MAAK DOOD DIE WITMAN! SÊ SWART POLISIE

Hilda Fourie

PRETORIA. – “As die swart Messias (Nelson Mandela) doodgaan, sal ons die wittes ’n les leer. Ons sal volksmoord teen hulle pleeg: Ek haat wittes.” Dié woorde van ’n polisieman op Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, se Facebook-blad, het hom ’n interne ondersoek op die hals gehaal.
Kapt. Dennis Adriao, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig lt.genl. Khomotso Phahlane, hoof van die forensiese laboratoriumdienste en misdaadgeskiedenissentrum, het opdrag gegee dat ’n interne ondersoek teen Juda Dagane gedoen moet word.
Op sy Facebook-blad sê Dagane dat hy ’n forensiese analis en ondersoeker in die polisie is.
Volgens Adriao is Dagane ’n klerk in die polisie se forensiese departement in Gauteng. Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê hy is bly dat die polisie die saak ondersoek, want benewens dat dít wat Dagane op Facebook geskryf het haatspraak is, is dit ook teen die polisie se regulasies.
Dagane het op 19 November vanjaar op Malema se blad geskryf “swart apartheid” moet ingestel word, ’n volksmoord moet teen wittes gepleeg word en dat hy wittes haat.
“Wittes het geen plek in ons harte en gedagtes nie. Viva Malema!,” het Dagane geskryf.
In sy laaste inskrywing op sy muur op 7 Desember het Dagane geskryf: “Wie het gesê ’n polisieman kan nie polities wees nie?”
Burger het gesê luidens die polisie se regulasies mag enige polisielid aan ’n politieke party behoort. “Indien die lid hom op Facebook as ’n polisiebeampte geïdentifiseer het, is sy optrede teen die polisie se voorskrifte,” het Burger gesê.
“’n Polisiebeampte kan nie sulke uitsprake maak nie, want dit is duidelike haatspraak. Volgens die polisie se regulasies is ’n polisielid vry om aan enige party te behoort, maar hy mag nie ’n openbare amp in ’n politieke party beklee nie of enige openbare politieke uitsprake maak nie. Wanneer sulke uitsprake op Facebook gemaak word, is dit openbare uitsprake.”
Dagane het nie op navrae gereageer nie.

- Volksblad