GEMENGDE GEVOELENS OOR MALEMA- SAAK

TLU SA MEDIAVERKLARING

TLU SA is enersyds verheug oor die uitkoms van die ANC se dissiplinêre aksie teen sy jeugleier Julius Malema.  “Ons bly egter hoopvol om te sien of die ANC bereid sal wees om selfs verder te gaan en homself van ander omstrede Malema-uitlatings te distansieer,” sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes.  “Aan die ander kant is ons ontevrede oor die feit dat Malema onskuldig bevind is op klagtes van rassisme, terwyl nie minder nie as drie hofuitsprake in wese Malema van rassisme beskuldig het, en waar die Gelykheidshof selfs sy liedjie “Skiet die Boer” tot haatspraak verklaar het, wat die uiterste vorm van rassisme is.  Die ANC het nou ’n goue geleentheid om ’n skoon breuk met die Malema-era te maak deur van die geleentheid gebruik te maak om die appél teen die Gelykheidshof-uitspraak terug te trek, en om homself te distansieer van die Malema-uitsprake van nasionalisering, wat nie net die ANC nie, maar die hele land, geweldige skade berokken het,” sê mnr. Meintjes.