ALANI JANEKE
Eskom is bekommerd oor die invloed wat ’n verlengde staking in die steenkoolbedryf op sy voorraad en kragkapasiteit kan hê. Volgens die kragvoorsiener het hy tans voldoende voorraad, maar hy monitor die situasie versigtig, veral as die staking lank sou voortduur.
Werkers in die steenkoolbedryf het oor die naweek begin staak ná ’n dispuut oor loononderhandelinge verklaar is. Volgens die vakbond Solidariteit het ook sy lede Sondag (24 Julie 2011) om middernag by die staking aangesluit.
Die vakbond sê sy werkers is erg ontevrede, veral nadat vasgestel is dat ’n uitvoerende amptenaar in die bedryf ’n salarisverhoging van 2009 tot 2010 van 93% ontvang het. Sipho Nkosi, die uitvoerende hoof van Exxaro, se totale pakket het met 93,3% gestyg, terwyl sy basiese salaris met meer as 29% gestyg het. Die maatskappy se steenkoolafdeling se netto bedryfswins het terselfdertyd met 41,2% gestyg. Werkgewers het ’n verhoging van 8,5% vir werkers in ’n vlak vier-pos aangebied, en 7% vir werkers op ander vlakke.
Genoeg voorraad
Mnr. Tony Stott, ’n woordvoerder vir Eskom, sê hulle het te enige tyd by kragstasies genoeg steenkoolvoorraad vir 38 dae se kragopwekking. Ander aksieplanne is ook gemaak om te sorg dat die steenkoolvoorraad voldoende is.
’n Verlengde staking tesame met hoër kragverbruik weens weerstoesande kan egter daartoe lei dat dié voorraad vinniger as beplan, gebruik word. Herstelwerk aan ’n kragstasie en gevolglik groter druk op ander kragstasies, kan ook die situasie beïnvloed.
Stott sê hulle is bekommerd oor die bedryf se vermoë om Eskom se voorraad ná die staking tot op die regte vlakke, van genoeg steenkool vir 40 dae se kragopwekking, te kry.
“Lae steenkoolvoorraadvlakke tydens die reëntyd in die somer kan beteken dat sommige kragstasies nie teen 100% kapasiteit kan funksioneer as die reën die myn en vervoer van steenkool beïnvloed nie.”
Gebruik krag slim
Intussen moedig die kragvoorsiener verbruikers, wat boere insluit, aan om krag slim en doeltreffend te gebruik. “Skakel wat jy nie gebruik nie af, en verminder so die vraag na elektrisiteit.” aldus Stott.
Stott sê só ’n benadering tot kraggebruik kan ook kragrekenings verlaag en voordelig vir die omgewing wees.