Agri Noord-Kaap
Sowat 107 000 ha of 20% van die distrik Colesberg se grond het weens brande in die slag gebly.
Mnr. Clem Olivier, voorsitter van die Colesberg-boerevereniging, sê ’n gemiddelde plaas in die omgewing is tussen 3 000 ha en 5 000 ha, en 33 plase is tydens verlede week se verwoestende brande afgebrand.
“Ek het onlangs langs die pad hier gery, en dit is vir kilometers ver swart. Dit het Dinsdag (8 November 2011) 11:00 begin brand, en teen 16:00 die middag het dit 60 kilometer verder reeds gebrand,” vertel Olivier.
Hulp
Olivier staan verstom oor die hulp wat medeboere aan geteisterde boere gebied het. “Dit het begin kort ná die brand uitgebreek het. Ons het sowat 40 bakkies met watertrokke gehad, en sowat ’n uur later het nóg 40 vanuit die streek by ons aangesluit.”
“’n Mens besef nie altyd watter toegeneentheid tussen landbouers bestaan nie. Die hulp wat ons tot nou gekry het, is fenominaal!” vertel Olivier.
Talle voerskenkings is reeds gedoen en baie daarvan kom van ver af. Olivier sê hulle het reeds hulp ontvang van boere in Bredasdorp, Dodrecht, Cradock, Heidelberg, Riviersonderend, Hopetown, die Van der Kloofdam-omgewing, Schoombie en dele van die Suid-Vrystaat. “Die plaaslike ouens help mekaar ook baie.”
Skade
Volgens Olivier is van die boere nie net bekommerd oor die vee en weiding wat hulle verloor het nie. Hy sê dit kan twee tot drie jaar duur vir verskeie van die grasvelde wat afgebrand het, om te herstel
“Die bossieveld kan, na gelang van die weer, vyf tot sewe jaar vat om heeltemal te herstel. Van die boere se bossieveld is 20 jaar ná ’n vorige groot brand steeds nie op standaard nie.”
Hy sê baie boere hoop tans op reën sodat die gras weer saad kan maak en die natuurlike prosesse weer aan die gang kan kom.