Susan Botes
’n Aansoek om ’n tariefverhoging wat drie keer hoër is as inflasie is deur Transnet se Nasionale Hawe-owerheid (TNHO) by die hawereguleerder ingedien.
Dít terwyl die Durbanse hawe reeds as een van die duurste hawens ter wêreld geag word. Die owerheid vra om ’n verhoging van 18,06% in sy tariewe vir 2012/’13. Die uiteindelike tariefverhoging behoort egter net minder as 13% te wees weens ander faktore wat bygereken word.
Belemmer mededingendheid
Lindie Stroebel, senior ekonoom van die Landboubesigheidskamer (LBK), sê dit is net nog een van vele geadministreerde kostes wat Suid-Afrika se internasionale medediging belemmer.
“As dit net die hawens was wat só ’n tariefstyging wou instel, sou dit dalk nog aanvaarbaar gewees het. Dit is egter ’n klomp instansies wat almal hul pryse laat styg.”
Stroebel sê terwyl die Regering mor oor stygende voeselpryse is dit juis instansies wat deur die staat besit word, wat aanhou om tariewe te verhoog.
Monopolisties
Kaptein Salvatore Sarno, uittredende hoof van Mediterranean Shipping Co. (MSC), het onlangs sterk teen die TNHO te velde getrek.
“Jul sterk, monopolistiese houding sal nooit werk in ’n demokrasie nie. Die hawens is nié die private eiendom van Transnet nie. As ’n Suid-Afrikaanse burger behoort die hawe aan my. Dit behoort ook aan die sakelui wat van dié gerief gebruik maak.”
• Die TNHO se destydse aansoek om tariewe in 2011/’12 met 11,91% te verhoog, was nie suksesvol nie. Die reguleerder het ’n tariefverhoging van 4,49% toegestaan.