WEER 'N GRU PLAASMOORD

TLU SA MEDIAVERKLARING

Dit is ‘n kwade dag as misdadigers nou al probeer om van hulle bewyse ontslae te raak.

Dit is die reaksie van TLU SA se President, mnr. Ben Marais, na die gru-moord van ‘n boer op sy plaas in die Reitz-omgewing.  Die boer se liggaam is in ‘n vlak graf op die plaas gevind, en sy 85 jarige vrou in 'n rystoel is verkrag en is sodanig aangerand dat sy gehospitaliseer moet word.

“Die wreedheid van plaasmoorde is reeds alombekend en laat enige beskaafde en reggeaarde mens walg,” sê mnr. Marais.  “Nou probeer die terroriste boonop om van hulle bewyse, in hierdie geval die liggaam van hulle slagoffer, ontslae raak.”

Mnr. Marais sê dat die aanvalle op plaasboere minstens gelykstaan teenoor die moorde op polisiemanne.  “As ons in berekening bring dat hierdie jaar ongeveer 50 polisiemanne vermoor is uit ‘n polisiemag van 156 000 lede, en daar ongeveer 30 boere vermoor is uit ‘n bevolking van 36 000 (en dit is net dié waarvan daar kennis geneem is), is dit duidelik dat verhoudingsgewys die boeregemeenskap ‘n groter risiko is as selfs polisielede.    Elke boer wat vermoor word, het tot gevolg dat produksie verminder.  Verlede week het Statistiek Suid-Afrika aangekondig dat Suid-Afrika se bevolking die 50-miljoen kerf oorskry het (terwyl die ander swart Afrika-state se hongeres waarvan daar miljoene in hierdie land onwettig ingekom het en nou gemaklik dokumente ontvang wat hulle verblyf hier wettig, nie hierby ingereken word nie).  Daardie mense moet gevoed word deur ‘n boere-gemeenskap wat steeds kleiner word en gaandeweg uitgewis word.”

Mnr. Marais het weer eens ‘n beroep gedoen op die regering om plaasmoorde ‘n spesiale kategorie misdaad te verklaar en ‘n spesiale ondersoekeenheid in die lewe te roep.

Intussen het mnr. Marais ook boere gemaan om uiters versigtig te wees met die indiensneming van vreemde arbeid, aangesien die beweerde daders in die Reitz-geval skynbaar op ‘n stadium vir die boer gewerk het, en dus presies op hoogte is van wat op die plaas aangaan. “Maar die regering het ook ‘n plig om die plaaswerkers te waarsku dat boere hulle nie verder in diens sal neem nie en sal begin kyk na vervanging deur bv. meganisasie as dit blyk dat boere deur hulle eie werkers aangeval en vermoor word.