang, hy van plan is om dit ‘n voorbeeld van een van die mees ekologies vriendelike gasontginningsprojekte ter wêreld te maak.
Eggink het afgevaardigdes herinner aan die beloftes wat pres. Jacob Zuma tydens die beraad oor klimaatsverandering in Denemarke gemaak het oor die land se beperking van koolsuurgas-vrystelling, herinner.
Volgens Eggink is die grootste uitdaging vir die ontginning van skaliegas in die Karoo die gebrek aan water. Hy sê hulle is van plan om water per vragmotor of per spoor na die Karoo te vervoer, en hulle oorweeg ook die moontlikheid om seewater te gebruik. Hy het gesê die maatskappy sal nie met die Karoo se inwoners om hulle water sal meeding nie.