Corli van der Merwe
’n Desperate boervrou van Zimbabwe het in ’n laaste e-pos aan familie en vriende gevra vir gebede terwyl tientalle mense klippe na hul huis gegooi het.
Mev Alida du Toit (63), haar man, Dolf (67) en mnr. Du Toit se seun, Rudolph (38) is vir langer as ’n dag in hul huis vasgekeer terwyl die klippe op hul huis neergereën het en mense, met ysterstawe gewapen, om hul huis saamgedrom het.
Van die klippe was so groot (soos dié wat onnadenkende mense voor hulle huise in die straat pak sodat motors nie daar moet parkeer nie – net reg vir die klipgooiers...) dat Du Toit nie haar hande daarom kon kry nie. Die gesin is Saterdagaand deur Zimbabwiese polisie van die plaas af gehelp nadat hulle ’n kans gegee is om van hul besittings op te pak.
In gang weggekruip
Volgens Marie Fernandes, mev. Du Toit se dogter, het hulle in hul huis se gang weggekruip nadat die vensters deur klippe gebreek is. Mnr. Dolf du Toit is deur een van dié klippe teen die kop getref.
Die groep aanvallers het glo probeer om ’n veiligheidshek met ’n trekker af te breek. Toe dié poging misluk, het hulle ’n venster gebreek en die gesin se rekenaars beskadig. Hulle het ook van die boerdery se masjinerie met vragmotors weggery.
Die aanvallers het beweer mev Du Toit het glo vir ou Rober gevloek (duidelik opgemaakte stories om hulle wandade te regverdig) en dat sy in die tronk hoort. Volgens Fernandes is haar gesin baie deurmekaar maar veilig.