EN BIETJIE AANMOEDIGING VIR DIE DONKER DAE WAT KOM
Janbez
In ‘n heerlike gesprek met Charl Saunderson, ‘n Dorperteler van Kenhardt wat pas saam met sy pa, Sarel, aangewys is as Voermol se Skaapboer van die jaar kon ek my verbasing kwalik bedek.
Hoekom? Charl boer in dié verafgeleë deel van die land, en ons gesels oor sy gebruik van die 'iPad' wat hy vir Landbouweekblad toets. Die selfoon-sein op die plaas is nie te waffers nie, maar Charl sê hy sukkel veral om e-pos met dié tablet-rekenaar te stuur.
Ek noem van ‘n Bolandse boer se kontrepsie waarmee hy via die kragdrade in sy huis vir homself ‘n WiFi-netwerk ge-“MacGyver” het. Ek vra of Charl al dié apparaat oorweeg het.
“Ons het nie kragdrade in die huis nie,” sê hy.
“Hoe dan?” vra ek.
“Ons gebruik sonkrag, het nog nooit Eskom-krag op die plaas gehad nie,” antwoord hy.
Slaan my met ‘n nat vis: Ons stadsjapies, en seker baie ander mense, is só gewoond aan Eskom-krag – dis soos tweede natuur.
Charl vertel dat die sonkrag aan al hul behoeftes voorsien, maar dat hulle darem ‘n Lister-kragopwekker het vir dié dae wat die wolke opsteek en dit betrokke is. “Maar ek kan nie onthou dat ek die Lister die afgelope jaar aangeskakel het nie,” lag hy. (Charl-hulle se jaarlikse gemiddelde reënval is 132 mm.)
Hy onthou nog die dae van die paraffienlampe en -yskaste. Hy het sy skoolwerk by kerslig gedoen. En in hul huis was ‘n goue reël: Jy maak nie ‘n yskas onnodig oop nie. Tewens, jy mog die yskas net oopmaak as almal in die omtrek gevra is of hulle ook iets daar wil uithaal. Anders het jy ‘n klap teen die kop gekry!
Charl sê sy pa vertel dat hulle in elk geval in hulle jong dae nie die nodigheid gehad het om bv. vleis in ‘n yskas te bêre nie. “Hy sê hulle het die slagding opgeëet voordat die vleis kans gehad het om oud te word!”
Waar is daai dae?