Chaos in die polisie
Probleme in die polisiediens slaan nou oral kop uit. Nie slegs weier die staatshoof, Jacob Zuma, om teen die polisiehoof, Cele, op te tree nie, maar ander ernstige sake wat die polisie in ’n swak lig stel, het intussen aan die lig gekom.
Polisiekantore wat reeds in 2004 teen ’n geraamde koste van R28,3 miljoen gebou moes word, kos die belastingbetalers nou sewe jaar later R75,3 miljoen. Dit is bykans drie keer die aanvanklike koste.
Onreëlmatige uitgawes in die 2010/11 boekjaar het met 3 000% gestyg tot R97,5 miljoen. Die bedrag hou hoofsaaklik verband met die nasionale polisiedagvieringe. Daar is nie vooraf vir die goedere of dienste getender soos die wet vereis nie.
’n Verdere skokkende feit is dat slegs 52% van misdade wat by die polisie aangemeld word, opgelos word.
Die oplossyfer vir moord is slegs 27%. In die sake wat wel opgelos is, het die verdagtes in minder as 30% in die hof gekom. 72% van seksuele misdaadsake is opgelos, maar slegs 25% daarvan het uiteindelik in die hof beland.
Nog ’n skokkende feit is dat siviele eise teen die polisie in die boekjaar 2010/11 met R3,5 miljard gestyg het. Dit is 47% meer as in die vorige jaar. Eise wat teen die polisie ingestel is, word gedoen oor mense wat onregmatig of per ongeluk deur die polisie raakgeskiet is, of wat oornag onregmatig in polisieselle aangehou is of deur mense wat deur lede van die polisie aangerand of verkrag is.
Dit is ook bekendgemaak dat die verliese van vuurwapens toegeskryf word aan die feit dat lede van die polisie hulle wapens baie nalatig hanteer. Wapens lê dikwels rond en raak so vermis. 96 wapens is uit huise van polisiebeamptes gesteel; 13 is uit polisie-voertuie gesteel, dertig uit kantore of stoorkamers en 103 het verdwyn tydens skofruilings en inspeksie. Sewe wapens is in badkamers en toilette gesteel en 43 het hulle wapens van hulle lyf af verloor; en 786 wapens het weggeraak op maniere wat nog nie geklassifiseer kon word nie.