Skrik wakker: daar’s nie krag én water nie
Anita Morkel
Die samestelling van eindverbruikersforums sal waarskynlik die enigste oplossing wees vir die kragonderbrekings waarmee dorpe regoor die land al hoe meer te doen kry.
Sulke forums sal op eie houtjie elektrisiteitsverspreiding kan doen ingevolge Artikel 6 van die Elektrisiteitswet 4/2006. Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het egter tot dusver nie juis sy samewerking in hierdie verband vir belastingbetalersunies of die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) gegee nie.
Nersa is die organisasie wat lisensies aan munisipaliteite moet verskaf om elektrisiteit te versprei indien daar aan die lisensievoorwaardes voldoen word.
Groot vraagtekens hang oor munisipaliteite se voldoening aan hierdie voorwaardes omdat die instandhouding van elektriese verspreidingsnetwerke sodanig verval het dat dorpe vir dae en selfs ‘n week op ‘n slag sonder krag is. Verder word die diefstal van kabels ook blameer vir kragonderbrekings soos die afgelope week op plekke soos Witbank en Ventersdorp. Kroonstad was ook onlangs hieroor in die nuus gewees. Waterpompe kan ook dan nie werk nie en gewoonlik is inwoners ook sonder water.
Nog ‘n doodskoot is die bepaling in die wet dat die munisipale bestuurder die voorsitter van so ‘n forum moet wees. Belastingbetalersunies kry selde indien owerheid.
Die gevolg daarvan is dat die dienslewering net al hoe meer agteruit gaan. Die grootste probleem is munisipaliteite se agterstallige skuld aan Eskom. Dorpe soos Heilbron, Parys, Koppies, Vredefort en Edenville (wat onder die Ngwathe munisipaliteit val) asook Ventersdorp en Vryburg se krag sou onlangs afgesny word indien die agterstallige skuld nie teen ‘n bepaalde sperdatum vereffen is nie.
Die oorverhaling van elektrisiteitstariewe is nog ‘n probleem aangesien talle munisipaliteit jaar na jaar hul tariewe buitensporig verhoog, maar geen goedkeuring by Nersa daarvoor gekry het nie. Koster in die
Wes-Transvaal is een van die dorpe waar die wanpraktyk plaasvind en lede van die belastingbetalersunie het begin weier om op te dok. ‘n Hofbevel moes egter onlangs gekry word nadat die munisipaliteit ‘n lid van die plaaslike unie se elektrisiteit laat afsny het. Alternatiewe metodes moet deur inwoners en veral besighede gebruik word om die kragonderbrekings te oorkom. “Ons kragopwekker loop op diesel en jy sal nie glo hoeveel dit per dag
kos nie!” het Jeanette Kleyn van die plaaslike koerant op Ventersdorp vertel. Hulle besit ‘n slagpale op die dorp wat aan die gang moet bly desondanks die kragonderbreking wat bykans 24 uur lank geduur het.
Kabeldiefstal in die Derbyomgewing is glo verantwoordelik vir Ventersdorp se kragonderbreking.