MINISTER MOET PRAAT OOR HIDROLIESE BREKING

Een van die bevindings van die Noord-Transvaalse Hooggeregshof nadat die 'Treasure the Karoo-aksiegroep' (TKAG) ’n hofaansoek in dié verband ingedien het, is dat die inligting oor die taakspan wat hidroliese breking in Suid-Afrika moet ondersoek, bekend gemaak moet word. Susan Shabangu, die ANC minister van Minerale, moet glo volgens die hofbevel teen 31 Januarie die name en besonderhede van die lede van die taakspan bekend maak. Die hof het ook ’n kostebevel teen die minister gegee. As sy nie dié inligting bekend maak nie, moet sy verklarings indien oor hoekom sy die inligting weerhou. Indien sy besluit om die inligting te weerhou, kan die saak in ’n hof eindig waar ’n regter die finale besluit sal neem.

Aansoek
Die TKAG het verlede jaar ’n aansoek ingedien in ’n poging om die inligting, wat hy sedert April 2010 van die minister vra, te bekom. Die taakspan is aangestel nadat ’n moratorium op dié metode vir die ontginning van skaliegas afgekondig is. Hoewel die TKAG dié sukses behaal het, sal die groep nie ophou met sy pogings om dié mynbedrywighede in die Karoo te stuit nie. Hierdie stap beteken geensins die einde van die stryd om die Regering en oliemaatskappye te dwing om verantwoordelik op te tree nie.

Die oliereus Shell is tans baie stil oor sy planne vir hidroliese breking in die Karoo. Die TKAG is wel bekommerd oor die feit dat die maatskappy gronde kan hê om die staat oor die moratorium te daag.