HAAL UIT DIE KOMBERSE!

SNEEU EN KOUE DEUR DIE LAND

ALANI JANEKE

Koue, nat weer en sneeu het groot dele van die land in sy greep en die Weerkantoor verwag dat dié weer Dinsdag (26 Julie 2011) wyer gaan voorkom.

Ezekiel Sebegu, weervoorspeller, sê dit sneeu tans in die oostelike dele van die Wes-Kaap en oor die grootste deel van die Oos-Kaapse binneland. “Dit sneeu ook tans in Lesotho, op die berge van KwaZulu-Natal en in die suidelike en oostelike dele van die Vrystaat.”

Volgens Sebegu kan sneeu vandag (25 Julie 2011) oor die suidelike dele van Mpumalanga ook voorkom, en dit kan môre tot by die Long Tom-pas versprei. Sneeu kan vanaand (25 Julie 2011) moontlik ook in die suidelike dele van Gauteng val.

Intussen sê Landbou.com se Facebook-gebruikers Beaufort-Wes en Queenstown is wit onder die sneeu, terwyl die sneeu sowat ’n meter diep in die distrik Dordrecht lê. Mnr. Paul Snyman sê naby Rietbron en Willowmore het boere redelik skade gely met kaalgeskeerde Angorabokke wat weens die koue en reën verkluim.

Reën
Met die wêreld wat plek-plek wit is, kom swaar reënneerslae ook in baie gebiede voor. Boere juig oor meer as 50mm reën wat sedert die naweek in die distrik George geval het. Van dié boere het tot 75mm gemeet. Sebegu sê die reën kom al langs die oostelike dele van dié stad af langs die suidkus voor. Reënwolke hang al langs die Ooskus tot by Port St. Johns.

Sebegu voorspel dat nóg reën Dinsdag (26 Julie 2011) kan voorkom. “Dit gaan moontlik uitbrei na die oostelike dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die oostelike dele van Mpumalanga.”

Mnr. André de Wit, die voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê dié distrik is baie nat en koud. “Van gisteraand af (Sondagaand) het dit al 65mm gereën en die wolke hang vandag nog laag.”